Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons verduur beproewinge in die krag van God

Ons verduur beproewinge in die krag van God

Ons verduur beproewinge in die krag van God

SOOS VERTEL DEUR STEPAN KOZJEMBA

Een nag vroeg in April 1951 het vragmotors vol Sowjettroepe ons Oekraïense dorpie Stenjatin binnegery. Gewapende soldate het voorafbepaalde huise omsingel en hele gesinne van Jehovah se Getuies weggeneem en hulle na Siberië vervoer. As ’n ontvanklike 12-jarige het ek gewonder waarom hulle so behandel is en hoe hulle sulke lyding kon verduur.

EK IS in Oktober 1938 in die dorpie Stenjatin gebore. My ma is twee weke ná my geboorte oorlede, en my pa is in 1944 dood terwyl hy in die Sowjetleër teen Duitsland geveg het. My pa se susters, Olena en Anna, het my ingeneem en my grootgemaak.

As ’n seun het ek ’n hele paar Getuies van Jehovah in ons dorpie geken. Hulle het met my en met ander oor die Messiaanse Koninkryk gepraat wanneer die geleentheid hom voorgedoen het. Ek het mettertyd vriende gemaak met party van die jong Getuies. Toe Sowjettroepe hulle geneem en na Siberië gedeporteer het, was ek heeltemal uit die veld geslaan.

Maar nie alle Getuies is verban nie. Stepan, ’n Getuie wat naby ons huis gewoon het, is toegelaat om te bly, aangesien sy gesin nie Getuies was nie. Hy was ses jaar ouer as ek, en toe ek die skool verlaat het, het ek saam met hom as ’n timmerman gewerk. Hy het enige beskikbare nommer van Die Wagtoring gebruik om die Bybel met my te studeer. Stepan, wat die ware God, Jehovah, nou in Estland dien, was verheug toe ek in Julie 1956 gedoop is.

Teenstand was ’n deel van die lewe vir enige kneg van Jehovah in die Oekraïne. Die owerheid het huise vir Bybellektuur deursoek, en daarom het ek verskeie wegsteekplekke gehad. My tannies, Olena en Anna, wat Grieks-Katolieke was, het nie my assosiasie met die Getuies goedgekeur nie. Hulle het my selfs probeer beïnvloed om nie meer met die Getuies om te gaan nie. Net soos die apostel Paulus, het ek soms gevoel dat ek ‘onder uiterste druk bo my krag’ was. Maar my verhouding met Jehovah God het my versterk om elke beproewing te verduur.—2 Korintiërs 1:8; Filippense 4:13.

My stryd om neutraal te bly

Militêre diens in die Sowjetleër was verpligtend vir jong mans van 18-jarige ouderdom. Weens my Bybelkennis was ek vasbeslote om neutraal te bly teenoor die aangeleenthede van die wêreld, wat beteken het dat ek geweier het om by die Sowjetleër aan te sluit (Jesaja 2:4; Johannes 17:14-16). Olena en Anna het my aangemoedig om ’n soldaat te word, selfs al is hulle eie broer, my pa, in die oorlog doodgemaak.

Nadat ek my oproepinstruksies ontvang het, het ek na die militêre hoofkwartier in ons gebied gegaan en my standpunt verduidelik. Ek is onmiddellik in hegtenis geneem en toe in aanhouding geplaas terwyl aanklagte teen my ingedien is. Die verhoor was nie oop vir die publiek nie; nie eers my tannies is van die datum in kennis gestel nie. Ek het ’n deeglike getuienis vir die regter, die aanklaer en die twee jurielede gegee. Ná 20 minute was alles verby. My vonnis—vyf jaar in aanhouding sowel as ’n verdere vyf jaar waartydens ek party burgerregte sou verloor.

Ek dien my vonnis uit

Ná die verhoor is ek in die gevangenis in Lviv gesit. Die drie maande vandat ek gearresteer is en totdat ek na die strafkamp oorgeplaas is, het ek geen Christelike omgang, geen Bybel en geen Bybellektuur gehad nie. Ek het egter geestelik bedrywig gebly deur vir medegevangenes te getuig wat dit moeilik gevind het om te verstaan waarom ek geweier het om in die leër te dien. Gedurende daardie maande het ek staatgemaak op die persoonlike studie wat ek gedoen het voordat ek gevange geneem is. Dié ondervinding het my ’n waardevolle les geleer: Persoonlike Bybelstudie help ons om ’n geestelike reserwe op te bou wat ons onderskraag wanneer beproewinge ontstaan.—Johannes 14:26.

