Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Toe die berg ’n deel van die see probeer word het

Toe die berg ’n deel van die see probeer word het

Toe die berg ’n deel van die see probeer word het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN VENEZUELA

TUSSEN Venezuela se hoofstad, Caracas, en die see staan El Ávila, ’n 2 000 meter hoë berg. Aan die noordekant is ’n smal, dig bewoonde kusstrook. Venezuela se vernaamste lughawe is daar, en om van die lughawe af by Caracas uit te kom, moet toeriste deur ’n tonnel ry wat regdeur die berg loop.

Ná stortreëns verlede Desember was El Álvila heeltemal deurweek. Dit het gelyk of sy sye oopgebars het terwyl tienduisende kubieke meter water uit die berg gevloei het. Soos een persoon dit gestel het, het dit gelyk of die berg ’n deel van die see probeer word. Huise—van pondokke tot villas—is deur ’n massa water, modder, rotse en bome verswelg. Beddens, yskaste, televisies en selfs mense is meegesleur. ’n Bejaarde man het gesê dat hy gedink het dit was die einde van die wêreld.

Met verloop van tyd het dit opgehou reën, en die vloedwater het begin sak. Volgens een skatting het ongeveer 50 000 mense moontlik omgekom, en 400 000 is dakloos gelaat. Dit is tereg “die ergste natuurramp in Venezuela se geskiedenis” genoem.

Noue ontkomings

Op 15 Desember is Juan Carlos Lorenzo en sy vader tussen twee geswolle riviere vasgekeer. Hulle het hulle voertuig verlaat en by 35 mense in ’n gebou aangesluit. Maar die water het kort voor lank begin instroom en vinnig gestyg. Almal kon tot op die dak kom. Intussen is die gebou deur rotse en boomstompe getref. Dit was nie lank voordat die mure van die eerste en tweede verdiepings verwoes is nie, sodat slegs die pilare en dak oorgebly het. Die wankelrige struktuur het geskud terwyl die aanslag voortgeduur het.

’n Helikopter het op die toneel verskyn, maar dit kon nie op die wankelrige gebou land nie. Terwyl dit weggedraai het, het Juan Carlos en sy vader met trane in hulle oë vir mekaar totsiens gesê, oortuig dat dit die einde was. Toe het twee helikopters daar aangekom. Almal op die dak is een vir een na veiligheid gelig terwyl die vlieëniers die helikopters vernuftig in die lug laat hang het. Onmiddellik nadat die helikopters weggevlieg het, het die gebou in die vernietigende water gestort. Hulle het net betyds ontsnap!

Mense is by die duisende uit die gebied ontruim—in klein vliegtuie, per motor of bus en in troepeskepe wat ontwerp is om op strande te land. Lang rye mense—sommige met kinders op hulle skouers—is met toue deur die water na die bote gelei. Hoewel party ’n paar persoonlike besittings met hulle kon saamneem, het baie die gebied verlaat met net die klere wat hulle aangehad het.

Noodlenigingspogings

By die Venezuela-takkantoor van Jehovah se Getuies het noodlenigingspogings begin onmiddellik nadat nuus van die ramp ontvang is. Maar paaie is met puin besaai of is eenvoudig weggespoel. Ná ’n paar dae is een baan van die vernaamste hoofweg vir noodvoertuie oopgestel, en Getuie-voertuie met mediese voorraad en bekwame personeel is deurgelaat. ’n Amptenaar het later gesê: “Die owerheid is ten volle bewus van die feit dat Jehovah se Getuies van die eerstes was wat hier opgedaag het om te help en mense uit die gebied te ontruim.”

Die Getuies het soektogte georganiseer om hulpbehoewendes te vind. Vervoer is gereël om mense wat ontruim is na Caracas te neem, waar baie sonder enigiets aangekom het. Versamelpunte is in die stad opgestel sodat voedsel, klere en medisyne onder behoeftiges versprei kon word. Maar die meeste van hulle het meer as voedsel en klere nodig gehad. Hulle het dringend ’n woonplek nodig gehad. Hulle Christenbroers het hulle met graagte ingeneem.

Selfs lank ná die ramp was daar steeds mense met vriende en familie wat nog by hulle gebly het. Joel en Elsa, Getuies in Puerto Cabello, woon in ’n klein woonstelletjie. ’n Maand ná die storm het hulle nog steeds 16 mense saam met hulle in hulle woonstel gehad. Baie het nie net hulle huise nie, maar ook hulle werk verloor. Hulle werksplekke het eenvoudig nie meer bestaan nie.

Ongelukkig was vakansie- en hawedorpe wat voorheen vol lewe was nou feitlik onherkenbaar. Party voertuie het gedeeltelik uit die modder gesteek, terwyl ander teen mure gegooi, om pale gefrommel of in deure of vensters gedruk is. As gevolg van ’n laag harde modder—tot drie meter diep op plekke—was die straatvlak so hoog dat ’n mens se oë gelyk was met die boonste vloer of selfs die dakke van geboue wanneer jy daar verbygeloop het!

Sommige in Venezuela het gesê dat die ramp hulle ’n waardevolle les geleer het—om nie op materiële dinge te vertrou nie (Lukas 12:29-31). ’n Aantal verstaan nou Jesus Christus se raad: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar, waar mot en roes verteer en waar diewe inbreek en steel. Gaar eerder vir julle skatte in die hemel op, waar nóg mot nóg roes verteer en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”—Matteus 6:19-21.

[Kaart/Prente op bladsy 16, 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

VENEZUELA

Caracas

Ramp-gebied

COLOMBIA

[Prent op bladsy 17]

Rubén Serrano, by sy verwoeste huis

[Prente op bladsy 18]

1. Vrywilligers het noodlenigingsvoorraad in Caracas bymekaargemaak

2, 3. Die Maiquetía-gemeente het verharde modder wat twee meter diep was uit hulle Koninkryksaal verwyder

4. Hierdie Getuies het hulle huise verloor en het toe aangebied om nuwe huise vir hulleself en ander te bou

5. Een van die byna voltooide huise in San Sebastien de los Reyes