Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom het my pa ons verlaat?

Waarom het my pa ons verlaat?

Jongmense vra . . .

Waarom het my pa ons verlaat?

“Ek het nooit regtig verstaan waarom my pa ons verlaat het nie. Al wat ek geweet het, is wat my ma my vertel het.”—James. *

WANNEER ’n pa sy goed vat en die huis verlaat, laat hy dikwels ’n storm van pyn en bitterheid agter. “Ek was regtig ontsteld toe my ma en pa geskei het”, sê die 14-jarige James, wat hierbo aangehaal word. En wanneer ’n pa sonder ’n verduideliking loop en dan nie met sy gesin in aanraking bly nie, kan sy kinders baie jare daarna nog met gevoelens van skuld, verwerping en gegriefdheid worstel. *

As jou eie pa julle verlaat het, is jy dalk pynlik bewus van die rede. “My pa het ons vir ’n ander vrou verlaat”, sê ’n jong man met die naam Michael. “Ek het hom eenkeer saam met haar gesien, en dit het my woedend gemaak. Ek het gevoel dat my pa ons in die steek gelaat het.” In sommige gevalle is dit egter ’n verligting as ’n ouer weggaan. Melissa, wie se pa ’n alkoholis is, sê: “Dit sou vir ons moeiliker gewees het as hy by ons gebly het.”

In baie gevalle het die kinders egter geen idee waarom hulle pa weggegaan het nie, en dit kan sy afwesigheid selfs nog pynliker maak. Jy het dalk weliswaar geweet dat jou ouers probleme het, maar jy het moontlik nooit kon droom dat hulle uitmekaar sou gaan nie. Robert sê: “Toe my pa ons verlaat, het ek regtig nie alles verstaan wat aangegaan het nie. Al wat ek geweet het, is dat dit nie goed gegaan het nie omdat my ouers die hele tyd baklei het.”

Waarom verlaat party vaders die huis? Moet jy dit as ’n persoonlike verwerping beskou as jou eie pa weggegaan het? En waarom is jou ouers dalk huiwerig om jou iets daarvan te vertel? Is hulle nie ’n verduideliking aan jou verskuldig nie?

Waarom hulle stilbly

Die redes waarom ’n vader weggaan, is nooit aangenaam nie. Die rede is dikwels egbreuk—slegte gedrag wat gewoonlik goed weggesteek is vir die gesin. Wanneer ’n vrou van so ’n oortreding uitvind, besluit sy dalk om van haar man te skei. Sy kan hom selfs vra om liewer te gaan nog voordat die egskeidingsproses begin. Die kinders weet dalk glad nie waarom dit gebeur nie.

Probeer egter verstaan waarom jou ma dalk onwillig is om spesifiek te vertel wat gebeur het. Om maar een ding te noem, sy voel dalk dat dit net meer ellende sal veroorsaak as sy enige wangedrag van jou pa openbaar. Besef ook hoe moeilik dit vir ’n vrou moet wees om uit te vind dat haar man ontrou was (Maleagi 2:13,14). As egbreuk die oorsaak van jou ouers se skeiding is, moet jy nie verbaas wees as jou ma dit te pynlik vind om oor die saak te praat nie.

Wat van jou pa? As hy ontrou aan jou ma was, is dit te verstane dat hy waarskynlik nie met jou daaroor sal praat nie. Party mans voel so skuldig oor hulle slegte gedrag dat hulle nie eers hulle kinders in die gesig kan kyk nie! Ondanks hulle skandelike gedrag bly baie vaders nog steeds lief vir hulle kinders en probeer hulle dalk om weer met hulle in aanraking te kom.

In party gevalle gaan die pa weg weens die slegte gedrag van sy vrou, en hy doen alles in sy vermoë om na aan sy kinders te bly. Maar in ander gevalle is egbreuk glad nie die oorsaak van ’n egskeiding nie, maar die hoogtepunt van jare se stryery in die huwelik * (Spreuke 18:24, NW). Omdat dit dikwels agter geslote deure plaasvind, het jy dalk geen idee waaroor die bakleiery was nie.

Die Bybel sê in Spreuke 25:9: “Verdedig jou saak teen jou naaste, maar openbaar ’n ander se geheim nie.” Twis in die huwelik gaan soms oor private, intieme sake. Glo dit as jy wil, maar dit is waarskynlik beter vir jou as jy nie van sulke dinge hoor nie. Trouens, om ’n “geheim” te openbaar, vererger dikwels net ’n onaangename situasie. Jy sal dalk geneig voel om kant te kies—wat net tot die onenigheid in julle gesin sal bydra. Op die ou end sal dit dus vir jou beter wees as jou ouers oor die besonderhede van hulle geskille swyg.

Stry teen gegriefdheid deur te probeer verstaan

Dit is nogtans moeilik om nie kwaad en gegrief te voel wanneer jou pa die huis verlaat het en jy nie weet waarom nie. Die Bybel sê egter in Spreuke 19:11 (NW): “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn [verwyder dit nie noodwendig nie].” En jy het nie al die besonderhede nodig om te verstaan wat aangaan nie.

