Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet die diereriem jou lewe beïnvloed?

Moet die diereriem jou lewe beïnvloed?

Die Bybel se beskouing

Moet die diereriem jou lewe beïnvloed?

“DAAR IS NIE ’N TEKORT AAN JONGMENSE EN VOLWASSENES WAT NA TEKENS VAN HULLE LOT IN DIE STERRE SOEK NIE.”—POUS JOHANNES-PAULUS II.

VOLGENS ’n meningsopname maak 1 uit elke 4 Amerikaners van astrologie gebruik wanneer hulle besluite neem. Om astrologiese tekens te raadpleeg, is geensins beperk tot daardie deel van die wêreld nie. Die diereriem word feitlik wêreldwyd geraadpleeg vir raad oor finansiële sake, reisplanne, loopbaanveranderinge, troudatums en militêre strategieë. Na bewering kan ’n mens se sterrebeeld voornemende huweliksmaats identifiseer en selfs toon watter persone onverenigbaar sal wees. Astrologie het van die Ooste tot die Weste die aandag van miljoene getrek. Maar wat is die oorsprong van die diereriem?

Geskiedkundige agtergrond

Verskillende vorme van die diereriem kan tot die vroegste bekende beskawings teruggespoor word. Selfs die Bybel praat van “die sterrebeelde van die diereriem” (2 Konings 23:5, NW). Klaarblyklik is die diereriem in antieke tye deur die Hindoes sowel as die Chinese, die Egiptenaars, die Grieke en ander volke geraadpleeg. Maar die vroegste verwysings na die tekens van die diereriem is in antieke Babilon gevind.

Die Babiloniërs het astrologie ontwikkel in ’n poging om inligting oor die toekoms te verkry. Namate hulle die beweging van die hemelliggame bestudeer het, is gedetailleerde kaarte en tabelle gemaak. Met behulp hiervan is menseaangeleenthede en gebeure op aarde voorspel. In baie gevalle is politieke en militêre besluite nie geneem voordat astroloë geraadpleeg is nie. Gevolglik het ’n uiters invloedryke priesterlike klas ontwikkel wat op spesiale wysheid en bonatuurlike kragte aanspraak gemaak het. Trouens, alle groot tempels in Babilon het ’n sterrewag gehad.

In hedendaagse tye speel tekens van die diereriem nog steeds ’n belangrike rol in die lewens van baie mense. Selfs diegene wat sê dat hulle nie in die horoskoop glo nie, raadpleeg dit dalk van tyd tot tyd vir vermaak of uit nuuskierigheid. Dit is so dat astroloë al voorspellings gemaak het wat bewaarheid is. Maar beteken dit dat dit voordelig is om die sterre te raadpleeg? Hoe het eertydse knegte van God belangstelling in astrologie beskou?

Verskuilde gevare

Anders as die Babiloniërs het getroue Jode nie astrologie beoefen nie—en met goeie rede. God het hulle uitdruklik gewaarsku: “Daar mag niemand onder jou gevind word . . . wat van waarsêery gebruik maak, die toorkuns beoefen of voortekens soek of ’n towenaar is nie, of wat ander met ’n towerspreuk bind of ’n geestemedium of ’n beroepsvoorspeller van gebeure om inligting vra of die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir Jehovah verfoeilik.” *Deuteronomium 18:10-12NW.

God se knegte het ’n ferm standpunt teen astrologie ingeneem. Getroue koning Josia het ‘die priesters ontslaan wat vir Baäl, vir die son en vir die maan en vir die sterrebeelde van die diereriem offerrook laat opgaan het’. Die verslag sê dat Josia se optrede “reg was in Jehovah se oë”, en God het hom daarvoor geseën (2 Konings 22:2, NW; 23:5, NW). Maar party vra dalk: ‘Word party van die voorspellings van astroloë dan nie bewaarheid nie?’

Dit is interessant dat ons in die Christelike Griekse Geskrifte van ’n meisie lees wat “haar here groot wins verskaf [het] deur die voorspelkuns te beoefen”. Blykbaar is sommige van die dinge wat hierdie meisie voorspel het, bewaarheid, aangesien haar here wins gemaak het uit haar vermoëns. Maar wat was verantwoordelik vir hierdie meisie se vermoë om toekomstige gebeure te voorspel? Die Bybel sê dat sy onder die invloed van “’n gees, ’n waarsêende demoon”, was.—Handelinge 16:16.

Volgens die Bybel ‘lê die hele wêreld in die mag van die bose’, Satan die Duiwel (1 Johannes 5:19). Deur gebeure te manipuleer sodat sekere voorspellings bewaarheid word, het Satan en sy demone miljoene se verbeelding aangegryp.

Die waarheid is eenvoudig dat astrologie een van “die sette van die Duiwel” is, wat hy gebruik om mense te beheer en te beïnvloed om sy wil te doen. Dit is dus heeltemal te verstane dat die Bybel Christene aanspoor om ‘vas te staan’ teen Satan se slim sette—wat astrologie insluit (Efesiërs 6:11). Maar beteken dit dat ons sonder enige leiding oor die toekoms gelaat is?

Die Bybel—’n betroubare gids

Miljoene het gevind dat die Bybel as ’n betroubare gids gebruik kan word om besluite te neem. Dit is soos die psalmis Dawid dit gestel het: “Die herinnering van Jehovah is betroubaar; dit maak die onervarene wys” (Psalm 19:7, NW; 119:105). Dit beteken nie dat die Bybel presies sê wat ’n mens in elke situasie moet doen nie. Maar God se Woord bevat wel beginsels wat ons kan help om ons waarnemingsvermoëns te oefen. Dít sal ons weer in staat stel om te onderskei wat reg en verkeerd is en ons help om wyse besluite te neem.—Hebreërs 5:14.

Dit is dus met goeie rede dat ware Christene nie horoskope raadpleeg nie, selfs nie vir vermaak of uit nuuskierigheid nie. Hulle gee eerder wyslik ag op die waarskuwings in God se Woord teen alle demooninvloed, selfs subtiele vorme daarvan. As jy toelaat dat die Bybel jou lewe beïnvloed, en nie die diereriem nie, kan jy God se ewige seën geniet.—Psalm 37:29, 38.

[Voetnoot]

^ par. 10 Waarsêery behels al die verskillende maniere om kennis, veral omtrent toekomstige gebeure, deur okkulte magte te verkry.

[Prent op bladsy 26]

Oosterse diereriem

[Prent op bladsy 26]

Westerse diereriem