Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulp met prostaatprobleme

Hulp met prostaatprobleme

Hulp met prostaatprobleme

“Toe ek 54 jaar oud was, het ek herhaaldelik begin urineer, soms elke 30 minute. As gevolg van hierdie simptoom het ek ’n dokter gaan raadpleeg, en ek het uitgevind dat my prostaat verwyder moet word.” Soortgelyke verhale is algemeen in prostaatklinieke oor die hele wêreld. Wat kan ’n man doen om prostaatsiektes te voorkom? Wanneer moet hy mediese raad inwin?

DIE PROSTAAT is ’n okkerneutvormige klier wat onder die blaas geleë is en wat die urinebuis omsluit. (Sien die illustrasie van die manlike pelvis.) In ’n normale, volwasse man weeg dit omtrent 20 gram en is dit hoogstens vier sentimeter lank langs sy dwarsas, drie sentimeter langs sy vertikale as en twee sentimeter langs sy horisontale as. Die funksie daarvan is om ’n vloeistof te vervaardig wat ongeveer 30 persent van die volume van sperma opmaak. Hierdie vloeistof, wat sitroensuur, kalsium en ensieme bevat, verhoog vermoedelik die sperma se beweeglikheid (se vermoë om te swem) en die vrugbaarheid daarvan. Dié vloeistof wat deur die prostaat afgeskei word, bevat boonop sink, en wetenskaplikes se teorie is dat dit ’n mens teen infeksies van die geslagskanaal kan beskerm.

Die simptome van ’n siek prostaat

By mans hou verskeie pelvissimptome met ontsteekte of gewasagtige prostaatsiekte verband. Prostatitis—ontsteking van die prostaat—kan koors, ongemaklike urinering en kruiswerwel- of blaaspyn veroorsaak. Wanneer die prostaat baie geswel is, kan dit die pasiënt verhinder om te urineer. As die ontsteking deur bakterieë veroorsaak word, word die siekte bakteriese prostatitis genoem, en dit kan ernstig of chronies wees. Dit gaan gewoonlik met urinebuisinfeksie gepaard. In baie gevalle word die oorsaak van die ontsteking egter nie vasgestel nie, en daarom word die siekte niebakteriese prostatitis genoem.

Algemene prostaatprobleme is: ’n toename in gereelde urinering, urinering gedurende die nag, ’n swak urinestroom en die gevoel dat die blaas nie heeltemal leeg is nie. Hierdie simptome dui gewoonlik goedaardige prostatiese hiperplasia (GPH) aan—’n niekankeragtige vergroting van die prostaat—wat mans bo 40 jaar kan aantas. GPH kom algemener voor namate ’n mens ouer word. Dit kom voor by 25 persent van die mans van 55-jarige ouderdom en by 50 persent van 75-jarige ouderdom.

Die prostaat kan ook deur kwaadaardige gewasse aangeval word. Prostaatkanker word gewoonlik gedurende ’n roetine-ondersoek ontdek, selfs al is daar geen prostaatsimptome nie. In meer gevorderde gevalle vind urienterughouding plaas en swel die blaas op. As die kanker na ander organe versprei het, kan rugpyn, neurologiese simptome en swelling in die bene voorkom omdat daar ’n obstruksie in die limfvaatstelsel is. In ’n onlangse jaar het die Verenigde State alleen ongeveer 300 000 nuwe gevalle van prostaatkanker aangemeld, asook 41 000 sterfgevalle wat daardeur veroorsaak is. Wetenskaplikes is van mening dat 30 persent van die mans tussen die ouderdomme van 60 en 69 en 67 persent van die mans tussen 80 en 89 prostaatkanker sal ontwikkel.

Wie sal dit heel moontlik kry?

Navorsing toon dat die moontlikheid om prostaatkanker te kry drasties toeneem ná die ouderdom van 50. In die Verenigde State kom hierdie kanker ongeveer twee keer meer voor onder swart mans as onder wit mans. Die voorkomsyfer van hierdie siekte verskil oor die wêreld; dit is hoog in Noord-Amerika en Europese lande, gemiddeld in Suid-Amerika en laag in Asië. Dit gee te kenne dat omgewings- of dieetkundige verskille ’n belangrike rol in die ontwikkeling van prostaatkanker speel. ’n Man se persoonlike risiko kan toeneem as hy na ’n land immigreer waar dit algemener voorkom.

