Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Besoek aan ’n Chinese apteek

’n Besoek aan ’n Chinese apteek

’n Besoek aan ’n Chinese apteek

KWOK KIT is al ’n paar dae siek, en daarom besluit hy dat hy dokter toe moet gaan. Omdat hy Chinees is, verkies hy om na ’n dokter van tradisionele Chinese geneeskunde te gaan. ’n Familievriend weet van so ’n dokter, wat ’n kruiewinkel in die omgewing besit en bestuur. Die vriend sê vir Kwok Kit dat die dokter ’n kruietee kan voorberei wat sy toestand sal genees.

In China, soos in die grootste deel van Suidoos-Asië, is ’n besoek aan ’n dokter baie anders as ’n besoek aan ’n dokter in Westerse lande. In die Weste sluit ’n besoek aan die dokter gewoonlik in dat ’n mens ’n afspraak maak, na die dokter se spreekkamer gaan, ondersoek word en ’n voorskrif ontvang. Dan moet die pasiënt na ’n apteek gaan om die voorskrif te kry. Met ’n Chinese dokter is die prosedure baie eenvoudiger. Jy besoek ’n kruiewinkel, waar ’n mens amper altyd ’n kruiedokter sal vind wat ook ’n dokter van Chinese geneeskunde is. Hy kan jou ondersoek, jou probleem diagnoseer, die kruievoorskrif berei en vir jou sê hoe om dit te gebruik—alles in een kort besoek! *

Kruie as medisyne?

Hoewel die meeste mense in die Weste gewoond is aan pille, kapsules en inspuitings, is hierdie vorme van geneeskunde betreklik nuut. Mense het duisende jare lank van natuurlike genesingsmetodes gebruik gemaak. Hebreeuse geneeshere in Bybeltye het byvoorbeeld middels soos olie, balsem en wyn gebruik (Jesaja 1:6; Jeremia 46:11; Lukas 10:34). Papmengsels wat van gedroogde vye gemaak is, is blykbaar gebruik om swere te behandel.—2 Konings 20:7.

Trouens, amper elke nasie of volk het op die een of ander stadium kruie en verskillende soorte preparate gebruik om kwale en siektes te behandel. Selfs baie speserye wat vandag in kos gebruik word, is eers vir hulle geneeskundige waarde gebruik. Dit beteken nie dat sulke gebruike altyd suksesvol was nie. Inteendeel, bygelowigheid en onkunde het dikwels ’n rol gespeel. Maar hierdie metodes vir die behandeling van siekes bestaan al duisende jare lank. Selfs van die bekendste medisyne vandag kom van plante af.

Die teorie en beoefening van Chinese geneeskunde

Die behandeling van siekte met kruiemedisyne is ’n onmisbare deel van die Chinese geskiedenis. Volgens volksoorleweringe het Hoeang Di, die Geel Keiser, die Nei Jing, die reëls van inwendige geneeskunde, saamgestel, wat mediese praktisyns in China nog steeds raadpleeg. * Hierdie stel reëls behandel baie van die onderwerpe wat ’n Westerse mediese handleiding sal dek. Dit bespreek nie net diagnoses, simptome, oorsake, behandeling en voorkoming van siektes nie, maar ook anatomie en liggaamsfunksies.

Soos in die geval van die meeste kunssoorte van Suidoos-Asië het die jin-jang-leer ’n verreikende invloed op die teorie en beoefening van Chinese geneeskunde. In hierdie geval verteenwoordig jin koue en jang warmte—hulle verteenwoordig ook baie ander teenoorgestelde eienskappe. * Meridiaanpunte op die liggaam, wat met akupunktuur geassosieer word, word ook tydens diagnose en behandeling in ag geneem. Kruie en voedsel wat as koud of warm beskou word, word voorgeskryf om die jin-jang-wanbalans in die pasiënt reg te stel.

