Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Duur gogga

Rekenaaringenieurs het ’n sug van verligting geslaak toe die meeste rekenaarstelsels suksesvol van 1999 tot 2000 oorgeskakel het. Sekere ontleders het voorspel dat baie rekenaarprogramme, wat nie tussen 1900 en 2000 kan onderskei nie weens ’n programmeringstegniek wat die eerste twee syfers van jaartalle weggelaat het, ineen sou stort en allerhande ontwrigtings sou veroorsaak. (Sien die Ontwaak! van 8 Februarie 1999, bladsye 21-3.) Om dit te voorkom, het programmeerders gespook om foutiewe stelsels voor die kritieke dag te herstel. Hoeveel het dit gekos? Volgens ’n artikel in die Franse dagblad Le Monde het ’n finansieringsgroep geskat dat dit “wêreldwyd tussen 300 en 600 miljard dollar [tussen twee- en vierbiljoen rand]” gekos het. Die Verenigde State het ongeveer 700 miljard rand en Frankryk 140 miljard rand bestee. In vergelyking hiermee het die Golfoorlog die geallieerde magte “tussen 46 en 60 miljard dollar [318 en 415 miljard rand]” gekos. Maar “die geskiedenis sal herhaal word . . . , en ons sal ’n nuwe reeks rekenaarverwante syferprobleme hê om ons oor te bekommer”, sê The Wall Street Journal. Gelukkig “sal nie een van hierdie probleme waarskynlik so erg soos die Jaar-2000-gogga wees nie”.

Wagwoordprobleme

Wagwoorde wat vergeet word, kos Amerikaanse sakeondernemings elke jaar miljoene rande weens verlore produktiwiteit en omdat tegniese hulp verleen moet word. “Twintig jaar gelede moes mense slegs hulle bestaansbeveiligingsnommer en miskien een of twee telefoonnommers onthou”, sê The New York Times. Maar dit het nou vir baie iets alledaags geword om wagwoorde by die werk te gebruik om toegang tot rekenaarlêers en e-pos-dienste te verkry. Trouens, dit is nie ongewoon dat mense tientalle wagwoorde, toegangskodes en persoonlike identifikasienommers het nie. Een netwerkadministrateur het blykbaar 129 aktiewe wagwoorde. Sommige maatskappye vervang derhalwe stelsels wat van wagwoorde gebruik maak met vingerafdrukaftasters en ander hipertegnologiese sekuriteitstoestelle.

Woede en jou hart

“Die moontlikheid dat mense wat maklik kwaad word ’n hartaanval sal kry, [is] amper drie keer groter as vir diegene wat nie maklik kwaad word nie”, sê ’n verslag in die koerant die Globe and Mail. Byna 13 000 mense het aan ’n ses jaar lange program vir die risikobepaling van hartsiektes deelgeneem. Niemand wat aan die program deelgeneem het, het aan die begin van die studie hartsiektes gehad nie. Elkeen is ’n reeks vrae gevra en geklassifiseer as iemand met ’n lae, gemiddelde of hoë woede-indeks. Oor die tydperk van ses jaar het 256 persone hartaanvalle gehad. Die studie het getoon dat diegene in die groep met die gemiddelde indeks ’n 35 persent groter moontlikheid gehad het om hartprobleme te hê. Die hoof van die studie, dr. Janice Williams van die Universiteit van Noord-Carolina, sê: “Woede kan tot hartaanvalle lei, veral onder middeljarige mans en vroue met normale bloeddruk.” Gevolglik het die navorsers voorgestel dat mense wat maklik kwaad word dit moet oorweeg om tegnieke te gebruik om spanning onder beheer te hou.

Die jongste nuus oor rook

“Nadat rook ’n eeu lank toegeneem het, is daar nou ’n wêreldwye afname in rook”, berig ’n Worldwatch Issue Alert. Van 1990 tot 1999 het die wêreldwye verbruik van sigarette met 11 persent afgeneem. Hierdie afwaartse neiging word al byna twee dekades lank in die Verenigde State gesien, waar 42 persent minder sigarette in 1999 as in 1980 gerook is. Die verslag skryf die afname toe aan antirookveldtogte, groeiende bewustheid van die gevare van rook en hoër pryse. Daarbenewens het “die aantal sigarette wat per persoon gerook word met 19 persent in Frankryk afgeneem vandat dit ’n hoogtepunt in 1985 bereik het, met 8 persent in China sedert 1990 en met 4 persent in Japan sedert 1992”, sê die verslag.

