Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Bestuurstoetswoede

“Uitskellery en aanranding van Frankryk se 500 bestuurstoetsbeamptes het sedert 1994 met 150 persent toegeneem”, berig die Paryse koerant International Herald Tribune. Minder as 60 persent van alle aansoekers slaag die bestuurstoets van 20 minute, en byna alle kandidate wat nie duur bestuurslesse geneem het nie, druip. Al hoe meer druipelinge koel hulle woede op toetsbeamptes, waarvan sommige al geslaan en aan hulle hare uit die motor gesleep is. ’n Man het selfs ’n toetsbeampte met ’n spuit gejaag waarin daar, volgens hom, vigs-besmette bloed was. Onlangs het ’n 23-jarige man wat sy toets gedruip het die toetsbeampte met ’n rewolwer geskiet wat met rubberkoeëls gelaai was. Om sulke geweld te voorkom, stel toetsbeamptes voor dat bestuurders per pos van hulle toetsuitslae in kennis gestel word en nie persoonlik nie.

Gespanne leerlinge

Eindeksamens verhoog die spanningsvlakke van baie kinders in Indië, berig die koerant die Asian Age van Mumbaai. Bloktyd kort voor die eksamen en die druk om goeie punte te kry, is net te veel vir party, en die aantal leerlinge wat psigiaters gedurende die eksamentyd besoek, verdubbel. Party ouers wat graag wil sien dat hulle kinders goed in die eksamen presteer, beperk alle vorme van vermaak. “Ouers plaas heelwat druk op hulle kinders. Daar is ook die mededinging met ander leerlinge”, sê die psigiater V. K. Mundra. Hy voeg by dat baie ouers “nie besef dat dit die kind se verstand sal verfris en hom sal help om beter te studeer as hulle hom help om te ontspan nie”. Dr. Harish Shetty sê dat eksamenspanning “nou selfs die leerlinge in [graad] een tot sewe aantas”.

Wildevarke neem die stad op horings

Wildevarke, wat gewoonlik sku bosbewoners is, het nie net ontdek dat daar volop voedsel in stede is nie, maar ook dat dit beskerming teen jagters bied, sê die Duitse weekblad Die Woche. Wilde sôe het selfs al in die stad Berlyn geboorte gegee. Die honger diere bly nie meer net in woude of in openbare parke nie. Hulle verniel ook privaattuine om by die blombolle uit te kom. Die wildevarke wat tot 350 kilogram kan weeg, het al baie stadsbewoners skrikgemaak, wat in sommige gevalle in bome of telefoonhokkies gaan skuil het. Die diere het tallose verkeersongelukke veroorsaak. ’n Aantal inwoners het al van die werk af tuisgekom en die harige indringers teëgekom. Een persoon het gevra: “Hoe moet ek in my huis kom wanneer daar 20 wildevarke tussen my motor en die voordeur staan?”

Tienerhuwelike

In Indië is tot 36 persent van getroude adolessente tussen 13 en 16 jaar oud, volgens ’n onlangse opname van Nasionale Gesinsgesondheid. Die studie het ook gevind dat 64 persent van meisies tussen 17 en 19 alreeds geboorte gegee het of swanger is, berig die koerant die Asian Age van Mumbaai. Volgens die verslag is die moontlikheid dat jong moeders tussen die ouderdomme van 15 en 19 weens swangerskapverwante oorsake sal sterf twee keer so groot as vir moeders tussen die ouderdomme van 20 en 24. Daarbenewens het seksueel oordraagbare infeksies onder jongmense tussen 15 en 24 gedurende die afgelope paar jaar verdubbel. Kenners skryf die groeiende probleme toe aan ’n gebrek aan kennis en aan misleidende inligting van portuurs en die media oor seksuele sake.

Een siekte in ruil vir ’n ander

“Dertig jaar gelede het drie uit vyf Egiptenare aan bilharzia gely, ’n slepende siekte wat deur parasiete in waterslakke veroorsaak word”, sê The Economist. Antibilharzia-kampanjes wat van moderne geneesmiddels gebruik maak, het die bedreiging drasties verminder. Maar dit lyk nou of een van die vroeë kampanjes moontlik “miljoene mense blootgestel het aan hepatitis C, ’n potensieel dodelike virus wat in die plek van bilharzia Egipte se grootste gesondheidsprobleem kan word”. Die rede is dat die naalde wat vir die inspuitings teen bilharzia gebruik is “dikwels weer gebruik is, en dit is selde behoorlik gesteriliseer. . . . Wetenskaplikes het die hepatitis C-virus (HCV), wat deur bloed oorgedra word, eers in 1988 geïdentifiseer”, sê die tydskrif. Opnames toon nou dat Egipte “die hoogste voorkomssyfer van hepatitis C ter wêreld het”. Nagenoeg 11 miljoen Egiptenare—ongeveer 1 uit 6—het blykbaar die siekte, wat in 70 persent van die gevalle in chroniese lewersiekte ontwikkel en in 5 persent noodlottig is. Die artikel noem dit “die grootste enkele oordrag van ’n virussiekte deur dokters tot op hede” en sê verder: “Die een troos is dat baie meer mense aan bilharzia sou gesterf het as dit nie vir die grootskaalse kampanjes was nie.”

