Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die noodsaaklike rol van verpleegsters

Die noodsaaklike rol van verpleegsters

Die noodsaaklike rol van verpleegsters

“’n Verpleegster is iemand wat voed, koester en beskerm—iemand wat bereid is om die siekes, beseerdes en bejaardes te versorg.”—Nursing in Today’s World—Challenges, Issues, and Trends.

HOEWEL onselfsugtigheid belangrik is, is dit nie al wat nodig is om ’n bekwame verpleegster te wees nie. Goeie verpleegsters het ook deeglike opleiding en wye ondervinding nodig. ’n Belangrike vereiste is een tot vier jaar of selfs langer van studie en praktiese opleiding. Maar watter eienskappe maak van iemand ’n goeie verpleegster? Hier is ’n paar antwoorde van ervare verpleegsters met wie Ontwaak! onderhoude gevoer het.

“Die dokter genees, maar die verpleegster versorg die pasiënt. Dit vereis dikwels dat ons pasiënte moet bystaan wat ’n emosionele sowel as fisiese knou weg het nadat hulle byvoorbeeld in kennis gestel is dat hulle ’n chroniese siekte het of binnekort gaan sterf. ’n Mens moet ’n moeder vir die sieke wees.”—Carmen Gilmartín, Spanje.

“’n Mens moet in staat wees om die pasiënt se pyn en angs te voel en moet die begeerte hê om te wil help. Vriendelikheid en lankmoedigheid is nodig. Jy moet altyd meer omtrent verpleging en medisyne wil leer.”—Tadasji Hatano, Japan.

“In onlangse jare het verpleegsters al hoe meer professionele kennis nodig. Daarom is die begeerte om te studeer en die vermoë om te verstaan wat ’n mens studeer noodsaaklik. Verpleegsters moet ook vinnig besluite kan neem en vinnig kan optree wanneer die situasie dit vereis.”—Keiko Kawane, Japan.

“As ’n verpleegster moet jy hartlik wees. Jy moet verdraagsaam wees en empatie toon.”—Araceli García Padilla, Mexiko.

“’n Goeie verpleegster moet leergierig, oplettend en uiters professioneel wees. As ’n verpleegster nie selfopofferend is nie—as sy selfsugtig is of gekrenk voel oor raad van senior mediese personeel—sal daardie verpleegster nie meer vir pasiënte en kollegas van nut wees nie.”—Rosângela Santos, Brasilië.

“Daar is verskeie onontbeerlike eienskappe: aanpasbaarheid, verdraagsaamheid en geduld. Jy moet ook onbevooroordeeld wees en die vermoë hê om goed oor die weg te kom met jou kollegas en die mediese hiërargie. Jy moet nuwe vaardighede vinnig kan aanleer om bekwaam te bly.”—Marc Koehler, Frankryk.

“Jy moet lief wees vir mense en werklik ander wil help. Jy moet onder druk kan werk, want in die wêreld van verpleging is dit alles of niks. Jy moet aanpasbaar wees sodat jy dieselfde werk kan doen wanneer daar soms minder hulp beskikbaar is—sonder dat die gehalte daaronder ly.”—Claudia Rijker-Baker, Nederland.

Die verpleegster as ’n versorger

Nursing in Today’s World sê dat “verpleging gemoeid is met die versorging van die persoon in ’n verskeidenheid gesondheidsverwante situasies. Ons sê dus dat geneeskunde hom besig hou met die genesing van die pasiënt en verpleging met die versorging van daardie pasiënt.”

’n Verpleegster is dus ’n versorger. Dit is gevolglik vanselfsprekend dat ’n verpleegster moet omgee. ’n Ruk gelede is 1 200 geregistreerde verpleegsters gevra: “Wat is vir jou van die grootste belang in jou werk as ’n verpleegster?” Om gehaltesorg te lewer, was die antwoord van 98 persent.

Soms onderskat verpleegsters van hoeveel waarde hulle vir die pasiënte is. Carmen Gilmartín, wat vroeër aangehaal en ’n verpleegster met 12 jaar ondervinding is, het vir Ontwaak! gesê: “Ek het eenkeer teenoor ’n vriend erken dat ek beperk voel wanneer ek pasiënte versorg wat baie siek is. Ek het gevoel asof ek net ’n ‘pleister’ is. Maar toe het my vriend gesê: ‘’n Noodsaaklike “pleister”, want wanneer iemand siek is, het hulle jou—’n simpatieke verpleegster—meer as enigiets anders nodig.’”

