Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Pogings om die Vatikaan uit die VN te sit

Pogings om die Vatikaan uit die VN te sit

Pogings om die Vatikaan uit die VN te sit

DIE nuusagentskap Inter Press Service (IPS), met hulle hoofkantoor in Rome, het berig dat “’n internasionale koalisie van meer as 70 nieregeringsorganisasies (NRO’s) ’n wêreldwye kampanje van stapel gestuur het om die Vatikaan uit die Verenigde Nasies te sit”. Tans is die Vatikaan ’n permanente waarnemer, of nielidstaat, in die VN-organisasie. Die Vatikaan het hierdie status sedert 1964.

Waarom teken hierdie groep NRO’s, wat teen die einde van April verlede jaar wêreldwyd tot 100 organisasies toegeneem het, beswaar aan teen die Vatikaan se posisie in die VN? Omdat die Vatikaan, voer die NRO’s aan, ’n godsdienstige gesag en nie ’n politieke staat is nie. Frances Kissling, voorsitter van Katolieke vir ’n Vrye Keuse, het vir die IPS gesê dat die koalisie nie die Vatikaan se reg teëstaan om sy beskouing uit te spreek nie, maar “wat wel bevraagteken word, is die reg van hierdie niestaat om ’n posisie saam met regerings in te neem”.

Anika Rahman, direktrise van Internasionale Programme by die Sentrum vir Voortplantingswette en -beleide, stem saam. Die IPS het haar woorde soos volg aangehaal: “As die VN die Heilige Stoel soos ’n staat behandel wat weens sy godsdienstige gesag die voorregte van ’n permanente waarnemer geniet, skep die wêreldliggaam ’n presedent vir ander godsdienste om soortgelyke aansprake te maak.” Sy het bygevoeg: “Om te verseker dat die Verenigde Nasies nie enige spesifieke godsdiens voortrek nie, moet godsdienste soos die Rooms-Katolieke Kerk nie toegelaat word om as ’n nielidstaat aan hierdie forum deel te neem nie.”

Maar wat van die argument dat die Vatikaan ’n staat is en derhalwe op sy huidige status geregtig is? “Dit is dubbelsinnig en misleidend”, het me. Kissling in ’n onderhoud gesê. “Ons sê dat dit in werklikheid ’n 15de-eeuse definisie van ’n staat is en dat die Heilige Stoel eintlik die bestuursliggaam van die godsdiens is.” Sy het bygevoeg dat die woorde “Vatikaan” en “die Heilige Stoel” albei “sinonieme van die Rooms-Katolieke Kerk” is.

’n Belangrike rede waarom die NRO’s so gekant is teen die Vatikaan se huidige posisie in die VN is die Vatikaan se standpunt oor bevolkingskwessies. Die Vatikaan het byvoorbeeld VN-konferensies, soos die Internasionale Konferensie oor Bevolking en Ontwikkeling van 1994, in Kaïro, en die Vrouekonferensie van 1995, in Beijing, gebruik om sy sterk standpunt teen gesinsbeplanning uit te spreek. “Aangesien die VN die meeste van sy besluite neem slegs wanneer eenstemmigheid bereik is”, sê die IPS, “het afwykende menings soos dié van die Vatikaan onderhandelinge oor kwessies in verband met bevolking, geboortebeperking, vroueregte en voortplantingsverwante gesondheidsorg ontspoor.”

Volgens me. Kissling “behoort die Vatikaan die rol van ’n NRO te speel—net soos al die ander NRO’s wat die Moslems, Hindoes, Boeddhiste, Bahaïs en ander godsdiensorganisasies verteenwoordig”. Die koalisie wil hê dat die VN se sekretaris-generaal, Kofi Annan, en uiteindelik die VN se Algemene Vergadering die posisie wat die Vatikaan in die wêreld se grootste politieke liggaam beklee amptelik moet hersien.

[Prente op bladsy 31]

’n Vatikaanamptenaar spreek die VN toe

[Erkennings]

UN/DPI Photo by Sophie Paris

UN photo 143-936/J. Isaac