Het jy rustelose bene?
Het jy rustelose bene?
DIT is slapenstyd. Jy is gemaklik en ontspanne in jou bed. Dan begin dit—daardie kriewelrige gevoel in jou bene. Jy kan dit nie ignoreer nie. Die enigste manier om verligting te kry, is om op te staan en rond te loop. Dit help om te loop, maar wanneer jy weer gaan lê, keer die sensasie terug. Jy wil slaap, maar jy kan nie. As dit na iets klink wat jy ondervind, is jy nie alleen nie. Tot 15 persent van die Amerikaanse bevolking leef byvoorbeeld met hierdie toestand.
Hoewel baie dokters vandag nie hierdie toestand kan diagnoseer en behoorlik kan behandel nie, is dit niks nuuts nie. In 1685 het ’n dokter geskryf van diegene wat, nadat hulle bed toe gaan, “so ’n groot Rusteloosheid” in hulle arms en bene voel dat hulle “nie verder kan slaap nie, asof hulle in ’n Plek met die grootste Foltering is”.
Wat dit moeilik maak om hierdie toestand te identifiseer, is dat daar geen laboratoriumtoets is wat kan vasstel of ’n mens dit het nie. Dit word herken aan die simptome wat dit voortbring. ’n Goed ingeligte dokter sal dalk vra: ‘Voel jy die kriewelrige gevoel in een of albei jou bene? Voel jy dit ooit in jou arms? Gaan die ongemaklike gevoel weg as jy opstaan en loop, bad of jou bene masseer? Kry jy soms die onaangename sensasie wanneer jy lank moet sit, soos in ’n motor of ’n vliegtuig? Pla dit jou die meeste in die aand? Het enige van jou gesinslede dieselfde probleem? Sê jou huweliksmaat dat jy jou bene soms ruk wanneer jy slaap?’ As jou antwoord op party van hierdie vrae ja is, sal die dokter dalk tot die slotsom kom dat jy “rustelose bene”-sindroom (RBS) het.
Diegene wat dit het
Vir party is RBS ’n geringe steurnis met simptome wat nou en dan voorkom. Vir ander is dit veel ernstiger, want dit veroorsaak chroniese slaaploosheid, wat bedags tot moegheid lei en ’n groot invloed op hulle daaglikse lewe het. Een slagoffer het gesê: “Dit voel asof wurms in my bene kruip en kriewel. Ek moet my bene heen en weer beweeg om die gevoel te laat weggaan.”
RBS tas mense van albei geslagte aan en is veral algemeen en erger onder ouer mense. Dit word gewoonlik gediagnoseer onder mense in hulle vyftigerjare, hoewel die simptome al dikwels dekades vroeër verskyn. Soms kan simptome tot die kinderjare teruggevoer word. RBS word dikwels nie onder kinders gediagnoseer nie. Omdat hulle nie kan stilsit nie of voortdurend vroetel, word jongmense met RBS dikwels as “hiperaktief” beskryf.
Hoewel deskundiges erken dat RBS ’n neurologiese steurnis is, is dit moeilik om die oorsaak daarvan vas te stel. Onder die meeste wat dit het, is die oorsaak onbekend. RBS is egter al met sekere faktore verbind. RBS is byvoorbeeld ’n familiekwaal wat geneties van die ouers na hulle kinders oorgedra word. Party verwagtende vroue ondervind RBS-simptome, veral gedurende die laaste paar maande van swangerskap. Ná die geboorte verdwyn die steurnis gewoonlik. Soms veroorsaak ’n mediese wanbalans, soos lae ystervlakke of ’n tekort aan sekere vitamiene, RBS-steurnisse. ’n Chroniese siekte kan ook RBS-simptome veroorsaak—veral nierversaking, suikersiekte, gewrigsrumatiek en perifere senusiektes, die beskadiging van die senuwees in die hande en die voete.
Die soeke na verligting
Daar is ongelukkig geen geneesmiddel teen RBS nie, en die simptome vererger gewoonlik oor die jare. Die goeie nuus is egter dat RBS dikwels doeltreffend sonder medisyne behandel kan word. Daar is nie net een oplossing nie; wat die een persoon help, help dalk nie ’n ander nie. Diegene wat RBS het, moet kyk watter gewoontes, bedrywighede of medikasie die simptome vererger of verbeter.
Die eerste stap in behandeling is om te besluit of daar ’n geneesbare mediese toestand is wat die RBS-simptome veroorsaak. Vir diegene met ’n yster- of vitamientekort is dit dalk net nodig om die dieet met yster of vitamien B12 aan te vul om RBS-simptome te verlig. Dit kan egter jou gesondheid in gevaar stel as jy te veel vitamiene en minerale inneem. ’n Gesondheidsorgwerker moet dus geraadpleeg word om te besluit of ’n persoon yster- of vitamienaanvullings nodig het.
By sommige mense vererger kafeïen RBS-simptome. Koffie, tee, sjokolade en baie koeldranke bevat kafeïen. Dit kan help om RBS-simptome te verlig of uit die weg te ruim as kafeïeninname verminder of uitgeskakel word. Alkoholinname verhoog gewoonlik ook die duur of intensiteit van simptome. Party vind verligting deur alkohol in hulle dieet te verminder of uit te skakel.
Hoe om met RBS saam te leef
As jy RBS het, kan ’n verandering in lewenswyse jou dalk help. Aangesien moegheid en lomerigheid simptome dikwels vererger, kan ’n gereelde slaappatroon van groot hulp wees. Indien moontlik, is dit die beste om in ’n omgewing te slaap wat stil, koel en gemaklik is. Dit help ook om elke aand dieselfde tyd bed toe te gaan en om elke oggend dieselfde tyd wakker te word.
’n Gereelde oefenprogram sal jou help om lekker te slaap. Maar as jy binne die ses ure voordat jy bed toe gaan strawwe oefeninge doen, kan dit die teenoorgestelde uitwerking hê. Party met RBS vind dat matige oefeninge onmiddellik voor slapenstyd hulle help om te slaap. Eksperimenteer met verskillende oefeninge om uit te vind wat die beste vir jou is.
Moenie stry teen die drang om te beweeg nie. As jy probeer om nie te beweeg nie, vererger die simptome gewoonlik. Die beste oplossing is baie keer om uit die bed op te staan en rond te beweeg. Party vind ’n mate van verligting deur te loop, te strek, in warm of koue water te bad of hulle bene te masseer. As jy lank moet sit, soos wanneer jy reis, kan dit help as jy jou verstand aktief besig hou deur te lees.
Wat van medikasie? Die Stigting vir “Rustelose bene”-sindroom, in Raleigh, Noord-Carolina, VSA, sê dat “die instelling van terapie met farmakologiese middels dalk nodig sal wees”. Aangesien daar nie net een soort medisyne is wat vir almal werk wat aan RBS ly nie, kan jou gesondheidsorgwerker die medisyne vind wat vir jou die beste is. Party vind dat ’n kombinasie van medisyne baie doeltreffend is. Soms verloor medisyne wat ’n tyd lank gewerk het hulle doeltreffendheid. Aangesien die inname van medisyne en veral ’n kombinasie van middels gesondheidsgevare inhou, is dit belangrik om ten nouste met jou gesondheidsorgwerker saam te werk om vas te stel wat vir jou die beste is.