Dit spreek vanself dat die verskaffing van sulke sorg groot druk op ’n verpleegster kan plaas wat elke dag tien of meer ure werk! Wat het hierdie selfopofferende versorgers beweeg om verpleegsters te word?

Waarom verpleging?

Ontwaak! het onderhoude met verpleegsters regoor die wêreld gevoer en hulle gevra: “Wat het jou beweeg om ’n verpleegster te word?” Hier is van hulle antwoorde.

Terry Weatherson het 47 jaar ondervinding as ’n verpleegster. Sy werk nou as ’n kliniese verpleegspesialis in die Urologie-afdeling van ’n hospitaal in Manchester, Engeland. “Ek is as ’n Katoliek grootgemaak en het ’n Katolieke kosskool bygewoon”, sê sy. “As ’n dogtertjie het ek besluit dat ek ’n non of ’n verpleegster wil word. Ek wou ander mense help. ’n Mens kan dit seker ’n roeping noem. Soos jy kan sien, het ek verpleging gekies.”

Tsjiwa Matsoenaga van Saitama, Japan, bestuur al agt jaar lank haar eie kliniek. Sy sê: “Ek het my pa se raad gevolg dat ‘dit goed is om ’n vaardigheid te leer wat jou lewenslank vir werk sal kwalifiseer’. Daarom het ek besluit om verpleging my loopbaan te maak.”

Etsoeko Kotani van Tokio, Japan, ’n matrone met 38 jaar ondervinding as verpleegster, het gesê: “Toe ek nog op skool was, het my pa inmekaargesak en baie bloed verloor. Terwyl ek in die hospitaal by my pa gewaak het, het ek besluit dat ek ’n verpleegster wil wees sodat ek siek mense in die toekoms kan help.”

Ander is deur hulle eie ondervinding beweeg terwyl hulle siek was. Eneida Vieyra, ’n verpleegster in Mexiko, sê: “Toe ek ses jaar oud was, was ek twee weke in die hospitaal weens brongitis, en ek het toe besluit dat ek ’n verpleegster wil word.”

Dit is duidelik dat dit groot selfopoffering verg om ’n verpleegster te wees. Kom ons ondersoek die uitdagings en die belonings van hierdie edele beroep van naderby.

Die vreugdes van verpleging

Wat is die vreugdes van verpleging? Die antwoord op hierdie vraag sal afhang van die verpleegster se veld van bedrywigheid. Vroedvroue voel byvoorbeeld dat hulle met elke suksesvolle geboorte beloon word. “Dit is wonderlik om ’n gesonde kind, oor wie se ontwikkeling jy toesig gehou het, in die wêreld te help bring”, sê ’n vroedvrou van Nederland. Jolanda Gielen-Van Hooft, ook van Nederland, sê: “’n Geboorte is een van die pragtigste dinge wat ’n egpaar—en ’n gesondheidswerker—kan beleef. Dit is ’n wonderwerk!”

Rachid Assam van Dreux, Frankryk, is ’n staatsgesertifiseerde verpleegkundige narkose-assistent in sy vroeë veertigerjare. Waarom geniet hy verpleging? Weens “die bevrediging wat ’n mens ervaar omdat jy tot die sukses van ’n operasie bygedra het en omdat jy lid van ’n baie interessante beroep is wat altyd vooruitgaan”, sê hy. Isaac Bangili, ook van Frankryk, het gesê: “Ek word geraak deur die dankbetuigings wat ons van pasiënte en hulle families ontvang, veral in noodgevalle wanneer ons dit regkry om ’n pasiënt te red vir wie ons gedink het daar geen hoop is nie.”

So ’n dankbetuiging is gestuur aan Terry Weatherson, wat vroeër gemeld is. ’n Weduwee het geskryf: “Ek kan nie die geleentheid laat verbygaan sonder om weer melding te maak van die verligting wat jou kalm, gerusstellende teenwoordigheid ons tydens Charles se siekte gegee het nie. Jou hartlikheid was ’n helder lig, en dit het ’n rots geword waaruit ons krag geput het.”

Die uitdagings

Maar saam met die vreugdes van verpleging is daar ook talle uitdagings. Verpleegsters kan nie bekostig om foute te maak nie! ’n Verpleegster moet baie versigtig wees, hetsy sy medikasie toedien, bloed trek of ’n binneaarse toestel aanbring of selfs net ’n pasiënt skuif. Sy kan nie bekostig om ’n fout te maak nie—en dit is veral so in lande waar mense maklik voor die hof gedaag word. Maar soms word die verpleegster in ’n moeilike situasie geplaas. Gestel byvoorbeeld die verpleegster meen dat ’n dokter die verkeerde medikasie vir ’n pasiënt voorgeskryf het of instruksies gegee het wat nie in die belang van die pasiënt is nie. Wat kan die verpleegster doen? Moet sy die dokter konfronteer? Dit verg moed, takt en oordeelkundigheid—en daar is ’n mate van risiko aan verbonde. Ongelukkig hou party dokters nie daarvan om na voorstelle van diegene te luister wat hulle as hulle minderes beskou nie.