Die Bybel help ons byvoorbeeld om te sien dat ons ouers onvolmaak is. Dit sê: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). As jy hierdie pynlike waarheid aanvaar, kan dit jou help om jou ouers se foute in perspektief te sien. As jou pa byvoorbeeld sy huweliksgeloftes verbreek het, is dit ’n ernstige oortreding—een waarvoor hy voor God aanspreeklik is (Hebreërs 13:4). Maar dit beteken nie noodwendig dat hy jou verwerp het of dat hy jou nie liefhet nie.

Alle egpare het “verdrukking in hulle vlees” (1 Korintiërs 7:28). En hoewel daar geen verskoning vir hulle gedrag is nie, swig party mans en vroue voor verkeerde dade onder die druk van die lewe in hierdie wêreld vol probleme. Robert sê: “My pa wou vir ons die beste gegee het. Hy het met die gesin na ’n gebied verhuis waar hy gedink het hy ’n beter bestaan kon maak sodat ons ’n mooi huis kon hê en die gesin gelukkig sou wees.” Maar sy pa se opregte pogings om sy gesin ’n beter lewe te bied, het gou verkeerd geloop. Robert verduidelik: “My pa het al hoe minder na Christelike vergaderinge begin gaan. Toe het hy sy werk verloor. Hy het naderhand op my ma en my suster begin skel.” Gou het dinge so agteruitgegaan dat sy pa en ma geskei het.

Robert kon baie verbitterd geword het weens sy pa se tekortkominge. Maar omdat hy sy pa se omstandighede verstaan het, het dit sy woede laat bedaar. Hoewel die verbrokkeling van sy ouers se huwelik tragies was, het dit Robert iets belangriks geleer. Robert sê: “Wanneer ek met ’n gesin begin, moet geestelike sake eerste gestel word.”

Michael, wat vroeër genoem is, moes ook teen kwade gevoelens stry. Hy erken: “Ek wou my pa seermaak vir wat hy aan ons gedoen het.” Maar hy het met sy pa in aanraking gebly. Met verloop van tyd was Michael selfs in staat om sy woede te laat vaar en met sy lewe voort te gaan.

Miskien wil jy ook probeer om so ’n normale verhouding met jou pa te hê as wat die omstandighede toelaat. Hy het jou en jou ma dalk weliswaar seergemaak. Maar jy het moontlik nie al die feite nie. En selfs al weet jy dat hy aan slegte gedrag skuldig is, is hy nog steeds jou pa. Jy is onder verpligting om ten minste ’n mate van respek aan hom te betoon (Efesiërs 6:1-3). Vermy “toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal” wanneer jy met hom te doen het (Efesiërs 4:31). Indien moontlik, moet jy nie by jou ouers se private huweliksgeskille betrokke raak nie. Jy kan ’n goeie verhouding met al twee handhaaf deur albei jou ouers gerus te stel dat jy hulle liefhet.

Dit is nie jou skuld nie

As jou pa die huis verlaat, is dit seker een van die pynlikste dinge wat jy ooit sal ervaar. Maar selfs al vind jy nooit al die redes uit waarom hy julle verlaat het nie, is daar geen rede om te voel dat dit jou skuld was nie. Dit voel dalk wel soos ’n persoonlike verwerping. Maar huwelike verbrokkel selde weens die kinders. Jou ouers het ’n gelofte voor God gemaak om bymekaar te bly. Dit is hulle verantwoordelikheid—nie joune nie—om dit na te kom.—Prediker 5:3-5.

As jy nog steeds verward, skuldig of verantwoordelik voel, kan jy gerus met jou ouers daaroor probeer praat. Hulle sal heel moontlik openhartig met jou daaroor praat en jou die nodige gerusstelling gee. James, wat aan die begin aangehaal is, sê: “Ek het altyd gedink dat dit my skuld is, totdat my ma en my pa die tyd geneem het om met my te gesels.” Jong Nancy het ook skuldig gevoel toe haar pa en ma uitmekaargegaan het. Ná verskeie gesprekke met haar ma kon Nancy tot die gevolgtrekking kom: “Kinders moenie hulleself blameer vir wat hulle ouers doen nie.” Ja, as jy jou ouers toelaat om ‘hulle eie vrag’ van verantwoordelikheid te dra, kan dit verhinder dat jy emosioneel oorlaai voel (Galasiërs 6:5). Maar hoe kan jy dit verwerk om nou in ’n vaderlose huis te bly? ’n Toekomstige artikel in hierdie reeks sal ’n paar antwoorde gee.

[Voetnote]

^ par. 3 Van die name is verander.

^ par. 4 Sien die voorbladreeks, “Vaderlose gesinne—Hoe die kringloop verbreek kan word”, in die Ontwaak! van 8 Februarie 2000.

^ par. 12 Die Bybel toon egter duidelik dat hoerery die enigste skriftuurlike grondslag is waarop albei partye, ná die huwelik beëindig is, weer mag trou.—Matteus 19:9.

[Prent op bladsy 15]

Moenie jouself vir jou ouers se huweliksprobleme blameer nie