Ek is in April 1958 na strafkamp 21 naby Dnjepropetrowsk, meer as 700 kilometer van die huis af, verplaas om die res van my vonnis uit te dien. Daar het ons om 6:00 vm. opgestaan en is ons ná ontbyt op vragmotors gelaai en ongeveer 50 kilometer na ons werksplek buite die kamp geneem. Ons het agt uur op ’n konstruksieterrein gewerk, en dan het ons vir die nag na die kamp teruggekeer.

Ons slaapplek was barakke wat elk ongeveer honderd gevangenes gehuisves het. Kos was skaars, en lewenstoestande eenvoudig; maar ten minste was daar twee ander Getuies saam met my in die barak. Elkeen van ons het ’n doelbewuste poging aangewend om die ander twee aan te moedig. Dit is nog ’n manier waarop Jehovah aan sy knegte in benoudheid krag voorsien—deur die kameraadskap van medegelowiges.—2 Korintiërs 7:6.

Daar was altesaam 12 Getuies in die kamp. Party van hulle het familielede aan die buitekant gehad wat bladsye van Die Wagtoring, wat in kospakkies versteek was, na ons ingesmokkel het. Voordat die meeste pakkies vir ons gegee is, het die wagte dit oopgemaak en gekyk wat daarin was. Maar sodat die wagte nie die bladsye van Die Wagtoring sou vind nie, is dit in plastiek toegedraai en versteek in konfytblikke, wat hulle nie eers die moeite gedoen het om oop te maak nie. Wanneer ons die artikels ontvang het, het ons dit met die hand oorgeskryf en onder ons verdeel.

Ons het ook ons bes gedoen om van God se Koninkryk te getuig, en Jehovah het ons pogings geseën. Ek het byvoorbeeld ’n gevangene met die naam Sergei leer ken wat as ’n rekenmeester by ’n staatsonderneming in die ooste van die Oekraïne gewerk het. Toe bedrog by sy werksplek ontdek is, is hy verantwoordelik gehou en tien jaar gevangenisstraf opgelê. Verskeie Getuies in die gevangenis het met hom studeer deur enige beskikbare tydskrifte te gebruik. Sergei het gereageer en uiteindelik vir my gesê: “Wanneer ek uit hierdie kamp vrygelaat word, wil ek as ’n Getuie van Jehovah gedoop word!” Sergei was getrou aan sy woord en is kort ná sy vrylating gedoop, en hy het Jehovah tot en met sy dood getrou gedien.

Verwarring oor Romeine hoofstuk 13

Ek is in Januarie 1963 uit aanhouding vrygelaat en het na my tuisdorpie, Stenjatin, teruggekeer. Ek het byna onmiddellik besef dat iets in die plaaslike gemeente in Sokal verkeerd was. Die atmosfeer onder die broers was gespanne. Wat was die probleem? Wat het tot hierdie situasie van onsekerheid gelei?

Die Sowjetowerheid het jare lank probeer om onenigheid onder Jehovah se volk te saai deur broers vir ondervraging op te laai en vir hulle te sê dat die Getuies gebruik word om die Verenigde State van Amerika se belange te bevorder. Die amptenare het aanbeveel dat Getuies in die Sowjetunie hulle eie aparte organisasie vorm en bygevoeg dat hulle dan vreedsame verhoudinge met die Staat kon geniet en alleen gelaat sou word om hulle geloof sonder vervolging te beoefen. Die amptenare het dit alles aanloklik laat klink.

Toe is daar in The Watchtower van 15 November 1962, wat later in die Oekraïense uitgawe van 1 Julie 1964 verskyn het, ’n nuwe begrip van Romeine hoofstuk 13 gegee. Tot en met daardie tyd het ons verstaan dat “die hoër owerhede”, wat in vers 1 gemeld word, Jehovah God en Jesus Christus was, maar Die Wagtoring het daarop gewys dat “die hoër owerhede” eintlik die aardse regerings verteenwoordig en dat hulle “deur God in hulle relatiewe posisies geplaas” is.—Romeine 13:1.

Sommige Getuies het dit moeilik gevind om hierdie gewysigde begrip te glo, aangesien leiers van die aardse regering in die Sowjetunie so wreed in hulle pogings was om die ware aanbidding van God uit te wis. Hierdie Getuies het derhalwe gedink dat Die Wagtoring wat die nuwe begrip bevat het nie van die amptelike organisasie van Jehovah se Getuies gekom het nie. In plaas daarvan het hulle gedink dat die inligting deur diegene versin is wat ’n ooreenkoms met die owerheid aangegaan het om die Getuies gehoorsamer aan die Sowjetstaat te maak.