Wat het party verpleegsters hieroor gesê? Barbara Reineke van Wisconsin, VSA, wat al 34 jaar lank ’n geregistreerde verpleegster is, het vir Ontwaak! gesê: “’n Verpleegster moet moedig wees. Eerstens is sy volgens wet aanspreeklik vir enige medikasie wat sy toedien of behandeling wat sy gee en vir enige komplikasie wat daardeur veroorsaak word. Sy moet kan weier om ’n dokter se opdrag uit te voer as sy voel dat sy nie bevoeg is om dit te doen nie of as sy dink dat die dokter verkeerd is. Verpleging is nie wat dit in die dae van Florence Nightingale of selfs 50 jaar gelede was nie. Nou moet die verpleegster kan sien wanneer sy vir die geneesheer nee moet sê en wanneer sy moet aandring dat die dokter die pasiënt sien, selfs as dit in die middel van die nag is. En as jy verkeerd is, moet jy dikvellig genoeg wees om enige bespotting van die dokter te verduur.”

Nog ’n probleem waarvoor verpleegsters te staan kom, is geweld by die werk. ’n Verslag uit Suid-Afrika erken dat verpleegpersoneel “’n groter persoonlike risiko loop om by hulle werksplek geteister en aan geweld blootgestel te word. Trouens, verpleegsters loop ’n groter gevaar om by die werk aangeval te word as tronkbewaarders of polisiemanne, en 72% van verpleegsters voel nie veilig teen aanranding nie.” ’n Soortgelyke situasie word in die Verenigde Koninkryk gerapporteer, waar 97 persent van verpleegsters wat in ’n onlangse opname ondervra is ’n verpleegster geken het wat gedurende die vorige jaar aangerand is. Wat gee aanleiding tot hierdie geweld? Dikwels word die probleem veroorsaak deur pasiënte wat onder die invloed van dwelms of drank is of wat druk of smart verduur.

Verpleegsters het ook te kampe met uitbranding wat deur spanning veroorsaak word. ’n Tekort aan personeel is een faktor. Wanneer ’n pligsgetroue verpleegster nie genoeg aandag aan ’n pasiënt kan gee nie omdat daar te veel werk is, is dit nie lank voor spanning begin opbou nie. Wanneer sy die situasie probeer regstel deur rustye oor te slaan en oortyd te werk, lei dit blykbaar net tot meer frustrasie.

Wêreldwyd het baie hospitale te min personeel. “Ons het nie genoeg verpleegsters in ons hospitale nie”, sê ’n verslag in Madrid se Mundo Sanitario. “Enigeen wat al gesondheidsorg nodig gehad het, besef hoe belangrik verpleegsters is.” Wat word as die rede vir hierdie tekort gegee? Die nodigheid om geld te bespaar! Dieselfde verslag het gesê dat hospitale in Madrid ’n tekort van 13 000 opgeleide verpleegsters het!

Nog ’n rede wat vir die spanning gegee word, is dat skofte dikwels te lank en salarisse te laag is. The Scotsman het gesê: “Meer as een uit vyf van Brittanje se verpleegsters en ’n kwart van die verpleegassistente het ’n tweede betrekking om kop bo water te hou, volgens die staatsdiensvakbond, Unison.” Drie uit vier verpleegsters voel dat hulle te min betaal word. Gevolglik het baie dit al oorweeg om die beroep te verlaat.

Daar is ’n aantal ander faktore wat tot die spanning van verpleegsters bydra. Te oordeel aan die kommentare wat Ontwaak! by verpleegsters van regoor die wêreld gekry het, kan die dood van pasiënte ’n neerdrukkende uitwerking hê. Magda Souang, wat ’n Egiptiese agtergrond het, werk in Brooklyn, New York. Toe sy gevra is wat haar werk moeilik maak, het sy geantwoord: “Om oor ’n tydperk van tien jaar te sien hoe ten minste 30 terminale pasiënte na wie ek met groot sorg omgesien het, sterf. Dit takel jou af.” Dit is te verstane waarom een bron sê: “Om jouself gedurigdeur op te offer vir pasiënte wat sterf, kan ’n mens geweldig uitput.”