’n Pasiënt met ’n koors word byvoorbeeld as warm beskou, en daarom sal kruie voorgeskryf word wat die liggaam glo sal laat afkoel. Hoewel jin-jang dalk nie meer spesifiek gemeld word nie, word dieselfde beginsels nog gebruik om vas te stel hoe om ’n pasiënt te behandel. Maar hoe maak ’n dokter van Chinese geneeskunde sy diagnose? En hoe lyk ’n kruiewinkel? Om uit te vind, kan ons gerus saam met Kwok Kit na die winkel gaan wat sy vriend aanbeveel het.

’n Eksotiese kruiewinkel

Wil jy nou meer! Vandag moet Kwok Kit wag om die dokter te sien. Daar is blykbaar ’n griep- of verkoue-epidemie en twee pasiënte is voor hom daar. Kom ons kyk ’n bietjie rond terwyl ons wag.

Toe ons inkom, was die eerste ding wat ons opgeval het die hope gedroogde produkte—sampioene, mossels, perlemoen, vye, neute en ander kossoorte—in oop bakke by die ingang. Ja, ’n mens kan hier kos koop. Maar party daarvan kan ook ’n deel van die voorskrifte wees.

Dan sien ons glastoonbanke aan weerskante van die betreklike smal winkel. Hierdie toonbanke bevat seldsame of spesiale kruie, minerale en uitgedroogde liggaamsdele van diere, wat baie duur is. Wanneer ons dit van naderby bekyk, sien ons herthorings, pêrels en uitgedroogde akkedisse en seeperdjies, sowel as ander eksotiese items. Tot onlangse jare nog kon renosterhorings, die galblase van bere en ander soortgelyke liggaamsdele van diere in sulke toonbanke gevind word, maar hierdie items is nou onwettig.

In ’n ander hoek van die winkel vind ons pakkies gemengde kruie vir algemene toestande soos verkoue en maagongesteldheid sowel as ’n versameling gebottelde kruiemedisyne van China. Sê net vir die winkelassistent of -klerk wat jou probleem is, en hy sal ’n gebottelde produk aanbeveel of vir jou gemengde kruie in ’n pakkie gee en vir jou verduidelik hoe jy dit tuis moet voorberei.

Langs een deel van die muur agter die winkelassistent sien ons rakke vol lang glasflesse wat verskillende gedroogde wortels, blare en takkies bevat. Dit is kruie wat die klante goed ken en kan koop om hulle eie rate mee voor te berei of om mee te kook. Aan die ander kant van die winkel is daar ’n kabinet wat van die vloer tot by die plafon strek en baie rye goed gebruikte laaie bevat. Dit word soms baizigui, of “kabinet met eenhonderd kinders” genoem, want daar kan honderd of meer laaie in so ’n kruiekabinet wees. Hierdie laaie maak dit moontlik om die kruie wat die algemeenste in voorskrifte gebruik word gou te vind, en dié wat die meeste gebruik word, word gehou waar ’n mens dit die maklikste kan bykom. Dit is nie ongewoon dat daar nie etikette op hierdie laaie is nie. Die ervare assistent weet presies waar elke krui gebêre word.

Kyk hoe noukeurig weeg die assistent kruie vir die vrou wat hy bedien. Hy gebruik ’n delikate, maar akkurate Asiatiese skaal—’n stok met ’n skaalverdeling en ’n ronde bakkie wat aan drie toutjies aan die een kant hang en ’n verstelbare gewig aan die ander kant. Hy weet dat sekere kruie dodelik kan wees as ’n mens te veel daarvan inneem, en daarom weeg hy dit baie versigtig af. Nie alles word geweeg nie. Nou sien ons hoe hy omtrent ’n halwe handvol van verskillende soorte kruie uit die laaie neem en dit op ’n vel papier gooi. Ja, jy is reg, hierdie voorskrif bevat ook die doppe van sonbesies. Terwyl hy al die bestanddele verpak, verduidelik hy vir die vrou hoe sy hierdie mengsel moet voorberei.

