Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die betowerende kleur van Korje seladon

Die betowerende kleur van Korje seladon

Die betowerende kleur van Korje seladon

DEUR ONTWAAK!-SKRYWER IN KOREA

IN 1995 is ’n skat in die Truman-biblioteek in Missouri, VSA, ontdek. Wat was dit? ’n Keramiekwaterbotteltjie met ’n blompatroon en ’n donker glasuurlaag. Hoewel die bottel net 23 sentimeter hoog is, is dit ongeveer R20 000 000 werd. Dit is ’n voorbeeld van die Koreaanse erdewerk wat as Korje seladon bekend staan, en die Koreaanse regering het dit in 1946 aan die voormalige Amerikaanse president Harry Truman gegee.

Wat maak Korje seladon so waardevol? En wat onderskei dit van ander keramiekware?

’n Unieke metode

Die naam “Korje seladon” verwys na ’n unieke soort keramiek wat vir die eerste keer vervaardig is gedurende die deel van Korea se geskiedenis wat as die Korje-tydperk (918-1392 G.J.) bekend staan. * Die Koreaanse woord vir seladon, tsj’ongja, beteken blougekleurde porselein. Chinese van daardie tydperk het seladon baie geprys met uitdrukkings soos die “beste onder die hemel”. Dit is Korje seladon se diep, glansende blougroen glasuur wat dit so spesiaal maak.

Die pragtige liggroen kleur word verkry deur die kleure van die klei en die glasuur te kombineer. Dit is gedoen deur elke item twee keer te bak. In hierdie proses, verduidelik die Koreaanse kunshistorikus Jang-Mo Tsjoeng, is die voorwerp van klei gemaak wat yster bevat. Dit is eers teen 700 tot 800 grade Celsius gebak. Daarna is die oppervlak met glasuur bedek wat kalsiumkarbonaat en 1 tot 3 persent yster bevat het. Dan is die kruik weer gebak—hierdie keer teen ’n temperatuur van 1 250 tot 1 300 grade Celsius in ’n reduksieoond. *

Wanneer ’n mens Korje seladon noukeurig ondersoek, lyk dit of daar ’n natuurlike harmonie in die elegante patrone en vorms is. Klassieke seladonbottels, -teepotte, -skottels en -kruike het dieselfde kunstige patrone en vorms as tradisionele Koreaanse kleredrag en selfs danse. Die kunstige ontwerpe op die voorwerpe beeld ook natuurtonele uit. Pottebakkers het motiewe wat deur berge, bome, blomme, visse, voëls, insekte en mense geïnspireer is in wonderlike landskappe op die oppervlak van die seladon gekombineer. Sommige van die geometriese patrone wat hulle gebruik het, kan nog in moderne pottebakkersontwerpe gevind word.

Kom ons kyk nou na die kleure wat in seladonpatrone gebruik is. Die meeste van die patrone is met swart en wit pigmente ingelê. Aanvanklik het Korje-pottebakkers hulle tegnieke van China oorgeneem. Maar hulle het gou hulle eie vindingrykheid aan die dag gelê. ’n Uitstekende voorbeeld hiervan is die inlegtegniek wat sanggam genoem word. In hierdie proses word die motief op die oppervlak van die onvoltooide kruik ingegrif en dié groewe word dan met wit of rooi klei gevul. Die voorwerp word dan gebak. Gedurende hierdie stap bly die wit klei spierwit, maar die rooi klei word swart.

As ’n mens ’n seladon van naderby ondersoek, sal jy fyn krakies op die oppervlak daarvan sien. Is dit ’n defek? Wat veroorsaak hierdie krakies? Hoe ingewikkelder die ingelegde ontwerp is, hoe dunner moet die glasuur wees sodat die ontwerp duidelik sal uitstaan. Omdat dit so dun en bros is, het seladonglasuur altyd fyn krakies oor sy hele oppervlak gekry—’n gevolg van die soeke na ’n waarlik deursigtige afwerking. Die krakies is derhalwe uiteindelik beskou as ’n natuurlike kenmerk van Korje seladon en nie as ’n defek nie. Trouens, party hedendaagse pottebakkers gebruik opsetlik glasuur wat krakies vorm.

