Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Kykie na alternatiewe terapieë

’n Kykie na alternatiewe terapieë

’n Kykie na alternatiewe terapieë

“Dit is noodsaaklik dat ’n professionele gedagtewisseling tussen geneeshere en praktisyns van alternatiewe geneeskunde aan die gang gesit word sodat beter gesondheidsorg aan dié pasiënte gebied kan word wat alternatiewe terapieë kies.”

HIERDIE verklaring is in The Journal of the American Medical Association (JAMA) se nommer van 11 November 1998 gedruk. Die artikel het gesê: “Hierdie behoefte [aan gedagtewisseling] sal na verwagting saam met die gebruik van alternatiewe terapieë groei, veral namate mediese fondse sulke terapieë begin dek.”

Al hoe meer pasiënte wend hulle tot alternatiewe terapieë terwyl hulle van meer konvensionele vorme van behandeling gebruik maak. Maar party sê nie vir hulle dokter wat hulle doen nie. Daarom het Tufts University Health & Nutrition Letter van April 2000 mense aangespoor: “Dit sal in jou belang wees om met jou dokter saam te werk en nie op jou eie nie.” Dit het bygevoeg: “Hetsy hy of sy jou benadering goedkeur of nie, jy kan nogtans verwag om daarby baat vind as jy hom of haar daarvan in kennis stel.”

Dit is gesê weens moontlike gesondheidsgevare wanneer sekere kruie saam met konvensionele terapieë gebruik word. Baie gesondheidsdeskundiges wat besef dat sommige van hulle pasiënte alternatiewe terapieë gebruik, probeer om nie toe te laat dat hulle eie opinies oor gesondheidsorg hulle daarvan weerhou om saam te werk met alternatiewe terapeute vir die beswil van die pasiënt nie.

Om ons lesers ’n idee te gee van alternatiewe terapieë wat nou deur al hoe meer mense in baie lande gebruik word, voorsien ons ’n kort beskrywing van ’n paar van hulle. Maar neem asseblief kennis dat Ontwaak! nie enige van hulle of enige ander vorm van mediese behandeling aanbeveel nie.

Kruiemedisyne

Hierdie medisyne is moontlik die algemeenste vorm van alternatiewe geneeskunde. Ten spyte van die gebruik van kruie in geneesmiddels deur die eeue heen, is slegs ’n betreklike klein aantal plantsoorte al sorgvuldig deur wetenskaplikes bestudeer. Selfs minder plante en hulle ekstrakte is deeglik genoeg bestudeer sodat inligting beskikbaar is oor hoe veilig en doeltreffend hulle is. Die meeste inligting oor kruie is gebaseer op die gebruik daarvan in die verlede.

Maar in onlangse jare is daar ’n aantal wetenskaplike studies gedoen wat die nut toon van sekere kruie in die behandeling van toestande soos matige depressie, ouderdomsverwante geheueverlies en simptome van goedaardige prostaatvergroting. Een soort kruid wat al bestudeer is, is wantskruid, wat soms as swart slangwortel, bugbane of ratelwortel bekend staan. Indiane het die wortels gekook en dit vir menstruele probleme en bevallings gebruik. Volgens Harvard Women’s Health Watch van April 2000 toon onlangse studies dat ’n gestandaardiseerde Duitse kommersiële wantskruidekstrak doeltreffend kan wees “in die verligting van menopousale simptome”.

Dit lyk of baie mense hulle tot sulke natuurlike medisyne wend omdat hulle dink dat dit veiliger as sintetiese geneesmiddels is. Hoewel dit dikwels die geval is, veroorsaak party kruie newe-effekte, veral as dit saam met ander medikasie gebruik word. Byvoorbeeld, ’n gewilde kruid wat soms as ’n natuurlike dekongestie- en gewigsverliesmiddel aanbeveel word, kan ’n mens se bloeddruk en harttempo verhoog.

