Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Koolstofmonoksied—die stille doder

Koolstofmonoksied—die stille doder

Koolstofmonoksied—die stille doder

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

ELKE jaar sterf ongeveer 50 mense in Brittanje weens koolstofmonoksiedvergiftiging wat deur foutiewe verwarmingstoestelle in die huis veroorsaak word. “Na asbes is koolstofmonoksied die algemeenste, enkele oorsaak van vergiftiging by die werk en in die huis”, sê London Hazards Centre Trust. Wat is koolstofmonoksied?

Koolstofmonoksied is ’n gas wat gevorm word wanneer gedeeltelike verbranding plaasvind, hetsy in ’n motorenjin of in verwarmingstoestelle wat steenkool of ander fossielbrandstowwe, veral gas, verbrand. Dit is kleurloos, reukloos en smaakloos. Hoe veroorsaak dit dan mense se dood?

Rooi bloedselle vervoer lewensbelangrike suurstof na die liggaamsweefsel. Wat koolstofmonoksied so gevaarlik maak, is dat rooi bloedselle koolstofmonoksied eerder as suurstof opneem. Koolstofmonoksiedvergiftiging vind plaas namate die liggaam te min suurstof kry. Blootstelling aan klein hoeveelhede koolstofmonoksied kan oor ’n geruime tyd tot permanente breinskade lei. Simptome sluit in hoofpyn, lomerigheid, swakheid, duiseligheid, naarheid en floute—en in ernstige gevalle ’n swak polsslag, koma en asemhalingsprobleme. As iemand skielik vergiftig word, moet suurstof onmiddellik toegedien en die persoon gehelp word om asem te haal voordat asfiksie—onvoldoende suurstof na die brein—die dood veroorsaak.

Wat kan gedoen word om die gevare van koolstofmonoksied te verhoed? Laat ’n deskundige alle toestelle installeer en gereeld nagaan. As ’n gasvlam geel in plaas van blou brand, moet jy dit beskou as ’n waarskuwing dat onreëlmatige verbranding en moontlike vrystelling van koolstofmonoksied plaasvind. Verskillende soorte huishoudelike koolstofmonoksiedalarms is nou beskikbaar. Moet nooit oorgerus raak wanneer jy toestelle gebruik wat koolstofmonoksied kan vrystel nie.

[Prent op bladsy 31]

Onreëlmatige vlam

[Prent op bladsy 31]

Normale vlam

[Prent op bladsy 31]

Verskillende soorte huishoudelike koolstofmonoksiedalarms is nou beskikbaar