Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet ek vir iemand vertel dat ek terneergedruk is?

Moet ek vir iemand vertel dat ek terneergedruk is?

Jongmense vra . . .

Moet ek vir iemand vertel dat ek terneergedruk is?

“Wanneer ek terneergedruk voel, verkies ek eers om nie daaroor te praat nie omdat mense dalk sal dink dat ek ’n probleemkind is. Maar dan besef ek dat ek met iemand moet praat sodat ek gehelp kan word.”—Alejandro, 13 jaar oud.

“Wanneer ek terneergedruk voel, wend ek my nie tot my vriende nie, want ek dink nie dat hulle my kan help nie. Hulle sal my net spot.”—Arturo, 13 jaar oud.

BYNA almal voel van tyd tot tyd terneergedruk. * Omdat jy egter jonk en betreklik onervare is, kan jy maklik oorweldig voel deur die druk van die lewe. Eise van jou ouers, vriende en onderwysers; die fisiese en emosionele veranderinge van puberteit of die gevoel dat jy ’n mislukking is weens die een of ander geringe tekortkoming—al hierdie dinge kan jou neerslagtig en droewig laat voel.

Wanneer dit gebeur, is dit goed om iemand te hê wat jy in jou vertroue kan neem. “Ek dink ek sou ontplof as ek nie met iemand oor my probleme kon praat nie”, sê die 17-jarige Beatriz. Maar ongelukkig praat baie jongmense nie oor hulle probleme nie—en vind hulle dikwels dat hulle dieper en dieper in wanhoop verval. María de Jesús Mardomingo, ’n professor aan die mediese fakulteit van Madrid, sê dat jongmense wat op die punt staan om selfmoord te pleeg dikwels uiters eensaam is. Baie jongmense wat selfmoordpogings oorleef het, het gesê dat hulle nie ’n enkele volwassene kon kry met wie hulle kon praat en wie hulle in hulle vertroue kon neem nie.

Wat van jou? Het jy iemand om mee te gesels wanneer jy mismoedig voel? Indien nie, tot wie kan jy jou wend?

Praat met jou ouers

Alejandro, wat aan die begin aangehaal is, beskryf wat hy doen wanneer hy terneergedruk voel: “Ek gaan na my ma, want van my geboorte af het sy my ondersteun, en sy gee my selfvertroue. Ek gaan ook na my pa omdat hy soortgelyke ervarings as ek gehad het. As ek ongelukkig voel en vir niemand vertel nie, dan voel ek nog erger.” Rodolfo, ’n 11-jarige, sê: “Die onderwyser het my partykeer verkleineer en uitgeskel, en dit het my baie sleg laat voel. Ek het dan in die kleedkamer gaan huil. Later het ek toe met my ma gepraat, en sy het my gehelp om my probleem op te los. As ek nie met haar gepraat het nie, sou ek slegter gevoel het.”

Het jy dit al oorweeg om openhartig met jou ouers te praat? Miskien voel jy dat hulle hoegenaamd nie jou probleme kan verstaan nie. Maar is dit werklik die geval? Hulle verstaan dalk nie al die druk waarvoor jongmense in vandag se wêreld te staan kom ten volle nie; maar is dit nie waar dat hulle jou waarskynlik beter ken as enigiemand anders in die wêreld nie? Alejandro sê: “Partykeer is dit nie maklik vir my ouers om met my te simpatiseer en om presies te verstaan hoe ek voel nie.” Hy erken nietemin: “Ek weet dat ek na hulle toe kan gaan.” Jongmense is baie keer verbaas om uit te vind presies hoe goed hulle ouers wel hulle probleme verstaan! Omdat hulle ouer is en meer ondervinding het, kan hulle dikwels nuttige raad gee—dit is veral waar as hulle weet hoe om Bybelbeginsels toe te pas.

“Wanneer ek met my ouers praat, kry ek aanmoediging en praktiese oplossings vir my probleme”, sê Beatriz, wat vroeër aangehaal is. Dit is dus met goeie rede dat die Bybel hierdie raad aan jongmense gee: “Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie. Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie.”—Spreuke 6:20; 23:22.

Dit is natuurlik moeilik om jou ouers in jou vertroue te neem as jy ’n swak verhouding met hulle het. Volgens dr. Catalina González Forteza het ’n studie wat onder hoërskoolleerlinge gedoen is, getoon dat diegene wat gesê het dat hulle hulle lewe probeer neem het ’n lae selfbeeld en ’n swak verhouding met hulle ouers gehad. Daarenteen is jongmense wat sulke selfvernietigende gedagtes vermy gewoonlik “diegene wat ’n goeie verhouding met hulle ma en pa geniet”.

Dit sal verstandig wees om ’n goeie verhouding met jou ouers te probeer aankweek. Maak ’n gewoonte daarvan om gereeld met hulle te gesels. Vertel vir hulle wat in jou lewe aangaan. Vra vir hulle vrae. Sulke terloopse gesprekke kan dit makliker maak om hulle te nader wanneer jy ’n ernstige probleem het.