Mense sonder mediese fonds ignoreer siekte

’n Onlangse studie in die Verenigde State het getoon dat mense wat nie mediese fonds het nie meer geneig is om tekens van siekte te ignoreer en minder geneig is om mediese hulp te soek, berig die Reuters-nuusdiens. Die studie, wat oorspronklik in die Archives of Internal Medicine gepubliseer is, is gebaseer op inligting wat deur die Nasionale Sentrum vir Gesondheidstatistiek ingesamel is. Navorsing het getoon dat diegene sonder ’n mediese fonds minder geneig is om mediese sorg te soek as diegene wat aan ’n mediese fonds behoort, al is daar tekens van ernstige siekte, soos belemmerde visie of die verskyning van ’n knop in die bors. Die verslag het gesê: “Dit is ironies dat ons, in die tyd dat ons land ’n ‘Verklaring van Regte vir die Pasiënt’ opstel, nog nie die reg gewaarborg het om ’n pasiënt te wees nie.”

Middeleeuse dieretuin in Londen

Uitgrawings onder die beroemde Toring van Londen het nuwe besonderhede aan die lig gebring oor “’n klein Middeleeuse dieretuin waar ’n besonderse verskeidenheid diere aangehou is”, berig The Sunday Times van Londen. Navorsers sê dat daar bewyse is dat 100 verskillende spesies, onder meer renosters, wildsbokke, tiers, volstruise, slange en alligators, vroeër aangehou is onder wat vandag die Westelike Toring is. Deskundiges weet al ’n geruime tyd van die dieretuin, maar nuwe navorsing in koninklike, universiteits- en kerkargiewe, tesame met inligting wat uit die opgrawings verkry is, het etlike punte opgeklaar. Die dieretuin is omstreeks 1210 deur koning Jan gestig en in 1835 gesluit toe die Londen-dieretuin in Regent Park geopen is. Party diere is toe na die nuwe dieretuin oorgeplaas, terwyl ander na Amerika verskeep is. Die voortbestaan van die dieretuin oor so ’n lang tyd is hoofsaaklik te danke aan die belangstelling wat opeenvolgende konings daarin getoon het en die betreklik stabiele toestand van die land. Geoffrey Parnell, hoofargiefbewaarder van die toring, sê: “Dit was ongetwyfeld Londen se gewildste vertoning, wat adellikes en burgerlikes eeue lank vermaak het.”

Kitsklaar geregtigheid

Drie regters in die staat Espirito Santo, Brasilië, toets ’n rekenaarprogram wat bedoel is om kitsklaar geregtelike uitsprake te lewer, berig die tydskrif New Scientist. Die program, wat die Elektroniese Regter genoem word, werk op ’n skootrekenaar. Wanneer ’n klein ongeluk plaasvind, ontbied die polisie ’n regter en ’n hofklerk na die ongelukstoneel. Die program is bedoel om die menslike regter te help om die getuienis te oorweeg en dadelik uitspraak te lewer. Dit word gedoen deur die menslike regter ’n reeks vrae te vra, soos “Het die bestuurder by die rooi lig stilgehou?” of “Het die bestuurder meer alkohol gedrink as die aanvaarbare wettige hoeveelheid?” Dit druk dan sy beslissing uit sowel as die redes daarvoor. Volgens die New Scientist kan die program ook “boetes [uitreik], skadevergoeding toeken en selfs tronkvonnisse voorstel”. Daar word gehoop dat die rekenaarprogram menslike regters sal help om hulle werk doeltreffender te doen en sodoende sal help om die las van Brasilië se oorlaaide regstelsel te verlig.

Water as aansporingsmiddel

Party handelaars in Indië slaan munt uit ’n onlangse droogte en lok klante met water. Hulle bied mense wat groot huishoudelike toestelle koop gratis water aan. The Times of India het berig dat een kleinhandelaar belowe het dat hy enige klant wat ’n oond, ’n yskas, ’n wasmasjien of ’n televisiestel koop 500 liter water vier dae per week gedurende twee somermaande sal gee. ’n Ander winkel het ‘gratis water vir die res van die somer’ saam met enige aankope van ’n yskas of ’n televisiestel aangebied. Die noordwestelike deel van die staat Goedjarat wat onder een van die ergste waterkrisisse tot nog toe gebuk gaan, het gevind dat water baie aanlokliker is as geskenke van goud, silwer of gratis vakansies. In die stad Rajkot het sakemanne gesê dat hulle verkope verdriedubbel het wanneer hulle water as ’n aansporingsmiddel aangebied het.

Raaisel oor diamante opgelos

Die hardste natuurlike stof wat aan die mens bekend is, naamlik die diamant, word gevorm wanneer koolstof aan uiterste temperature en druk blootgestel word. Maar wat word ’n diamant wanneer dit onder druk geplaas word? Wetenskaplikes probeer al 40 jaar lank daardie vraag beantwoord—en onlangs het hulle die antwoord gekry. “Wanneer genoeg druk teen die regte hoeke aangewend word”, berig The Buffalo News, “verander die hardste bekende stof in grafiet, dieselfde koolstof . . . waaruit dit gevorm word.” Wetenskaplikes sê dat hulle hoop om gebruik te maak van wat hulle in hulle eksperimente geleer het om beter diamantgereedskap te maak.