Pogings om Korje seladon te laat herlewe

Nadat die Mongole Korea vroeg in die 13de eeu binnegeval het, het Korje seladon vinnig agteruitgegaan. Uiteindelik het pottebakkers opgehou om die pragtige voorwerpe te maak, en hulle produksiemetodes het ’n vergete kuns geword. Vandag is pottebakkers vasbeslote om die tegniek te laat herlewe weens die hoë pryse wat Korje seladon behaal en die beperkte aantal voorwerpe wat nog bestaan. Deur fragmente van antieke seladon te ondersoek, het hulle voorwerpe gemaak wat in grootte en vorm identies aan die oorspronklikes is, en ’n paar pottebakkers beweer dat hulle daarin geslaag het om die ouer Korje seladon se betowerende kleur na te maak. Maar dit is moeilik om die presiese samestelling van die antieke glasuur na te maak—’n glasuur wat gemaak is deur slegs natuurlike bestanddele te gebruik.

Hedendaagse pottebakkers moet ook die uitdaging die hoof bied om ander besonderhede na te boots, soos hoe en hoe lank die erdewerk gebak is. Navorsers by die Seladon-navorsingsinstituut in Korea het met verskillende materiale en tegnieke geëksperimenteer om die betowerende kleur van Korje seladon te laat herlewe.

In onlangse jare is skatte van Korje seladon ontdek wat lank verlore was. In 1995 het ’n visserman byvoorbeeld besluit om ag te slaan op verhale wat hy gehoor het oor fragmente van erdewerk wat in visnette verstrengel raak. Saam met ander vissermanne het hy na erdewerk begin soek. Uiteindelik het hy 129 seladonvoorwerpe gevind. Ná die sukses van hierdie vissermanne het die Koreaanse Buro vir die Bewaring van Kulturele Eiendom ’n ondersoekspan saamgestel. Hulle het ’n skip gevind wat gesink het terwyl dit seladon vervoer het, en oor etlike maande het die span meer as 463 voorwerpe uitgehaal! Dit het seladonnavorsers en -kunshistorici natuurlik baie opgewonde gemaak.

Waardeer Korje seladon vandag

Hoe kan ’n mens vandag die prag van Korje seladon geniet? Miskien kan jy die uitstallings van Koreaanse kuns in sommige van die beroemde museums van die wêreld besoek, soos die Britse Museum of New York se Metropolitaanse Kunsmuseum. Of nog beter, as jy na Korea toe kom, kan jy die dorp Kangjin besoek, waar die grootste aantal vroeë seladonoonde aangetref is. Of jy kan een van verskeie jaarlikse keramiekfeeste in die Kjonggi-provinsie bywoon. Daar kan jy sien hoe seladon gemaak word. Jy kan selfs jou eie vernuf op die pottebakkerswiel op die proef stel. Kan jy jou voorstel dat jy self ’n voorwerp maak, woorde of patrone daarop aanbring, dit in ’n oond bak en uiteindelik die voltooide produk in jou hande hou?

Jy kan natuurlik ook moderne seladon by afdelingswinkels of soewenierwinkels koop. Daar word vase, teestelle en ander soort houers ten toon gestel—wat deur plaaslike pottebakkers met die hand of in ’n fabriek gemaak is. Miskien kan jy jou gaste dan Koreaanse tee in ’n seladonteekoppie bedien terwyl ’n seladonvaas vol blomme jou tafel versier.

[Voetnote]

^ par. 6 Die hedendaagse naam Korea kom van die naam Korje.

^ par. 7 In ’n reduksieoond word die lugtoevoer na die oond beperk, wat meebring dat koolstofmonoksied teenwoordig is.

[Prent op bladsy 17]

’n Oorspronklike vaas uit die 12de eeu

[Erkenning]

The Collection of National Museum of Korea

[Prent op bladsy 18]

Detail van ’n Korje seladon wat die unieke inleg toon