Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om delikate tande te beskerm

Hoe om delikate tande te beskerm

Hoe om delikate tande te beskerm

OP WATTER ouderdom het jou tande begin ontwikkel? Jy sal heel moontlik verbaas wees om uit te vind dat die proses begin het terwyl jy nog in die baarmoeder was—waarskynlik nog voordat jou ma selfs geweet het dat sy swanger was! Dit is derhalwe vir ’n verwagtende moeder belangrik om voldoende voedingstowwe in te neem, insluitende kalsium, fosfor, proteïene en vitamiene.

Wat van pasgeborenes? Deskundiges sê dat bottelbabas veral vir tandbederf vatbaar is en dat dit gewoonlik met die bovoortande begin. Maar hoe vind dit plaas? Party babas raak gereeld aan die slaap terwyl hulle aan ’n bottel met melk, sap, suikerwater of koeldrank suig. Hierdie gisbare vloeistowwe bevat koolhidrate waarop bakterieë floreer. Die bakterieë vervaardig weer sure wat die babas se tande kan beskadig—veral as die sure die hele nag met die tande in aanraking is. Party babas met ernstige tandbederf verloor hulle tande te gou, en dit kan ’n nadelige uitwerking hê op die ontwikkeling van hulle permanente tande.

Hoe kan ouers hulle babas se delikate tande beskerm? Borsvoeding word aanbeveel, veral omdat moedersmelk kiemvry en ryk aan teenliggaampies is. Maar as ’n bottel gebruik word, moet dit nie gebruik word as die baba ouer as 18 maande is nie, sê deskundiges. Hulle beveel ook ten sterkste aan dat ’n bottel net vir voeding gebruik moet word—en nie om die baba te troos nie. As die baba met ’n bottel bed toe gaan, sal dit boonop die beste wees as dit net gewone water bevat. Ná elke voeding kan ’n skoon, sagte lappie gebruik word om die baba se tande mee skoon te maak.

Vroeë tandbederf kan voorkom word. Deeglike tandversorging—ja, selfs vir ’n baba—is noodsaaklik!