Elke kneg van Jehovah in die Oekraïne het dus voor die vraag te staan gekom: Watter groep is reg, en watter een is verkeerd? Ek het gesien dat die Getuies albei kante van die argument ondersteun en my afgevra: ‘Wat is hulle beweegredes?’ Ek kon gou ’n duidelike verskil tussen die twee kante sien.

Die meerderheid van Jehovah se Getuies, party wat die nuwe verduideliking van Romeine hoofstuk 13 dalk nie ten volle verstaan het nie, wou lojaal aan Jehovah en sy organisasie bly. Ander het egter begin twyfel of onlangse publikasies van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap nog steeds van die amptelike organisasie van Jehovah se Getuies gekom het. Hierdie persone was ook geneig om uiterste beskouings oor ’n aantal dinge te hê. Hulle het byvoorbeeld gevoel dat dit verkeerd is vir ’n bruid om ’n wit rok by haar troue te dra en vir huweliksmaats om ’n trouring te dra. ’n Aantal mense het die organisasie verlaat. Mettertyd het ’n hele paar egter hulle fout besef en teruggekeer om Jehovah te dien.

Ondergrondse bedrywigheid

Hoewel ons Christelike bedrywighede verbied was, het ons, wanneer dit ook al moontlik was, ons weeklikse vergaderinge in groepies van 10 tot 15 gehou. Ons het geestelike krag uit ons vergaderinge geput, beide uit ons Bybelstudie en ook uit ons assosiasie ná die studie. Ons het oor ons ondervindinge gesels, en dit het ons gehelp om te besef dat elkeen van ons in dieselfde stryd gewikkel was. Ons het ter harte geneem wat die apostel Petrus geskryf het: “Dieselfde dinge [word] in die vorm van lyding in die hele gemeenskap van julle broers in die wêreld veroorsaak.”—1 Petrus 5:9.

Artikels in Die Wagtoring het die grondslag vir ons besprekings gevorm. Hoe het die tydskrifte ons bereik? Getuies wat as koeriers gedien het, het mikrofilms oor die grens na die Oekraïne gebring. Hierdie films is van een Getuie tot die volgende op ’n voorafbepaalde roete gestuur. Elkeen het dan genoeg afdrukke vir sy gemeente gemaak. Soms het ek sulke afdrukke gemaak. Ek het die hele dag gewerk en saans in Jehovah se diens besig gebly deur tydskrifte te druk en ander dinge te doen. Dit was ’n uitdaging om by die rooster by te bly, maar dié van ons wat verantwoordelikhede in die organisasie gehad het, het geleer dat Jehovah ‘die vermoeide krag gee’.—Jesaja 40:29.

Ons het geleenthede geskep om met mense wat ons ontmoet het oor die Bybel te praat. Baie van ons het dit gedoen terwyl ons van openbare vervoer gebruik gemaak het. Een algemene manier om ’n gesprek te begin, was om eenvoudig die koerant te lees en dan terloops die jongste nuus aan ’n medepassasier te noem. Sodra ’n gesprek begin is, het ons dan oor ’n Bybelonderwerp begin praat. Ons het die goeie nuus op hierdie manier in ons gebied versprei.

’n Deugsame vrou

In 1965 is ek met Tamara getroud wat as ’n kneg van die ware God grootgemaak is en wat geweet het wat dit beteken om onder beproewing standvastig in haar geloof te bly. Haar broer Sergei is gearresteer en drie keer vir sy bedrywighede as ’n Getuie verhoor. Die laaste keer is eksemplare van Die Wagtoring in sy besit gekry en is hy tien jaar gevangenisstraf opgelê. Tamara is self ook deur die owerheid na hulle hoofkwartier geneem vir ondervraging en met tronkstraf gedreig.

Ná ons troue was dit moeilik om ’n blyplek te kry, maar ’n gesin wat in Sokal gebly het en wat vriendelik teenoor die Getuies was, het ons ’n kamertjie in hulle huis teen ’n lae prys aangebied. Hierdie gesin het ons verseker dat Tamara in die kamer kon aanbly al sou ek weer gearresteer en in die tronk gesit word. Ek en my vrou was dankbaar teenoor Jehovah vir sy seën en teenoor die gesin vir hulle goedhartigheid. Later, toe iemand in die gesin gesterf het, het Tamara die geleentheid gebruik om die opstandingshoop aan die dogter, Galina, te verduidelik. Die saadjies van Bybelwaarheid het vrugte afgewerp, en Galina het ons Skepper leer liefkry. Sy is gedoop en dien Jehovah nou saam met haar man.