Wat die toekoms vir verpleegsters inhou

Die vooruitgang en invloed van die tegnologie plaas al hoe groter druk op verpleegsters. Die uitdaging is om die tegnologie met menslikheid te versoen, met ander woorde, om pasiënte op ’n menslike manier te behandel. Geen masjien kan ooit ’n verpleegster se sorg en medelye vervang nie.

Een tydskrif sê: “Verpleging is ’n ewige beroep. . . . Solank as wat mense bestaan, sal daar altyd ’n behoefte aan versorging, medelye en begrip wees.” Verpleging voorsien in hierdie behoefte. Maar daar is selfs meer rede om optimisties te wees wat gesondheidsorg betref. Die Bybel toon dat ’n tyd sal aanbreek wanneer niemand sal sê “ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Dokters, verpleegsters en hospitale sal nie nodig wees in die nuwe wêreld wat God belowe het nie.—Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13.

Die Bybel belowe ook dat “God . . . elke traan van hulle oë [sal] afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). Maar intussen moet ons dankbaar wees vir al die aandag en opofferinge van miljoene verpleegsters regoor die wêreld, sonder wie besoeke aan die hospitaal beslis minder aangenaam sou wees, indien nie onmoontlik nie! Hoe gepas is dit dus om te vra: “Verpleegsters—wat sal ons sonder hulle doen?”

[Venster/Prent op bladsy 6]

Florence Nightingale—’n pionier van die moderne verpleegkunde

Florence Nightingale is in 1820 in Italië vir ryk Britse ouers gebore en het as ’n vertroetelde kind grootgeword. Die jong Florence het huweliksaansoeke van die hand gewys en het haar op studies in gesondheidsleer en die versorging van die armes toegelê. Ondanks haar ouers se teenstand het Florence ’n posisie in ’n opleidingskool vir verpleegsters in Keiserwerth, Duitsland, aanvaar. Later het sy in Parys gestudeer, en op 33-jarige leeftyd het sy die superintendent van ’n vrouehospitaal in Londen geword.

Maar sy het voor haar grootste uitdaging te staan gekom toe sy aangebied het om gewonde soldate in die Krim te versorg. Daar moes sy en haar groepie van 38 verpleegsters ’n hospitaal skoonmaak wat van die rotte gewemel het. Dit was ’n ontsaglike taak, want aan die begin was daar geen seep, wasbakke of handdoeke nie, en daar was nie genoeg beddens, matrasse of verbande nie. Florence en haar groepie het die uitdaging die hoof gebied, en teen die einde van die oorlog het sy wêreldwye hervormings in verpleging en hospitaaladministrasie teweeggebring. In 1860 het sy die Nightingale-opleidingskool vir Verpleegsters by St. Thomas se Hospitaal in Londen gestig—die eerste verpleegskool wat nie aan die kerk verbonde was nie. Sy was baie jare lank voor haar dood in 1910 ’n bedlêende invalide. Maar sy het nog steeds boeke en pamflette geskryf in ’n poging om die standaard van gesondheidsorg te verbeter.

Party maak beswaar teen die onbaatsugtige beeld wat van Florence Nightingale geskep word en voer aan dat ander ten minste net soveel erkenning verdien vir hulle bydraes tot verpleging. Daarbenewens is daar groot meningsverskille oor haar reputasie. Volgens die boek A History of Nursing beweer sommige dat sy “buierig, aanmatigend, eiewys, driftig en baasspelerig” was, terwyl ander beïndruk was deur haar “briljantheid en sjarme, haar verbasende lewenslustigheid en selfs die teenstrydighede in haar persoonlikheid”. Ongeag wat haar ware karakter was, een ding is seker: Haar tegnieke van verpleging en hospitaalbestuur het na baie lande versprei. Sy word beskou as ’n pionier in die verpleegkunde soos ons dit vandag ken.

[Prent]

St. Thomas se Hospitaal ná die stigting van die Nightingale-opleidingskool vir Verpleegsters

[Erkenning]

Courtesy National Library of Medicine

[Venster/Prent op bladsy 8]

Die kwalifikasies van ’n verpleegster

Verpleegster: “Iemand wat spesifiek opgelei is in die wetenskap van verpleegkunde en wat aan sekere voorgeskrewe standaarde van opvoeding en kliniese bevoegdheid voldoen.”

Geregistreerde verpleegster: “’n Gegradueerde verpleegster wat wetlik gemagtig (geregistreer) is om as verpleegster te werk nadat ’n eksamen by ’n raad van verpleegeksaminators vir die staat afgelê is . . . en wat wetlik geregtig is om die titel G.V. te gebruik.”

