Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Bang om maer te wees

Omdat “party vroue in die noorde van Kameroen” bang is dat hulle vir vigs-slagoffers aangesien sal word, “drink hulle groot hoeveelhede medisyne wat hulle gewig laat aansit”, sê ’n verslag in die koerant Le Messager van Douala, soos in die Courrier International berig is. “Die nuus versprei baie vinnig wanneer ’n siek persoon gewig verloor, en volgens die openbare mening is gewigsverlies nog die algemeenste simptoom van die siekte.” Dit staan ook in Afrika as maersiekte bekend. Geneesmiddels wat op die swartmark verkoop word, word “sonder enige mediese voorskrif” gebruik, sê dié Afrikakoerant. Maar gerugte en die vrees dat die gemeenskap hulle sal verstoot omdat hulle glo MIV het, is vir maer jong vroue erger as die moontlike gevaar.

Bewyse van Paulus se besoek aan Siprus?

“Italiaanse argeoloë in Pafos, op die rotsagtige, sonnige suidwestelike kus van Siprus, sê dat hulle die vroegste tasbare bewyse ontdek het dat Paulus op die eiland was”, sê Biblical Archaeology Review. “Tot nou toe het ons slegs van die apostel se besoek geweet danksy die Nuwe Testament, wat vertel dat Paulus op sy eerste sendingreis ‘na Siprus geseil het’, waar hy ‘die hele eiland tot by Pafos’ deurkruis het (Handelinge 13:4-6).” Die bewyse bestaan uit ’n fragment van ’n marmergedenksteen met twee reëls in Grieks. Die boonste reël sê “LOY”, en die onderste “OSTO”. Volgens argeoloë se rekonstruksie hiervan sê dit (PAU)LOY (AP)OSTO(LOY)”, of “Paulus apostel”, en hulle sê dat dit uit die eerste of tweede eeu G.J. dateer. “Die fragment van Pafio [Pafos] stel ons in staat om die kaart van Paulus se bewegings te begin saamstel”, het Filippo Giudice, hoof van die argeologiese span, gesê.

Vernoem ’n nuwe spesie na jou

“Soek jy na daardie baie spesiale geskenk vir ’n geliefde wat blykbaar alles het?” vra die tydskrif Science. “Hulp is beskikbaar. In ruil vir ’n bydrae vir navorsing oor biodiversiteit kan jy ’n voorheen onbekende soort orgidee of muskiet of seeslak na hulle vernoem en dit permanent in die wetenskaplike lektuur laat opteken.” Of dit kan na jou vernoem word. Onlangse navorsing gee te kenne dat slegs een tiende of minder van die spesies wat vandag bestaan, al in wetenskaplike lektuur beskryf is. Duisende versamelde spesies word sonder ’n naam in museumlaaie gebêre waar hulle moet wag om ’n naam te kry en in ’n wetenskaplike tydskrif beskryf te word. Mense kan nou ’n webtuiste besoek en na foto’s van naamlose spesies kyk wat ’n beskrywing het en gereed is vir publikasie. Dan kan hulle, vir ’n bydrae van R19 000 of meer, ’n spesie kies en dit ’n Latynse naam gee. Die organisasie wat BIOPAT genoem word, hoop om sodoende fondse in te samel vir taksonomie sowel as die bewaring van nuwe spesies.

Kinderslagoffers

“Elke dag . . . sterf 30 500 seuntjies en dogtertjies onder die ouderdom van vyf aan talle voorkombare oorsake”, sê die Verenigde Nasies-kinderfonds in sy verslag The State of the World’s Children 2000. Die koerant Indian Express berig dat “daar in die laaste dekade ongeveer tweemiljoen kinders doodgemaak en sesmiljoen beseer of vermink is in gewapende konflikte en dat miljoene ander slagoffers van menseregteskendings is”. Meer as 15 miljoen kinders is vlugtelinge, en meer as ’n miljoen is van hulle ouers geskei of is wees. Daarbenewens meld die verslag studies deur die Internasionale Arbeidsorganisasie wat toon dat ten minste 250 miljoen kinders tussen 5 en 14 as dwangarbeiders werk, waarvan 20 persent onder uiters gevaarlike toestande werk. Wêreldwyd word ongeveer ’n miljoen kinders gedwing om as prostitute te werk, en 250 000 kinders word elke maand met MIV besmet. En 130 miljoen kinders—waarvan twee derdes meisies is—gaan nie skool nie.