Ek het die meeste naweke in die 1970’s na verskillende dele van die Oekraïne gereis, sowel as na Moldowa en die Karpatiese gebergte en diegene ontmoet en aangemoedig wat die leiding in Jehovah se organisasie geneem het. Gewoonlik het ek Vrydagaand vertrek en Sondag laat by die huis gekom. Tamara het selde geweet waarheen ek gaan en was soms nie eers seker of ek sou terugkom nie. Hierdie situasie het jare lank voortgeduur. Ek kan net bevestig wat die Bybel oor ’n deugsame vrou sê: “Haar waarde is ver bo korale.”—Spreuke 31:10.

Gedurende daardie dae het enige bedrywigheid as een van Jehovah se Getuies ’n mate van risiko behels. Ons was in staat om voort te gaan slegs met die krag wat Jehovah voorsien. Ek het verskeie kere voor moeilike situasies te staan gekom en nie geweet wat om te doen nie. Ek het dan stil gebid en op Jehovah vir krag vertrou. Om dit te doen, het ons lewenswyse geword.—Handelinge 4:29.

Meer onlangse tye

Met die verloop van tyd het die lewe makliker geword vir knegte van Jehovah in die Oekraïne. Vervolging het afgeneem, en tronkstrawwe is met boetes vervang. In die 1980’s het die owerheid begin besef dat Jehovah se Getuies werklik ’n internasionale organisasie is. Die Staat het dus sy reputasie in die buiteland geskend deur die Getuies in die Oekraïne en elders in die Sowjetunie gevange te neem. Ek onthou dat een amptenaar wat my ondervra het vir my vertel het: “Ons besef nou dat godsdiens nie skadelik hoef te wees nie. Ons grootste kommer is dat ’n godsdiensgroep skadelik vir die Staat sal wees.”

Teen die einde van die 1980’s het die Ystergordyn in Oos-Europa begin oopgaan, en sedertdien het ons toenemende vryheid in die Oekraïne geniet. In 1991 is ons predikingswerk wetlik erken. In September 1998 het die Wagtoringgenootskap ’n takkantoor in Lviv opgerig. Vroeg in 1999 het bouwerk aan ’n nuwe takkantoor begin wat meer as 170 werkers sal huisves. Ons het nou in die Oekraïne meer as 112 000 wat aan die predikingswerk deelneem, en meer as 250 000 het die Gedenkmaal in 2000 bygewoon. Die aantal jongmense in ons midde is baie opvallend. By ’n streekbyeenkoms in Kiëf in 1991 het ’n joernalis my gevra:

“Waar het al hierdie mense vandaan gekom? Ek het gedink dat daar geen Getuies in die Sowjetunie is nie, en skielik is daar duisende!”

“Ons het nie skielik, oornag verskyn nie”, het ek vir haar gesê. “Ons dien Jehovah al baie jare lank hier.”

“Hoe trek julle soveel jongmense na julle godsdiens aan?” wou sy weet.

“Dis beter as jy vir die jonges self vra. Laat hulle jou vertel waarom hulle Jehovah wil dien.”

“Ek het dit alreeds gedoen”, het die joernalis gesê. “Hulle het my vertel dat hulle dit geniet.”

“Dan is dit die rede”, het ek bygevoeg. “As dit is wat ons jongmense sê, dan is dit die rede.”

Jongmense is nie die enigstes wat dit geniet om Jehovah te dien nie. Ek en Tamara dien hom altesaam meer as 80 jaar, en ons sal nie ons geloof vir enigiets wil verruil nie. Al is ons Jehovah se Getuies, het ons nog steeds probleme. Ons besef dat almal voor probleme te staan sal kom solank as wat hierdie stelsel bestaan. Maar ons is beter toegerus om probleme die hoof te bied as enige ander groep mense in die wêreld. Soos in die verlede bly ons vasbeslote om hierdie beproewinge te verduur in die krag van ons almagtige God, Jehovah. Ons voel soos Moses toe hy die oorwinningslied gesing het: “Jah is my sterkte en my mag, want hy dien my tot redding.”—Exodus 15:2NW.

[Prent op bladsy 22]

Saam met mede-Getuies in strafkamp 21

[Prent op bladsy 22]

’n Mikrofilm van ’n Oekraïense “Wagtoring” (werklike grootte)

[Prent op bladsy 23]

Saam met my vrou, Tamara

[Prent op bladsy 24, 25]

’n Kunstenaar se weergawe van die nuwe takkantoorkompleks in Lviv wat tans gebou word

[Prente op bladsy 25]

Waarom word Jehovah deur so baie jongmense in die Oekraïne gedien?