Besoedeling veroorsaak ’n muggieplaag

Waterbesoedeling het blykbaar bygedra tot die probleem van bytende insekte naby die Chili-rivier, wat deur Arequipa, een van Peru se grootste stede, vloei. Weens die plaag van klein bytende muggies het die inwoners van die gebied al die insekdoders wat plaaslik in voorraad was, opgebruik. Volgens die koerant El Comercio van Lima is die plaag glo deur die chemiese besoedeling van die Chili-rivier veroorsaak. Gifstowwe het blykbaar baie van die rivier se paddas uitgewis, wat “hierdie insekte jare lank op ’n natuurlike biologiese wyse onder beheer gehou het”, sê die koerant.

Sterker wyne

Die polisie en alkoholbewustheidsgroepe in Brittanje waarsku dat die hoër alkoholinhoud van wyn kan veroorsaak dat geleentheidsdrinkers dronk word. Tien jaar gelede het slegs spesiale kwaliteits- en dessertwyne gewoonlik ’n alkoholinhoud van 13 of 14 persent gehad. Maar deesdae bevat wyn vir alledaagse gebruik dikwels tot 14 persent alkohol. Hierdie wyne kom meestal van lande soos Australië, Suid-Afrika en Chili, waar warmer klimate ryper, soeter druiwe voortbring, waarvan sterker wyne gemaak word. The Sunday Times van Londen het hieroor verslag gelewer en Mary-Ann McKibben, assistentdirektrise van Alcohol Concern, aangehaal: “Die alkoholinhoud van wyn neem toe, en dit word verwarrend vir verbruikers, wat nie rekening hou met die hoër alkoholinhoud nie.”

Te skoon?

Volgens die Instituut vir Omgewingsgeneeskunde en Hospitaalhigiëne by die Freiburg-universiteit, Duitsland, is sommige antibakteriese bymiddels in party huishoudelike produkte dalk nutteloos of selfs gevaarlik, berig die Duitse koerant Westfälische Nachrichten. “Nie een van hulle is nodig nie”, sê professor Franz Daschner, hoof van die instituut. “Eintlik kan dit verbruikers skade berokken.” In die eerste plek bevat sommige van hierdie produkte stowwe wat sterk allergene is. Die verslag sê dat klere wat sleg ruik eenvoudig gewas moet word en nie met antibakteriese chemikalieë behandel moet word nie. Daschner sê ten slotte: “Dit is heeltemal voldoende om klere met omgewingsvriendelike skoonmaakmiddels skoon te maak.”

Druk om aan te pas

’n Regeringsopname onder 500 tieners in Engeland toon dat daar “al hoe meer druk op [jongmense] uitgeoefen word om hulle by geïdealiseerde beelde in advertensies en die media aan te pas”, berig The Guardian van Londen. Terwyl meisies geneig is om hierdie druk te verwerk deur goeie vriende in hulle vertroue te neem, vind seuns dit moeiliker om oor hulle gevoelens te praat, met die gevolg dat baie aan hulle woede uiting gee deur aggressiewe of kriminele gedrag. Weens gevoelens van swak eiewaarde en toenemende terneergedruktheid is die moontlikheid dat seuns selfmoord sal pleeg drie keer groter as onder meisies van dieselfde ouderdom. Aan die ander kant is die moontlikheid vier keer groter dat meisies hulleself doelbewus leed sal aandoen of dat hulle aan eetversteuring soos anoreksie en bulimie sal ly.

Verwerpte sokkerspelers

“Meer as 90 persent van jong sokkerspelers wat in Afrika gewerf word om in Franse spanne te speel, word uiteindelik onwettige werkers [sonder] enige hoop om in die Franse samelewing opgeneem te word”, sê die Paryse nuustydskrif Marianne. ’n Amptelike Franse regeringsverslag het die gewetenlose werwingsagente veroordeel wat deur die wêreld reis op soek na jong talent. Duisende jong seuns van Afrika, insluitende ongeveer 300 onder 13 jaar, is deur die droom van ’n skitterende sportloopbaan mislei. Maar die oorgrote meerderheid teken geen amptelike kontrak met ’n klub nie en is op die ou end brandarm. Die tydskrif sê: “Daar is baie meer hartseer verhale as suksesverhale in die lêers van sokkerregsgeleerdes.”