Daar is ook kruie wat ’n pasiënt vinniger sal laat bloei. As hierdie kruie saam met “bloedverdunnende” geneesmiddels gebruik word, kan ernstige probleme ontstaan. Mense met chroniese siektes, soos suikersiekte of hoë bloeddruk, of diegene wat ander medikasie gebruik, moet die gebruik van kruiemedisyne versigtig oorweeg.—Sien die bygaande venster.

Nog ’n probleem met kruiemedisyne is dat ’n mens nie altyd seker kan wees dat dit ’n gehalteproduk is nie. In onlangse jare was daar al verslae oor produkte waarin swaar metale en ander gifstowwe gevind is. Daarbenewens het sommige kruieprodukte min of geen van die bestanddele bevat wat op die etiket aangegee is nie. Hierdie voorbeelde toon hoe belangrik dit is om kruieprodukte, sowel as enige ander gesondheidsprodukte, by gerespekteerde en betroubare verskaffers te koop.

Dieetaanvullings

Dieetaanvullings, soos vitamiene en minerale, is blykbaar nuttig om ’n aantal gesondheidsprobleme te voorkom en te behandel, onder meer bloedarmoede en osteoporose—en selfs om sommige geboortedefekte te voorkom. Staatsaanbevole dosisse van vitamiene en minerale word as betreklik veilig en nuttig beskou.

Aan die ander kant kan dit gesondheidsgevare inhou om megadosisse vir die behandeling van sommige siektes aan te beveel. Hulle kan moontlik die opname of werking van ander voedingstowwe belemmer en kan ook ernstige newe-effekte veroorsaak. Hierdie moontlikheid, sowel as die gebrek aan voldoende bewyse wat die gebruik van megavitamiene ondersteun, moet nie geïgnoreer word nie.

Homeopatie

Homeopatie is in die 1700’s as ’n mensliker vorm van behandeling ontwikkel as dié wat destyds algemeen in gebruik was. Homeopatie is gebaseer op die beginsel dat “gelykes deur gelykes genees word” en op die minimumdosis-teorie. Homeopatiese middels word voorberei deur ’n geneesmiddel herhaaldelik te verdun—soms word dit so verdun dat nie eers een molekule van die oorspronklike stof oorbly nie.

Daar is nietemin gevind dat homeopatiese middels wel, in vergelyking met die gebruik van ’n plasebo, met die behandeling van asma, allergieë en diarree onder kinders help. Homeopatiese produkte word as betreklik veilig beskou, aangesien dit so verdun is. ’n Artikel wat in JAMA se nommer van 4 Maart 1998 gepubliseer is, het gesê: “Vir baie pasiënte met chroniese probleme vir wie daar nie ’n spesifieke diagnose is nie, is homeopatie dalk ’n belangrike en nuttige keuse van behandeling. As homeopatie binne sy perke gebruik word, kan dit moderne geneeskunde aanvul as ‘nog ’n wapen in die arsenaal’.” Maar in potensieel lewensgevaarlike noodgevalle is dit dalk verstandiger om meer konvensionele mediese vorme van behandeling te gebruik.

Chiropraktyk

Daar is ’n aantal alternatiewe terapieë wat van liggaamsmanipulering gebruik maak. Chiropraktyk is een van die algemeenste alternatiewe behandelingsmetodes, veral in die Verenigde State. Dit is op die idee gebaseer dat genesing aangehelp kan word wanneer wanbelyning van die ruggraat reggestel word. Dit is waarom chiropraktisyns in ruggraatmanipulering spesialiseer om die rugwerwels van hulle pasiënte reg te stel.

Konvensionele geneeskunde kan nie altyd verligting vir onderrugpyn voorsien nie. Daarenteen sê party pasiënte wat chiropraktiese behandeling ontvang dat hulle baie tevrede is. Daar is min bewyse wat toon dat chiropraktiese manipulering vir enigiets anders as pynverligting gebruik kan word.