Kliniese verpleegspesialis: “’n Geregistreerde verpleegster met deeglike kennis en ’n hoë vlak van vaardigheid en bevoegdheid in ’n gespesialiseerde veld van verpleging.”

Verpleegster-vroedvrou: “Iemand wat as verpleegster en verloskundige opgelei is.”

Praktiese verpleegster: “Iemand wat praktiese ondervinding in verpleging het, maar nie aan enige soort verpleegskool gegradueer het nie.”

Gelisensieerde praktiese verpleegster: “’n Gegradueerde van ’n skool vir praktiese verpleging . . . wat wetlik goedgekeur is om as ’n gelisensieerde praktiese of beroepsverpleegster te werk.”

[Erkennings]

Uit die Amerikaanse publikasie Dorland’s Illustrated Medical Dictionary

UN/J. Isaac

[Venster/Prente op bladsy 9]

‘Die ruggraat van gesondheidsorg’

Tydens die Honderdjarige Konferensie van die Internasionale Raad van Verpleegsters in Junie 1999 het dr. Gro Harlem Brundtland, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie, gesê:

“As die vernaamste gesondheidsdeskundiges is verpleegsters in ’n unieke posisie om as kragtige voorstanders van ’n gesonde planeet te dien. . . . Aangesien verpleegsters en vroedvroue alreeds tot 80% van die gekwalifiseerde werkers in die meeste nasionale gesondheidstelsels uitmaak, verteenwoordig hulle ’n potensieel kragtige mag om die nodige veranderinge teweeg te bring om in die behoeftes van Gesondheid vir Almal in die 21ste eeu te voorsien. Trouens, hulle bydrae tot gesondheidsdienste dek die hele spektrum van gesondheidsorg . . . Dit is duidelik dat verpleegsters die ruggraat van die meeste gesondheidsorgspanne is.”

Die voormalige president van Mexiko Ernesto Zedillo Ponce de León het die verpleegsters van Mexiko spesiale lof toegeswaai in ’n toespraak waarin hy gesê het: “Dag ná dag . . . gee almal van julle die beste wat betref julle kennis, julle solidariteit, julle diens om Mexikane gesond te hou en hulle te help om gesond te bly. Dag ná dag gee julle nie net julle professionele hulp aan diegene wat dit nodig het nie, maar ook die vertroosting wat uit julle goedhartige, pligsgetroue en uiters menslike benadering voortspruit. . . . Julle is die grootste groep in ons gesondheidstelsel . . . In elke lewe wat gered word, in elke kind wat ingeënt word, in elke geboorte waarmee gehelp word, in elke toespraak oor gesondheid, in elke genesing, in elke pasiënt wat aandag en getroue ondersteuning ontvang, het ons verpleegpersoneel ’n aandeel.”

[Erkennings]

UN/DPI Photo by Greg Kinch

UN/DPI Photo by Evan Schneider

[Venster/Prent op bladsy 11]

’n Dankbare dokter

Dr. Sandeep Jauhar van die Presbiteriaanse Hospitaal in New York het erken dat hy baie aan goeie verpleegsters verskuldig is. ’n Verpleegster het hom taktvol oortuig dat ’n sterwende pasiënt meer morfien nodig het. Hy het geskryf: “Dokters leer ook by goeie verpleegsters. Die verpleegsters in gespesialiseerde afdelings soos die waakeenheid is van die bes opgeleide personeel in die hospitaal. Toe ek ’n intern was, het hulle my geleer om kateters in te sit en respirators te verstel. Hulle het vir my gesê watter geneesmiddels om te vermy.”

Hy het verder gesê: “Verpleegsters voorsien noodsaaklike sielkundige en emosionele ondersteuning aan pasiënte, omdat hulle die mense is wat die meeste tyd met hulle deurbring. . . . Ek reageer gewoonlik vinnig as ’n verpleegster wat ek vertrou vir my sê dat ek ’n pasiënt onmiddellik moet sien.”

[Prent op bladsy 7]

“Ek wou ander mense help.”—Terry Weatherson, Engeland.

[Prent op bladsy 7]

“Terwyl ek in die hospitaal by my pa gewaak het, het ek besluit dat ek ’n verpleegster wil wees.”—Etsoeko Kotani, Japan.

[Prent op bladsy 7]

‘’n Geboorte is een van die pragtigste dinge wat ’n vroedvrou kan ondervind.’—Jolanda Gielen-Van Hooft, Nederland.

[Prent op bladsy 8]

Vroedvroue put vreugde en bevrediging daaruit om met bevallings te help