Mans wie se familielede prostaatkanker het, het ’n groter moontlikheid om dit te kry. “As ’n man ’n pa of ’n broer met prostaatkanker het, is die moontlikheid twee keer groter dat hy hierdie siekte kan kry”, verduidelik die Amerikaanse Kankervereniging. Sommige risikofaktore is ouderdom, ras, nasionaliteit, familiegeskiedenis, dieet en fisiese onbedrywigheid. Mans wat vetryke kos eet en ’n sittende lewe lei, kan die soort kanker makliker kry.

Voorkoming van prostaatsiektes

Hoewel wetenskaplikes nog steeds nie presies weet wat prostaatkanker veroorsaak nie, glo hulle dat genetiese en hormoonfaktore daarby betrokke is. Gelukkig kan ons twee risikofaktore beheer—dieet en fisiese bedrywighede. Die Amerikaanse Kankervereniging beveel aan dat ’n mens “jou inname van vetryke kossoorte beperk wat van diere afkomstig is en die meeste van jou kossoorte uit plante kies”. Hulle beveel ook aan dat ’n mens “elke dag vyf of meer porsies vrugte en groente” eet, sowel as brood, ontbytgraan, pasta, ander graanprodukte, rys en boontjies. Tamaties, pomelo’s en waatlemoene is ryk aan likopeen—antioksideermiddels wat skade aan DNS voorkom en wat die gevaar van prostaatkanker kan verlaag. Sommige deskundiges beweer ook dat sekere kruie en minerale kan help.

Die Amerikaanse Kankervereniging en die Amerikaanse Urologiese Vereniging is van mening dat toetse vir prostaatkanker lewens kan red. Behandeling sal heel waarskynlik suksesvol wees as die kanker vroeg opgespoor word. Die Amerikaanse Kankervereniging beveel aan dat mans bo 50, of bo 45 in die geval van diegene in ’n hoërisikogroep, ’n jaarlikse mediese ondersoek ondergaan. *

Die ondersoek moet ’n prostaat- spesifieke antigeenbloedtoets (PSA) insluit. Hierdie antigeen is ’n proteïen wat deur prostaatselle vervaardig word. Die vlak daarvan verhoog in prostaatsiektes. “As jou PSA-toets nie normaal is nie, moet jy jou dokter vra om jou kankerrisiko asook enige verdere toetse met jou te bespreek”, sê die Amerikaanse Kankervereniging. ’n Rektale ondersoek met die vinger (DRE) word ook gedoen. Die dokter kan deur die pasiënt se rektum enige abnormale gedeelte aan die prostaatklier voel, aangesien dié klier aan die voorkant van die rektum geleë is. (Sien die illustrasie van die manlike pelvis op bladsy 20.) ’n Transrektale ultraklanktoets (TRAT) help “wanneer die PSA of DRE ’n abnormaliteit aandui”, en die dokter moet besluit of hy ’n biopsie op die prostaatklier moet laat doen. Die toets neem ongeveer 20 minute.

’n Jaarlikse urologiese ondersoek spoor nie net prostaatkanker op nie, maar kan ook GPH, waarna vroeër verwys is, in ’n vroeë stadium ontdek wat minder drastiese behandeling sal verg. (Sien die venster “Behandeling vir GPH”.) Sedelike, kuis gedrag beskerm ’n mens teen geslagsiektes, wat prostatitis kan veroorsaak.

Jou prostaat verdien beslis om beskerm en versorg te word. Die man wat aan die begin van hierdie artikel genoem is, het gesê dat hy ten volle van sy operasie herstel het. Volgens hom “moet alle mans jaarliks ’n voorkomende mediese ondersoek ondergaan”, selfs al het hulle nie enige simptome nie.

[Voetnoot]

^ par. 13 As jy in hierdie ouderdomsgroep val, word jy genooi om die venster “Lys simptome van goedaardige prostatiese hiperplasia (GPH)” te raadpleeg.

[Venster op bladsy 21]

Lys simptome van goedaardige prostatiese hiperplasia (GPH)

Riglyne: Antwoord die vrae hieronder deur die gepaste nommer te omkring.