Dit is van belang om te weet dat daar min gevalle van newe-effekte weens chiropraktiese manipulering deur gekwalifiseerde praktisyns is. Maar terselfdertyd moet ’n mens besef dat nekmanipulering met ’n gevaar van ernstige komplikasies gepaardgaan, onder meer beroerte en verlamming. Om die gevaar van komplikasies te verminder, stel sommige deskundiges voor dat ’n mens deeglik ondersoek word om te sien of ’n spesifieke styl van manipulering veilig is vir jou.

Massering

Die voordele van massering word al lank in byna alle kulture erken. Die Bybel praat selfs daarvan (Ester 2:12, NW). “Masseringstegnieke speel ’n belangrike rol in tradisionele Chinese en Indiese mediese sorg”, het die British Medical Journal (BMJ) van 6 November 1999 gesê. “Europese massering is in die vroeë 19de eeu deur Per Henrik Ling gesistematiseer, wat ’n behandeling ontwikkel het wat nou as Sweedse massering bekend staan.”

Massering ontspan blykbaar die spiere, wat bloedsirkulasie verbeter en gifstowwe wat in die weefsels opgebou het, verwyder. Dokters skryf nou massering voor vir kwale soos rugpyn, hoofpyn en spysverteringsprobleme. Die meeste mense wat massering ontvang, sê hoe goed dit hulle laat voel. Volgens dr. Sandra McLanahan “hou tagtig persent van siektes met spanning verband, en massering verminder spanning”.

“Met die meeste masseringstegnieke is daar min gevaar van nadelige gevolge”, berig BMJ. “Kontra-indikasies vir massering is hoofsaaklik op gesonde verstand gebaseer (byvoorbeeld om wrywing op brandwonde te vermy of om nie ’n ledemaat met diep-aar-trombose te masseer nie) . . . Daar is geen bewyse dat massering van kankerpasiënte metastase vererger nie.”

“Namate massering al hoe algemener word, word verbruikers besorg oor ’n masseur se kwalifikasies, en hulle behoort te wees”, het E. Houston LeBrun, voormalige voorsitter van die Amerikaanse Vereniging van Masseringsterapie, gesê. BMJ het voorgestel dat “pasiënte moet seker maak dat praktisyns by ’n amptelike regulerende liggaam geregistreer is” om onprofessionele gedrag te vermy. ’n Verslag het verlede jaar gesê dat terapeute in 28 state in die Verenigde State gelisensieer is.

Akupunktuur

Akupunktuur is ’n genesingstegniek wat wêreldwyd taamlik gewild geword het. Hoewel die term “akupunktuur” verskeie tegnieke insluit, behels dit meestal die gebruik van dun naalde wat in spesifieke liggaamsdele gesteek word om ’n terapeutiese reaksie voort te bring. Navorsing oor die laaste paar dekades dui daarop dat akupunktuur moontlik in sommige gevalle werk deur neurochemikalieë, soos endorfiene, vry te stel wat kan help om pyn en ontsteking te verlig.

Navorsing toon dat akupunktuur doeltreffend kan wees in die behandeling van ’n hele aantal kwale en dat dit ’n veilige alternatief vir die gebruik van verdowingsmiddels is. Die Wêreldgesondheidsorganisasie erken die gebruik van akupunktuur in die behandeling van 104 toestande. En ’n komitee wat deur die Amerikaanse Nasionale Gesondheidsinstitute saamgestel is, het bewyse aangevoer dat akupunktuur ’n aanvaarbare terapie is in die behandeling van na-operatiewe pyn, spierpyn, menstruele krampe, asook naarheid en vomering weens chemoterapie en swangerskap.

