Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ontmoet Australië se angellose bye

Ontmoet Australië se angellose bye

Ontmoet Australië se angellose bye

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

HET jy al ooit die strelende gegons van besige heuningbye gehoor terwyl hulle in die helder sonskyn van die vroeë lente vinnig van blom tot blom vlieg? Hulle is waarlik pragtige insekte. As hulle tog net nie gesteek het nie!

Jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat daar bye is wat nie steek nie. Hulle staan bekend as Australiese angellose bye, en hulle kan in baie dele van oostelike Australië gevind word. Angellose bye is net vier millimeter lank. Hulle is swart, met dik wit hare op hulle gesig en sye. Baie van hulle het klein geel kolletjies agter op hulle middellyf. Ten minste tien soorte angellose bye kan langs die kus van die verre noorde van Queensland tot by die suide in Nieu-Suid-Wallis gevind word. Sommige is ook al in die vasteland se tropiese Noordelike Gebied gevind.

Dink aan die voordele wat dit vir diegene inhou wat heuning uit korwe haal. Een byeboer sê: “Ek moet ’n byemasker en ’n hoënektrui dra wanneer ek met [ander byesoorte] werk, maar ek het niks nodig om my teen [angellose bye] te beskerm nie. Vyf minute nadat ek die korf oopgemaak het, werk die bye nog asof ek nie daar is nie.”

Die korwe van angellose bye verskil nogal baie van dié van ander heuningbye. Trouens, dit word dikwels neste genoem. Die angellose bye stoor nie hulle heuning en stuifmeel in die gewone seshoekige heuningkoekselle nie, maar bou eerder trossies ovaalvormige potte. Die potte word verseël nadat dit volgemaak is, en dan word ander potte op of om hulle gebou.

Binne-in die nes

Kom ons gaan kyk binne-in die nes, die tuiste van ongeveer 15 000 angellose bye. Maar wees versigtig, want al kan hierdie bye nie steek nie, kan hulle jou met hulle mandibels, of kake, byt.

Wanneer ons met die gang van die nes afbeweeg, bevind ons ons in ’n wêreld vol bedrywighede. Daar is ware spanwerk onder hierdie bye. Elkeen weet presies wat om te doen en waar die werk gedoen moet word. Ons sien een bytjie wat besig is om ’n nuwe heuningpot te vorm en te poleer, asof sy ’n volmaakte bloudruk noukeurig volg. Nog vier bye is langs ons waar hulle ’n pot verseël wat so pas met heuning gevul is. ’n Groot driedimensionele traliewerk voorsien die raamwerk waarin die heuningpotte gebou word. Hierdie ingenieursmeesterstuk help om die gewig van die heuning te dra.

Ons gaan nou die volgende kompartement binne en sien ’n by wat baie groter as die ander is. Dit is die koningin in haar volle glorie! Hoe pragtig is sy tog, geklee in haar helder swart en goud ringe en omring deur ’n horde ander besige bye! Nou begin die koningin eiers lê in die 60 selle wat vir haar voorberei is. Hoe delikaat en presies is sy tog, wat ons aan ’n moeder laat dink wat haar baba op ’n bedjie neersit! Kyk ook hoe vinnig verseël die werkers die selle agter haar. In net ’n paar minute is die werk gedoen.

Wanneer die eiers uitbroei

Wanneer die eiers uitbroei, eet elke uitgebroeide wurmpie (of larwe) die kos wat in die sel vir hom gesit is. Nadat die larwe die wasagtige sel ontgroei het, spin die larwe ’n syagtige kokon vir homself. In hierdie kokon verander die wurm in ’n by (en gaan hy deur die papiestadium). Later kom die by uit die kokon te voorskyn en begin sy haar werk—dit wil sê nadat sy deur ’n paar voedsterbye gepamperlang is. Wat gebeur met die wasagtige selle? Dit word onmiddellik versamel, en die materiaal word weer gebruik. Nadat die bye uit hulle kokon gekom het, het hulle dit nie meer nodig nie. As dit daar gelos word, sal dit net die nes vuil maak. Daarom raak ’n groot span skoonmakerbye van hierdie oorskot ontslae.

Baie soorte angellose bye vervaardig ’n boumateriaal wat serumen genoem word. Dit word van was van die bye se eie liggaam gemaak wat met hars en was gemeng word wat hulle van plante en bome af versamel. Serumen word gebruik om ’n raamwerk van pilare, balke en bindbalke te vorm, en alle lasplekke word versterk. Terwyl die bye die heuning en stuifmeelpotte in hierdie raamwerk maak, hardloop hulle binne-in die potte rond om die serumen te vorm en saam te pers. Dan word die potte gevul en vir latere gebruik verseël. Die bye ken blykbaar instinktief die seisoenale waarde van plante en die gevare van seisoenale weer. Dit lyk of hulle alte goed weet dat die versameling en bewaring van voedsel ’n belangrike vereiste vir hulle oorlewing is.

Die bye verlaat die nes en soek na hulle boumateriaal sowel as na nektar en stuifmeel. Wanneer die by buite die nes is, word sy ’n gekwalifiseerde loods en navigator. Die by weet ook presies wat om te versamel en waar om dit te vind.

’n Nuwe huis

Namate die kolonie groei, raak die nes vol. Wat gebeur dan? “Ons sal ’n ander huis moet bou”, is blykbaar die boodskap wat aan die familie oorgedra word. Soms sal een verkenner ’n holte ondersoek wat moontlik ’n geskikte plek vir ’n nes sal wees. Dan kom die “ingenieurs”. Gewoonlik sal 30 tot 50 van hierdie deskundiges die binnekant van die holte etlike ure lank ondersoek, asof hulle dit met lyne en penne afbaken. Nadat hulle vasgestel het dat die fondament goed is, keer hulle terug huis toe, blykbaar om verslag te lewer. Daarna, gewoonlik binne 48 uur, daag die eintlike “bouers” op. Daar kan meer as duisend bye in so ’n span wees—maar geen koningin nie. Hulle is gou aan die werk en vlieg boumateriaal en voedsel van die moedernes af in.

Ter voorbereiding vir die aankoms van die koningin van hierdie nuwe nes, moet die broeines gebou word om die regte temperatuur te handhaaf—ongeveer 28 grade Celsius. Om dit te doen, omsluit die werkerbye die nes in ’n muur van serumen, asof hulle die nes in ’n kombers toedraai. Dit is asof hierdie wyse bye weet dat die eiers warm gehou moet word. Nou is alles gereed, en ongeveer die negende dag word die nuwe koningin, wat in die moedernes uitgebroei het, ingebring. Sy begin onmiddellik die eiers lê wat meer bye vir haar paleis sal voortbring.

Die bye wat van die moedernes af na die nuwe nes verhuis het, sal uiteindelik doodgaan en deur nuwe, jonger bye van hierdie nuwe tuiste vervang word. Mettertyd sal die bye van hierdie nes dit nodig vind om nog ’n huis te bou. En so word nog ’n verbasende siklus voortgesit wat deur ’n ongeëwenaarde Skepper ontwerp is!

[Prent op bladsy 13]

Die angellose bye bou nie seshoekige heuningkoekselle nie, maar trossies ovaalvormige potte

[Prent op bladsy 14]

Ten minste tien soorte angellose bye word in Australië aangetref