’n Moderne handgeskrewe Bybel

Werk is aan ’n versierde, handgeskrewe Bybel begin wat binne ses jaar, teen ’n geraamde koste van R20 miljoen, voltooi moet word. Dit word in opdrag van Benediktynse monnike by die St. Johannes-universiteit in Minnesota, VSA, gedoen. Die Britse kalligraaf Donald Jackson hou by sy werkswinkel in Wallis toesig oor ’n klein span kalligrawe wat saam met hom aan die projek werk. Hulle skryf op perkament en gebruik gansveerpenne en antieke Chinese stifink wat gemaak word van fyn roet wat met gom gemeng is. ’n Kalligrafiese skrif wat spesiaal vir die werk ontwerp is, sal deur ’n rekenaar gedruk en dan met die hand oorgeskryf word, en illustrasies en versierde letters sal later bygevoeg word. Die voltooide werk sal sewe bundels beslaan en sal meer as 1 150 bladsye hê, wat elk ongeveer 60 sentimeter lank en 40 sentimeter wyd sal wees. Die Bybel wat vir hierdie enorme taak gekies is, die eerste van sy soort in 500 jaar, is die Engelse New Revised Standard Version. Maar die volgorde van die Bybelboeke is verander, en die eerste bundel sal met die Evangelies begin. Daar word beplan om later 100 kopieë van ’n versamelaarsuitgawe te maak, wat tussen R400 000 en R550 000 per stel sal kos.

Rokers of nierokers, besoedeling is onvermydelik

Die meeste kinders in Indië wat rook, leer die gewoonte aan wanneer hulle nog baie jonk is, volgens ’n verslag deur die Tata-instituut van Fundamentele Navorsing, in Mumbaai. Oor die algemeen begin straatkinders wat nie ouerlike toesig het nie wanneer hulle 8 jaar oud is, terwyl skoolgaande kinders met voogde op 11-jarige ouderdom begin. Maar nog ’n opname in Mumbaai het getoon dat kinders wat goeie ouerlike toesig het en wat nog nooit gerook het nie, net soveel besoedelstowwe inasem soos iemand wat twee pakkies sigarette per dag rook! Die koerant The Asian Age het berig dat Mumbaai en Delhi onder die vyf mees besoedelde stede in die wêreld is. Met ongeveer 900 000 voertuie wat Mumbaai se strate gereeld gebruik en nog 300 000 wat elke dag in en uit die stad beweeg, is die lugbesoedeling volgens berig 600 tot 800 persent hoër as die toelaatbare vlak vir uitlaatgasse wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie vasgestel is.

China se wilde lekkernye

China se wild word bedreig as gevolg van “veranderende lewenswyses en eetgewoontes”, sê die tydskrif Down to Earth. Omdat al hoe meer mense glo dat sekere soorte kos gesonder as ander is, het ’n groot vraag na eksotiese fynproewersgeregte ontstaan. Slange is boaan die lys, en giftiges kos twee keer meer as dié wat nie giftig is nie. Wildevarke, sivetkatte, landpaddas, waterpaddas, luislange, miervreters, Tibettaanse wildsbokke en seldsame voëls is almal groot gunstelinge en verskyn op spyskaarte in restaurante dwarsdeur China. Baie van hierdie diere is op die lys van bedreigde spesies, wat beteken dat hulle in aanmerking kan kom vir staatsbeskerming. En tog vertoon party restauranteienaars tekens wat hulle klante verseker dat die wilde diere wat bedien word werklik wild is en nie mak of deur mense geteel is nie. Die Chinese owerheid het ’n kampanje van stapel gestuur om wild teen die sogenaamde fynproewers te beskerm, en hulle gebruik die slagspreuk: “Moenie die wild eet nie.”

Gevaarlik vir voëls

“Noord-Amerika se kantoorgeboue en kommunikasietorings is stille doders”, verklaar The Globe and Mail van Toronto, Kanada. “Daar sterf vermoedelik 100 miljoen voëls jaarliks op die vasteland omdat hulle teen geboue, onder andere vensters van huise, vasvlieg.” Kantoorligte wat snags aan gelos word, verwar op onverklaarbare wyse die navigasievermoë van migrerende voëls. Kenners sê die probleem is wydverspreid. “Ek weet van geen plek in die land, op die vasteland, waar daar nie sulke gevalle voorkom nie”, sê die voëlkundige David Willard. Groepe soos Toronto se “Dodelike Lig”-bewustheidsprogram probeer kantoorwerkers leer om hulle ligte snags af te sit.

Daarbenewens bring “draailigte”—soekligte wat die lug bestryk om mense na disko’s en ander vermaaklikheidsplekke te lok—nagdiere van koers af, berig die Duitse dagblad Frankfurter Allgemeine Zeitung. Die ligte tas die sensitiewe navigasievermoë van voëls en vlermuise aan. In hulle verwarring het voëls al hulle migrasieformasie opgebreek, van rigting verander, uit angs geroep en selfs hulle migrasie heeltemal onderbreek. Soms land uitgeputte voëls wat van koers afgebring is nadat hulle ure lank in sirkels gevlieg het, en swakkes sterf selfs. Die Instituut vir die Beskerming van Voëls in Frankfurt het ’n beroep gedoen dat “draailigte” verbied word.