Praat met ’n vriend

Maar sou dit nie makliker wees om met jou probleme na ’n portuur te gaan nie? Wel, dit is goed om vriende te hê op wie jy kan vertrou. Spreuke 18:24 sê “daar is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer”. Maar hoewel portuurs met jou kan simpatiseer en jou kan ondersteun, gee hulle dalk nie altyd die beste raad nie. Hulle het per slot van rekening gewoonlik nie meer lewensondervinding as jy nie. Onthou jy Rehabeam? Hy was ’n koning in Bybeltye. Pleks van na die raad van ervare, ryp manne te luister, het hy na sy portuurs geluister. Die gevolg? Rampspoed! Rehabeam het die ondersteuning van die meeste in sy nasie sowel as God se goedkeuring verloor.—1 Konings 12:8-19.

Nog iets wat ’n probleem kan wees as jy jou portuurs in jou vertroue neem, is die kwessie van vertroulikheid. Arturo, wat aan die begin aangehaal is, sê: “Die meeste outjies wat ek ken, praat met hulle vriende wanneer hulle sleg voel. Maar later vertel hulle vriende alles vir ander en dryf hulle dan die spot met hulle.” Die 13-jarige Gabriela het ’n soortgelyke ondervinding gehad. Sy sê: “Eendag het ek uitgevind dat my vriendin my persoonlike sake vir een van haar vriendinne oorvertel het, daarom het ek haar nie meer in my vertroue geneem nie. Ja, ek praat wel met kinders van my ouderdom, maar ek probeer om nie vir hulle dinge te vertel wat ’n negatiewe uitwerking op my sal hê as hulle dit vir ander sou oorvertel nie.” Wanneer jy dus hulp nodig het, is dit belangrik om iemand te kry wat nie ‘’n ander se geheim openbaar nie’ (Spreuke 25:9). So ’n persoon is heel waarskynlik iemand wat ouer is as jy.

As jy dus om die een of ander rede nie ondersteuning by die huis kry nie, is dit in die haak om ’n vriend in jou vertroue te neem, maar maak seker dat hy of sy lewensondervinding en ’n kennis van Bybelbeginsels het. In die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies is daar ongetwyfeld mense wat aan hierdie beskrywing voldoen. Die 16-jarige Liliana sê: “Ek het party van my Christensusters in my vertroue geneem, en dit het nogal baie gehelp. Hulle raad is betroubaar, want hulle is ouer as ek. Hulle het my vriendinne geword.”

Gestel jou geestelikheid het ook daaronder begin ly? Miskien was jy so hartseer dat jy gebed of Bybellees begin verwaarloos het. In Jakobus 5:14, 15 gee die Bybel hierdie raad: “Is iemand onder julle siek? Laat hom die ouer manne van die gemeente na hom toe roep, en laat hulle oor hom bid en hom in die naam van Jehovah met olie salf. En die gebed van geloof sal die een wat ongesteld is gesond maak, en Jehovah sal hom oprig.” Die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies het ouer manne wat ondervinding het om mense te help wat mismoedig of geestelik siek is. Praat gerus met hulle. Die Bybel sê dat sulke manne “soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën” kan wees.—Jesaja 32:2.

“Laat julle versoeke . . . by God bekend word”

Die heel beste bron van hulp is egter “die God van alle vertroosting” (2 Korintiërs 1:3). Wanneer jy hartseer en terneergedruk voel, moet jy die raad van Filippense 4:6, 7 volg: “Moet oor niks besorg wees nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.” Jehovah is altyd bereid om na jou te luister (Psalm 46:2; 77:1, NW). En soms is gebed al wat jy nodig het om jou verstand gerus te stel.

As jy van tyd tot tyd hartseer of terneergedruk voel, moet jy nooit vergeet dat baie ander jongmense dieselfde gevoelens gehad het nie. Mettertyd sal daardie gevoelens gewoonlik weggaan. Maar intussen moet jy nie alleen ly nie. Sê vir iemand dat jy seerkry. Spreuke 12:25 sê: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer, maar ’n vriendelike woord vrolik dit op.” Hoe kry jy daardie “vriendelike woord” van aanmoediging? Deur iemand te vertel—iemand met die ondervinding, kennis en goddelike wysheid om jou die vertroosting en die hulp te gee wat jy nodig het.

[Voetnoot]

^ par. 5 As negatiewe gevoelens voortduur, kan dit ’n ernstige emosionele of fisiese steurnis aandui. Dit sal raadsaam wees om dadelik mediese aandag te kry. Sien die artikel “Wen die stryd teen depressie” in ons medetydskrif, Die Wagtoring, se nommer van 1 Maart 1990.

[Lokteks op bladsy 14]

“Wanneer ek met my ouers praat, kry ek aanmoediging en praktiese oplossings vir my probleme”

[Prent op bladsy 15]

Godvresende ouers, pleks van jou portuurs, is gewoonlik in die beste posisie om vir jou raad te gee