Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Is ’n tweede opinie belangrik?

“Wanneer dit by tweede opinies in die geneeskunde kom, is te veel van ons eenvoudig te beleef. Maar hierdie gebrek aan vrymoedigheid kan pasiënte hulle lewe kos”, sê The News van Mexikostad. Pasiënte is dikwels bang dat hulle dokter beledig sal voel as hulle ’n tweede opinie wil kry. Maar “die meeste dokters gee nie om as pasiënte daarvoor vra nie”, sê die koerant. “As jou dokter omgee, kan dit moeilikheid voorspel.” Vandag beskou dokters sowel as versekeringsmaatskappye tweede opinies as ’n goeie manier om te verseker dat pasiënte die beste behandeling kry. Dr. Michael Andrews, voorsitter van Georgia se Vereniging van Kliniese Gewaskunde, sê dat hy sy pasiënte aanspoor om ’n tweede opinie te kry omdat hulle dikwels met groter vertroue in sy aanbevelings na hom toe terugkom. Die direkteur van ’n openbare gesondheidsgroep het gesê: “Pasiënte moet onthou dat dit hulle is wat die risiko loop.”

Gevaarlike vriende

Die moontlikheid dat tienderjarige motorbestuurders ’n noodlottige ongeluk sal hê, is baie groter as daar passasiers in die motor is, volgens ’n studie waaroor daar in The Journal of the American Medical Association verslag gedoen is. Navorsers by die Johns Hopkins-universiteit, Maryland, VSA, het gevind dat die risiko dat ’n 16-jarige bestuurder sal verongeluk met 39 persent toegeneem het met een passasier, 86 persent met twee passasiers en 282 persent met drie of meer passasiers. Die vernaamste rede wat die studie aangee, is “gevaarlike bestuursgewoontes . . . , wat grootliks beïnvloed word deur die teenwoordigheid van portuurs”. Sulke gevaarlike gedrag sluit die volgende in: hulle oorskry die spoedbeperking, ry te naby aan die voertuig voor hulle, ry deur rooi verkeersligte, bestuur onder die invloed van dwelms of alkohol en hulle aandag word deur passasiers afgelei wat gekskeer.

“Ouer en wyser”

Navorsers het ontdek dat dele van die brein nuwe selle kan voortbring namate mense ouer word, berig The Times van Londen. Daar is voorheen gedink dat volwassenes se breinselle nie reproduseer nie. “Die geheim om groei aan te moedig, is om die verstand aktief te hou”, sê The Times. ’n Onlangse studie van mense oor die ouderdom van 65 het gevind dat opvoeding en interaksie met ander mense blykbaar nuwe groei in breinselle en hulle verbindings aanmoedig. Die navorsers het gevind dat omgang met ander mense “gesondheid, lewensverwagting en lewensgehalte” verbeter het. Die neurowetenskaplike Susan Greenfield sê: “Hoe meer ondervinding jy het, hoe meer verbindings het jy. Mense word dus ouer en wyser.”

Noordelike seeroete

Dit was die sestiende-eeuse speseryhandelaar Robert Thorne se droom om ’n seeroete van Europa na die Verre Ooste via die Noordpool te vind. Vandag het Thorne se droom ’n werklikheid geword, danksy aardverwarming, berig The Times van Londen. Die waters langs die Russiese en Oos-Siberiese kus is nou gedurende die somermaande amper heeltemal ysvry, wat vragskepe in staat stel om van die Noordsee, om die Noordpoolsirkel en tot in die Stille Oseaan deur die Beringstraat te vaar. Wanneer die roete toegevries is, moet skepe van Europa die Suezkanaal gebruik, om die suidelike punt van Afrika gaan of deur die Panamakanaal vaar om die Verre Ooste te bereik. Dit hou aansienlike ekonomiese voordele in om die noordelike seeroete te gebruik. Dit halveer feitlik die afstand tussen Hamburg, Duitsland en Jokohama, Japan—na minder as 13 000 kilometer.

Probleme met bloedtoetse

“Meer as die helfte van die wêreld se lande doen nie volledige toetse op skenkerbloed nie, wat die gevaar vergroot om vigs en ander siektes te versprei”, sê ’n verslag van Associated Press. Hierdie verslag, wat gebaseer is op inligting van die Wêreldgesondheidsorganisasie, sê ook dat “5 tot 10 persent van mense met die vigs-virus na raming deur bloedoortappings besmet is”. Maar vigs is net een van die siektes wat so oorgedra word. Elke jaar word 8 tot 16 miljoen mense met hepatitis B en 2 tot 4 miljoen met hepatitis C besmet deur oortappings en die onveilige gebruik van naalde. Een rede wat aangegee word waarom bloed nie behoorlik getoets word nie, is dat dit duur is. Dit kos tussen R280 en R350 per eenheid om vir hierdie smetstowwe te toets. Hierdie toetse is nietemin “nie altyd betroubaar nie, veral as dit deur mense gedoen word wat nie behoorlik opgelei is nie of nie met die regte toerusting gedoen word nie”, sê die verslag.

