Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verpleegsters—Waarom het ons hulle nodig?

Verpleegsters—Waarom het ons hulle nodig?

Verpleegsters—Waarom het ons hulle nodig?

“Verpleging is een van die moeilikste kunste. Medelye kan die beweegrede wees, maar kennis is ons enigste praktiese bate.”—Mary Adelaide Nutting, 1925, die wêreld se eerste professor in die verpleegkunde.

IN SY eenvoudigste vorm, kan verpleging duisende jare teruggevoer word—selfs tot Bybeltye (1 Konings 1:2-4). Deur die geskiedenis heen het talle uitsonderlike vroue die siekes verpleeg. Neem byvoorbeeld Elisabet van Hongarye (1207-31), dogter van koning Andries II. Sy het gedurende ’n hongersnood in 1226 gereël dat voedsel versprei word. Daarna het sy gereël dat hospitale gebou word, en daar het sy melaatses versorg. Elisabet was net 24 toe sy gesterf het, nadat sy vir die grootste deel van haar kort lewe die siekes versorg het.

Dit is onmoontlik om oor die geskiedenis van verpleging te praat sonder om van Florence Nightingale melding te maak. Hierdie moedige Engelse dame het gedurende die Krimoorlog van 1853-56, met die hulp van 38 verpleegsters, die militêre hospitaal by Scutari, ’n voorstad van Konstantinopel, geherorganiseer. Toe sy daar aangekom het, was die sterftesyfer byna 60 persent; toe sy in 1856 weggegaan het, was dit minder as 2 persent.—Sien venster op bladsy 6.

Nog ’n sterk invloed op verpleging was die Instituut van Protestantse Diakonesse by Keiserwerth, Duitsland, wat Nightingale bygewoon het voordat sy na die Krim gegaan het. Mettertyd het ander uitstekende verpleeggroepe ontstaan. In 1903 het Agnes Karll byvoorbeeld die Professionele Organisasie vir Duitse Verpleegsters gestig.

Vandag word verpleegsters * as die grootste professionele groep in ons gesondheidstelsel beskou. Die Wêreldgesondheidsorganisasie berig dat daar tans ver oor die 9 000 000 verpleegsters en vroedvroue in 141 lande is. En wat ’n noodsaaklike werk verrig hulle tog! The Atlantic Monthly sê dat verpleegsters “’n tapisserie van sorg, kennis en vertroue weef wat kritiek is vir ’n pasiënt se oorlewing”. Ons kan dus tereg met betrekking tot verpleegsters vra: Wat sal ons sonder hulle doen?

Die verpleegster se rol in die herstelproses

Een ensiklopedie definieer verpleging as “die proses waartydens ’n pasiënt deur ’n verpleegster gehelp word om van ’n siekte of besering te herstel, of om weer so onafhanklik as moontlik te word”.

Daar is natuurlik baie by hierdie proses betrokke. Dit behels meer as om net roetinetoetse te doen, soos om die pols te voel en die bloeddruk na te gaan. Die verpleegster speel ’n belangrike rol in die pasiënt se herstel. Volgens The American Medical Association Encyclopedia of Medicine “is die verpleegster meer besorg oor die pasiënt se algemene reaksie op die siekte as oor die siekte self, en probeer sy haar bes om fisiese pyn en verstandelike lyding te verlig en, wanneer moontlik, die komplikasies te voorkom”. Die verpleegster bied ook “simpatieke sorg, wat insluit dat sy geduldig na bekommernisse en vrese luister en emosionele ondersteuning en vertroosting bied”. En wanneer ’n pasiënt gaan sterf, sê hierdie bron, moet die verpleegster “die pasiënt help om die dood met so min angs en soveel waardigheid as moontlik tegemoet te gaan”.

Baie verpleegsters doen meer as wat hulle plig van hulle vereis. Ellen D. Baer het byvoorbeeld geskryf oor haar ondervinding by die Montefiore-Mediese Sentrum in die stad New York. Sy wou nie saam met die chirurgiese span deur haar oggendrondtes jaag nie. “Ek wou by die pasiënte bly”, skryf sy. “Ek wou saam met hulle aan hulle asemhaling werk, hulle help loop, hulle verbande versigtig vervang, hulle vrae beantwoord, dinge aan hulle verduidelik en hulle persoonlik bemoedig. Ek het van die intimiteit gehou, die noue band en vriendskap wat ek met die pasiënte kon opbou.”

Enigiemand wat al ’n pasiënt in ’n hospitaal was, kan ongetwyfeld ’n simpatieke verpleegster onthou wat dieselfde gees van selfopoffering gehad het. Maar wat verg dit om ’n bekwame verpleegster te word?

[Voetnoot]

^ par. 6 Ter wille van eenvoud sal ons in hierdie reeks die vroulike vorm verpleegster gebruik.

[Prent op bladsy 3]

Florence Nightingale

[Erkenning]

Courtesy National Library of Medicine