Hoewel ernstige newe-effekte ongewoon is met akupunktuur, ondervind mense soms seerheid, gevoelloosheid of ’n prikkelgevoel. Die behoorlike sterilisasie van naalde of die gebruik van weggooibare naalde kan die gevaar van infeksie tot ’n minimum beperk. Baie praktisyns van akupunktuur het nie die nodige mediese vaardighede om ’n behoorlike diagnose te maak of om ander gepaster terapieë aan te beveel nie. Dit sou onverstandig wees om hierdie gebrek aan diagnostiese vaardighede te ignoreer, veral as ’n mens akupunktuur kies om jou te help om die simptome van chroniese toestande te verlig.

Daar is talle keuses

Die voorgaande raak net aan ’n paar van die talle terapieë wat nou in party plekke algemeen as alternatiewe bekend staan. In die toekoms sal sommige hiervan, sowel as ander wat nie hier hersien is nie, moontlik as konvensioneel beskou word, soos dit alreeds in party wêrelddele die geval is. Natuurlik sal ander dalk in onbruik of selfs in onguns verval.

Ongelukkig is pyn en siekte ’n baie algemene deel van die mens se lewe, net soos die Bybel tereg sê: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly” (Romeine 8:22). Dit is net te verwagte dat mense verligting sal soek. Maar waarheen kan ons ons wend? Oorweeg asseblief ’n paar gedagtes wat jy dalk nuttig sal vind in jou keuse van mediese behandeling.

[Venster/Prent op bladsy 8]

Wanneer kruie en geneesmiddels saam gebruik word—WAT IS DIE GEVARE?

Die publiek is al dikwels gewaarsku om nie sekere voorskrifmedisyne saam te gebruik of dit saam met alkohol te neem nie. Kan dit dan ook gevaarlik wees om sekere kruie saam met voorskrifmedisyne te gebruik? Hoe algemeen is hierdie gebruik?

’n Artikel in The Journal of the American Medical Association het gepraat van “die gelyktydige gebruik van voorskrifmedisyne en kruie”. Dit het gesê: “Onder die 44% van volwassenes wat gesê het dat hulle gereeld voorskrifmedisyne gebruik, het byna 1 (18,4%) uit 5 gesê dat hulle terselfdertyd ook ten minste 1 kruieproduk, ’n hoëdosisvitamien of albei gebruik het.” Dit is belangrik om oor die moontlike gevare hiervan ingelig te wees.

Diegene wat sekere kruieprodukte gebruik, moet ook versigtig wees wanneer hulle ’n mediese prosedure ondergaan wat narkose vereis. Dr. John Neeld, voorsitter van die Amerikaanse Vereniging van Narkotiseurs, het verduidelik: “Daar is verslae van mense wat sê dat sommige gewilde kruie, onder meer ginseng en St. Janskruid, groot skommelinge in bloeddruk kan veroorsaak. Dit kan baie gevaarlik tydens narkose wees.”

Hierdie dokter het bygevoeg: “Ander, soos ginkgo biloba, gemmer en moederkruid, kan bloedstolling belemmer, wat veral tydens epidurale verdowing gevaarlik is—as daar bloeding naby die rugmurg is, kan dit verlamming veroorsaak. St. Janskruid kan ook die uitwerking van party dwelmmiddels of verdowingsmiddels verhoog.”

Dit is ongetwyfeld belangrik om bewus te wees van die moontlike gevaar as sekere kruie en geneesmiddels saam gebruik word. Swanger en sogende vrouens moet veral bewus wees van die moontlike skade wat hulle baba kan opdoen wanneer sekere kruie en geneesmiddels saam gebruik word. Pasiënte word dus aangemoedig om vir hulle gesondheidsorgverskaffer te sê watter medikasie hulle gebruik, hetsy dit alternatiewe medisyne of iets anders is.

[Prente op bladsy 7]

Sekere kruie is nuttig in die behandeling van gesondheids-probleme

Wantskruid

Sint Janskruid

[Erkenning]

© Bill Johnson/Visuals Unlimited

[Prent op bladsy 7]

Pasiënte en professionele gesondheidswerkers moet saam werk vir die beste resultate