Vrae 1-6 moet soos volg beantwoord word:

0—Glad nie

1—Minder as een uit vyf keer

2—Minder as die helfte van die tyd

3—Ongeveer die helfte van die tyd

4—Meer as die helfte van die tyd

5—Byna altyd

1. Hoe dikwels het jy gedurende die afgelope maand, nadat jy geürineer het, die gevoel gekry dat jou blaas nie heeltemal leeg was nie? 0 1 2 3 4 5

2. Hoe dikwels moes jy gedurende die afgelope maand weer ná minder as twee uur urineer? 0 1 2 3 4 5

3. Hoe dikwels het jy gedurende die afgelope maand gevind dat jy verskeie kere stop en weer begin wanneer jy urineer? 0 1 2 3 4 5

4. Hoe dikwels was dit gedurende die afgelope maand vir jou moeilik om urinering uit te stel? 0 1 2 3 4 5

5. Hoe dikwels het jy gedurende die afgelope maand ’n swak urinestroom gehad? 0 1 2 3 4 5

6. Hoe dikwels moes jy jou gedurende die afgelope maand inspan om te begin urineer? 0 1 2 3 4 5

7. Gemiddeld hoeveel keer moes jy gedurende die afgelope maand opstaan om te urineer van die tyd dat jy bed toe is totdat jy weer in die oggend opgestaan het? (Omkring die aantal kere.) 0 1 2 3 4 5

Die totaal van die nommers wat omkring is, is die telling van jou GPH-simptoom. Gering: 0-7; matig: 8-19; ernstig: 20-35.

[Erkenning]

Van die Amerikaanse Urologiese Vereniging

[Venster op bladsy 22]

Behandeling vir GPH

MEDISYNE: ’n Groot verskeidenheid medisyne word na gelang van elke pasiënt se simptome gebruik. Net jou dokter kan dit vir jou voorskryf.

OM WAAKSAAM TE WAG: Die pasiënt het net periodieke mediese ondersoeke en gebruik nie medisyne nie.

CHIRURGIE:

(a) Gedurende ’n transuretrale reseksie van die prostaat (TURP) steek die chirurg ’n instrument (resektoskoop) met ’n elektriese draadlis deur die urinebuis wat weefsel afsny en bloedvate seël. Geen uitwendige insnyding is nodig nie. Dit neem ongeveer 90 minute. Transuretrale metodes is minder traumaties as ’n uitwendige insnyding.

(b) ’n Transuretrale insnyding van die prostaat (TUIP) is soos TURP. Hierdie metode verbreed egter die urinebuis deur ’n paar snytjies in die uretra-opening en die prostaatklier te maak.

(c) ’n Operasie is nodig wanneer ’n transuretrale metode nie uitgevoer kan word nie weens ’n baie vergrote prostaat. ’n Operasie vereis ’n uitwendige insnyding.

(d) In laserchirurgie word lasers gebruik om weefsel te verwyder wat ’n obstruksie in die prostaat veroorsaak.

Die pasiënt moet uiteindelik self besluit watter, indien enige, behandeling hy sal aanvaar. ’n Onlangse berig in The New York Times het getoon dat party deskundiges selfs onseker is of hulle, veral in ouer mans, vir prostaatkanker moet toets, omdat dit ’n “siekte is wat stadig ontwikkel en onwaarskynlik blywende skade aan die gesondheid sal aanrig, terwyl die behandeling daarvan dikwels ernstige newe-effekte kan veroorsaak”.

[Venster op bladsy 22]

Vrae wat jy jou dokter dalk voor ’n operasie wil vra

1. Watter operasie beveel jy aan?

2. Waarom het ek die operasie nodig?

3. Is daar alternatiewe vorme van behandeling?

4. Wat is die voordele van die operasie?

5. Watter gevare is by die operasie betrokke? (Byvoorbeeld bloeding of impotensie)

6. Wat sal gebeur as ek nie hierdie operasie ondergaan nie?

7. Waar kan ek ’n tweede mening kry?

8. Watter ondervinding het jy om hierdie operasie sonder bloed uit te voer?

9. Waar sal die operasie gedoen word? Respekteer die hospitaal se dokters en verpleegsters die pasiënt se regte in verband met bloedoortappings?

10. Watter soort narkose sal ek moet kry? Het die narkotiseur ondervinding waar operasies sonder bloedoortappings uitgevoer word?

11. Hoe lank sal dit my neem om te herstel?

12. Hoeveel gaan die operasie kos?

[Diagram op bladsy 20]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Skets van die manlike pelvis

Blaas

Prostaat

Rektum

Urinebuis

[Prent op bladsy 23]

’n Gesonde dieet en matige oefeninge kan die gevaar van prostaatkanker verlaag