Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Dramatiese reddingsdaad

’n Dramatiese reddingsdaad

’n Dramatiese reddingsdaad

Deur Ontwaak!-medewerker in BENIN

“DAARDIE drie mans lewe net omdat Jehovah se Getuies hulle gered het!” Dit was die nuus wat op Woensdag, 19 April 2000, soos ’n veldbrand deur die stad Calavi, in die Wes-Afrikaland Benin, versprei het. Wie was die drie mans, en hoe was Jehovah se Getuies by hulle redding betrokke?

Philippe Elegbe en Roger Kounougbe het om ongeveer 6:30 vm. gereedgemaak om op die byeenkomsterrein van Jehovah se Getuies te werk wat langs die Benin-takkantoor van die Wagtoringgenootskap geleë is. Honderde sou daardie aand daar byeenkom vir die jaarlikse herdenking van Jesus Christus se dood. * Skielik het ’n oorverdowende slag die rustige oggendstilte verbreek. Philippe en Roger het dadelik besef dat daar ’n ongeluk op die hoofweg plaasgevind het.

Oomblikke later het hulle ’n man hoor skreeu: “My drie vakleerlinge is onder die sakke sement begrawe!” Philippe en Roger het na die hoofweg gehardloop. Daar het hulle ’n vragmotor van 20 ton op sy kant sien lê. Tientalle sakke vol sement het van die vragmotor afgeval.

Josué Didolanvi, wat ook by die byeenkomsterrein kom werk het, was alreeds op die toneel en het ’n man tussen die vragmotor se kajuit en die sakke sement uitgetrek. Die bestuurder, wat homself uit die kajuit getrek het, het aan skok gely. Hy het nogtans die krag bymekaar geskraap om te skreeu: “Daar is nog twee mense onder die sakke sement!” Party omstanders het die sakke begin verwyder, maar hulle het gou opgehou weens die verskriklike hitte. Die sement het pas uit die vervaardiger se oonde uitgekom!

Die mans word gered

Philippe, Roger en Josué het aan die berg sementsakke begin werk en die sakke een vir een verwyder. Hulle hande het gepyn weens die hitte en gewig van die 50 kilogram sakke. Om sake te vererger, het sement uit gebreekte sakke gespuit en hulle vingers vol blase gebrand en dit vir hulle moeilik gemaak om asem te haal. “My hande het gebrand, veral my vingers”, het Josué later gesê. “Maar ek het bly dink dat daar nog steeds ’n kans was om wie ook al daar onder lê te red.”

Nadat hulle amper 40 sakke verwyder het, het die drie mans ’n strooimat gesien. Tot hulle verbasing het hulle die twee mans daar gekry—reg onder die mat. Hulle het gelewe! Toe die ongeluk gebeur het, het hierdie mans agter op die vragmotor geslaap op die mat wat die sakke sement bedek het. Toe hulle van die vragmotor afval, het die mat bo-op hulle geval en hulle teen die brandende hitte van die sementsakke beskerm waaronder hulle begrawe is.

Gedurende en ná die reddingsdaad het ’n aansienlike aantal omstanders saamgedrom. Almal was verbaas dat Philippe, Roger en Josué ’n twee ton berg so vinnig en onder sulke ongunstige toestande kon verwyder. Hulle was ook beïndruk dat hierdie drie mans tot sulke uiterstes gegaan het om mense te help wat hulle nie eers geken het nie. Gou het almal in Calavi blykbaar van hulle dapper daad geweet.

[Voetnoot]

^ par. 4 In gehoorsaamheid aan Jesus se bevel herdenk Jehovah se Getuies elke jaar hierdie heilige gebeurtenis.—Lukas 22:19.

[Prent op bladsy 31]

Roger hou die strooimat vas ná die mans gered is