Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die aarde—’n Plek wat altyd lewe sal Onderhou

Die aarde—’n Plek wat altyd lewe sal Onderhou

Die aarde—’n Plek wat altyd lewe sal Onderhou

DIE ontsaglike verskeidenheid lewe op die aarde laat ’n mens dink aan die woorde in Psalm 104:24, 25: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele! Daar is die see, groot en alkante toe wyd—daar is ’n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes”—en ons kan byvoeg, selfs in die mees onherbergsame plekke!

Maar ongelukkig het die mens se onkunde en gierigheid daartoe gelei dat sommige lewensvorme uitgesterf het en ander op die randjie van uitsterwing staan. Besoedeling speel ’n groot rol hierin. Gevolglik bestudeer party wetenskaplikes sekere organismes wat teen gifstowwe en hitte bestand is—soos dié naby diepsee-openinge en in warmbronne soos by die Yellowstone- Nasionale Park—met die doel om hulle geheime te gebruik om van besoedelstowwe ontslae te raak. Intussen probeer ander wetenskaplikes ’n beter begrip verkry van hoe die aarde se lewensonderhoudende stelsels werk en die uitwerking wat die mens op hierdie stelsels het.

’n Eksperimentele lewensonderhoudende stelsel

Om ’n beter begrip van die aarde se lewensonderhoudende stelsels te verkry, het wetenskaplikes in die 1990’s met ’n heeltemal geslote lewensonderhoudende stelsel in Arizona, VSA, geëksperimenteer. Hulle het gehoop dat dit selfonderhoudend sou wees en het dit Biosfeer 2 genoem (die aarde is “Biosfeer 1”). Dit het meer as 3 000 spesies lewende dinge bevat, onder andere agt mense. Die hele stelsel was twee jaar lank van die buitewêreld afgesonder. Biosfeer 2 het egter ernstige probleme ondervind. “Byna al die voëls en diere en insekte wat veronderstel was om daar te floreer, het gesterf—behalwe kakkerlakke en ‘malmiere’”, het ’n verslag gesê en bygevoeg dat “die edele visie van Biosfeer 2 ’n grap geword het”. Hoe het hierdie mislukking tog die vindingrykheid beklemtoon van wat ons in “Biosfeer 1” sien!

Die Skepper sal tot ons redding kom!

Hoe meer ons omtrent die aarde en die lewende wonders daarop leer, hoe groter behoort ons respek te word vir hierdie waarlik dinamiese planeet en sy oneindig wyse Skepper. Baie mense toon natuurlik hulle liefde vir die aarde deur diep betrokke te raak by omgewingskwessies. Maar ongelukkig kom hierdie mense voor onoorkomelike hindernisse te staan, onder meer die mens se gierigheid en onkunde, wat nie deur die edelste bedoelings uit die weg geruim kan word nie.

Mense wat opreg oor die aarde besorg is, kan nogtans vertroosting put uit die Bybel se belofte dat God self binnekort alle gierige, goddelose mense sal vernietig wat ‘die aarde verderf’ (Openbaring 11:18; 2 Timoteus 3:1-5). Daarna sal die Skepper, wie se naam Jehovah is, ’n rehabilitasieprogram in werking stel wat die aarde deeglik sal reinig en in ’n paradysagtige oase van lewe sal verander.—Psalm 83:18, NW; Jesaja 35:1, 2.

Hierdie herstelwerk sal deur God se Koninkryk—’n hemelse regering in die hande van Christus Jesus—bewerkstellig word (Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10). Onder sy heerskappy sal die planeet Aarde floreer, want godvresende mense wat behae skep in Jehovah se soewereiniteit en die grootste respek vir al sy werke het, sal daarna omsien (Psalm 37:10, 11; Openbaring 21:3, 4). Waarom kan ons seker wees dat hierdie beloftes vervul sal word? Omdat God se “onsigbare eienskappe”, soos dit in die skepping en in die Bybel geopenbaar word, bewys dat ‘geen verklaring ’n onmoontlikheid by God sal wees nie’.—Romeine 1:20; Lukas 1:37.

[Prent op bladsy 12]

Ons aarde sal binnekort ’n paradys word