Kruiemedisyne word op verskillende maniere voorberei en gebruik. Party kom in poeiervorm. Die pasiënt los dit in warm water op en dan drink hy dit. Party is pastas. Dit word saam met heuning of ’n alkoholiese drank geneem. Maar vir hierdie vrou word daar gesê om die algemeenste voorbereidingsmetode te gebruik, naamlik om ’n aftreksel daarvan te maak. Dit beteken dat sy die kruie ongeveer ’n uur lank in ’n keramiekpot moet kook. Dan sal sy elke paar uur van die mengsel drink. As die vrou later nog van die voorskrif nodig het, hoef sy net weer na die winkel toe te kom vir nog.

Dit is uiteindelik Kwok Kit se beurt om die dokter te spreek. Nee, die dokter neem nie sy bloeddruk of luister nie na sy hartklop nie. Maar hy vra wel vir Kwok Kit oor sy simptome. Hoe slaap hy? Hoe is sy spysvertering, sy eetlus, ontlasting, temperatuur en veltoestand en -kleur? Die dokter kyk goed na sy oë en die kleur van verskillende dele van sy tong. Dan voel hy Kwok Kit se pols op albei gewrigte in verskillende posisies terwyl hy die druk afwissel wat hy daarop uitoefen, ’n prosedure wat glo die toestand van verskillende organe en liggaamsdele openbaar. Die dokter let selfs op enige ongewone reuk! Die diagnose? Net soos ons vermoed het, Kwok Kit het griep. Hy het rus en baie vloeistowwe nodig, saam met ’n voorskrif wat hy moet opkook en drink. Hierdie kruietee wat hy moet maak, sal bitter wees, maar dit sal hom beter laat voel. Behalwe dat die dokter vir Kwok Kit sê watter soorte kos hy moet vermy, skryf hy selfs goedgunstiglik ’n ingelegde pruim voor wat ’n aangename smaak in Kwok Kit se mond sal los nadat hy sy medisyne geneem het.

Kwok Kit gaan dan huis toe met sy pakkie kruie. Die besoek aan die dokter en die medisyne het hom minder as R140 gekos—’n heel redelik prys. Hoewel die kruie nie wonderwerke gaan verrig nie, behoort Kwok Kit binne ’n paar dae weer gesond te wees. Maar hy moenie die fout maak wat party ander al gemaak het en dink dat meer beter is nie. Dit is nie ongewoon om van mense te hoor wat hewige reaksies kry weens oordosisse van sekere kruie nie.

In party lande is daar min of geen standaarde wat kruie of die beoefenaars van tradisionele Chinese geneeskunde reguleer nie. Dit het die deur oopgemaak vir kruiekwaksalwery en selfs die verkoop van gevaarlike kruiemengsels as medisyne. Wanneer dit dus by die keuse van ’n tradisionele Chinese dokter kom, kan ’n mens verstaan waarom baie Asiatiese pasiënte op aanbevelings van familie en goeie vriende staatmaak.

Geen behandeling—hetsy kruie of Westerse geneesmiddels—kan natuurlik elke siekte genees nie. Die Chinese apteek en sy dokter van tradisionele geneeskunde sal nietemin voortgaan om ’n onmisbare deel van lewe in Asië te wees.

[Voetnote]

^ par. 3 Ontwaak! beveel nie enige spesifieke behandeling vir gesondheidsprobleme aan nie. Christene moet seker wees dat enige behandeling wat hulle gebruik nie in stryd met Bybelbeginsels is nie.

^ par. 8 Die Geel Keiser, ’n legendariese heerser voor die Tsjou-dinastie, het na bewering van 2697 tot 2595 v.G.J. geheers. Baie geleerdes meen egter dat die Nei Jing eers op skrif gestel is aan die einde van die Tsjou-dinastie, wat van ongeveer 1100 tot 250 v.G.J. geduur het, maar daar bestaan nog meningsverskille oor wanneer dit saamgestel is.

^ par. 9 Die Chinese karakter “jin” beteken letterlik “skadu” en verteenwoordig donkerheid, koue, vroulikheid. “Jang”, wat die teenoorgestelde is, verteenwoordig dinge wat helder, warm en manlik is.

[Prente op bladsy 23]

Eksotiese items, onder andere gedroogde seeperdjies, kan in die kruiewinkel gevind word

[Prente op bladsy 24]

Droë wortels, blare en takkies word versigtig geweeg