Kindermolestering in Indië

’n Kind raak elke tien minute in Indië by prostitusie betrokke, berig The New Indian Express. Dit beteken dat ongeveer 50 000 Indiese kinders elke jaar gedwing word om ’n deel van die sekshandel te word. In die staat Kerala het ’n seminaar oor die seksuele molestering van kinders oor nog ’n skokkende bevinding verslag gelewer. Dokters daar is “huiwerig om gevalle van verkragting te ondersoek omdat hulle nie daarvoor opgelei is nie, en hulle wil ook nie betrokke raak nie”, sê die koerant. In sommige gevalle dra ouers selfs tot die probleem by. Die superintendent van Central Vigilance, Sreelekha, sê: “Ouers is huiwerig om gevalle van [verkragting] aan te meld weens die moontlike sosiale stigma en verwerping.”

Die gesondste om saam as gesin te eet

Een van die beste maniere waarop ouers kan verseker dat hulle kinders gesond bly, is om aandete saam met hulle te eet, sê die koerant die Globe and Mail. Volgens dr. Matthew Gillman van die Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit “bevat etes wat saam met die gesin geëet word gesonder kos as wat kinders en adolessente andersins sou eet”. Die moontlikheid is groter dat kinders wat saam met die gesin eet die aanbevole porsies vrugte en groente sal eet en sodoende die nodige vitamiene en minerale sal inneem en minder suiker en vet sal eet. Wanneer gesinne aandete saam eet, het die navorsers ook gevind dat dit gesprekke oor gesonde eetgewoontes aanmoedig en beter eetgewoontes by kinders inskerp—gewoontes wat hulle saam met hulle sal neem wanneer hulle nie by die huis eet nie. Die nuwe studie, wat gegrond is op ’n voortgesette navorsingsprojek waarby ongeveer 16 000 kinders tussen die ouderdomme van 9 en 14 betrokke is, het gevind dat “slegs twee uit vyf kinders van skoolgaande ouderdom op die meeste dae aandete saam met hulle ouers eet, en een uit vyf doen dit nooit nie”, sê die Globe.

Meesterwewers

“Spinnekopsy is een van die sterkste materiale op aarde”, sê die tydskrif New Scientist. Elke vesel kan van twee tot vier keer sy lengte rek voordat dit breek en is so sterk dat daar al gesê is dat ’n sydraad so dik soos ’n potlood ’n vlieënde makrostraler sal kan stop. Navorsers probeer die geheime van die spinnekop se weefwerk ontrafel sodat hulle dit in verskeie industrieë kan gebruik. Tans word koeëlvaste hemde byvoorbeeld gewoonlik van Kevlar gemaak, ’n sintetiese stof wat gemaak word van “gekonsentreerde swawelsuur wat tot net onder kookpunt verhit word”, sê die tydskrif. Maar terwyl die neweprodukte van die vervaardiging van Kevlar giftig is en moeilik is om van ontslae te raak, weef spinnekoppe sy van “proteïen en doodgewone water, en teen ’n suurheidsgraad en temperatuur wat ooreenstem met dié van die mens se mond”. Daarbenewens word hierdie mengsel van water en proteïen tot ’n vesel geweef wat nie deur reën weggewas word nie. Gevolglik sê New Scientist: “Ondanks jare van studie is spinnekopsy nog steeds ’n raaisel.”

Besoedeling in die huis

“Die moontlikheid dat die binnekant van jou huis besoedel is, is tien keer groter as die moontlikheid dat jou tuin besoedel is”, sê The Times van Londen. ’n Studie van 174 Britse huise wat deur die Stigting vir Bounavorsing gedoen is, het getoon dat vlakke van formaldehieddampe, wat vrygestel word deur meubels wat spaanderbord en ander sintetiese stowwe bevat, tien keer hoër binnenshuis as buitenshuis is. Twaalf van die huise wat geïnspekteer is, het nie aan die Wêreldgesondheidsorganisasie se standaarde vir luggehalte voldoen nie. Sintetiese meubels, vinielvloere, bou- en versiermateriaal, chemiese skoonmaakmiddels of verhittings- en kooktoebehore kan koolstofmonoksied, stikstofdioksied, benseendampe of vlugtige organiese verbindings vrystel. Benseendampe, ’n bekende kankerverwekkende stof, is ’n komponent van sproeiskoonmaakmiddels en tabakrook, nog ’n vername binnenshuise besoedelstof. Charlotte Gann, redaktrise van die tydskrif Health Which?, sê dat baie mense 80 tot 90 persent van hulle tyd binnenshuis deurbring. Sy stel voor dat ’n mens “minder chemiese produkte gebruik, ’n paar vensters oopmaak en gastoestelle nagaan” om binnenshuise luggehalte te verbeter.