Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Uiteindelik die oplossing!

Uiteindelik die oplossing!

Uiteindelik die oplossing!

STEL jou ’n wêreld voor waarin elke kind werklik welkom is, werklik geliefd is en besorgde, liefdevolle ouers het wat ’n opregte begeerte het om hulle kind die heel beste leiding en voorligting te gee. Stel jou ’n wêreld voor waar elke kind fisies sowel as verstandelik gesond is, waar daar nêrens straatkinders te vinde is nie en waar kinders nie meer hulle kinderjare ontneem word omdat hulle weens ekonomiese nood moet werk nie!

Is dit iets wat jy begeer? Natuurlik. Is dit iets wat jy kan glo? Jehovah se Getuies dink so, en daar is twee redes hiervoor.

Ouers kan ’n deel van die oplossing voorsien

Jy sal ongetwyfeld saamstem dat volwassenes wel die vermoë het om sommige van die probleme van kinders op te los—en dit soms selfs te voorkom. Dit is natuurlik as hulle, die volwassenes, bereid is om dit te doen. Ja, ouers self het een van die sleutels tot die probleem tot hulle beskikking.

Volwassenes wat byvoorbeeld die Bybel se raad kan volg dat ‘’n vrou nie van haar man moet weggaan nie, en ’n man nie sy vrou moet verlaat nie’, het nie kinders wat ly omdat hulle in ’n huis woon wat verbrokkel het omdat die ouers mekaar verlaat het of geskei is nie.—1 Korintiërs 7:10, 11.

Volwassenes wat bereid is om die Bybel se raad te volg om ‘welvoeglik te wandel, nie in swelgerye en dronkenskap nie’, het nie kinders wat die angs verduur wat deur dronk of dwelmverslaafde ouers veroorsaak word nie.—Romeine 13:13; Efesiërs 5:18.

Volwassenes wat bereid is om die Bybel se raad te volg om hulle te “onthou van hoerery”, help om die risiko te verminder dat hulle kinders onwelkom is en moontlik in ’n enkelouergesin grootword.—1 Tessalonisense 4:3; Matteus 19:9.

Volwassenes wat bereid is om die Bybel se raad te volg: “Moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie” en wat ‘hulle kinders liefhet’, sal nie kinders hê wat die fisiese of verstandelike pyn van mishandeling in enige van sy verskillende vorme ervaar nie.—Kolossense 3:21; Titus 2:4.

Ons kan ter opsomming vra: Sou daar miljoene onwelkome of ongeliefde kinders wees as alle volwassenes bereid was om die Bybelraad te volg wat Jesus gegee het: “Alles wat julle dus wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen”?—Matteus 7:12.

Gelukkig is daar baie volwassenes wat wel bereid is om al die bogenoemde riglyne te volg. Maar ongelukkig is nie almal bereid om dit te doen nie, en dit is waar die probleem lê. En selfs diegene wat bereid is, vind dat hulle pogings dikwels deur menslike onvolmaaktheid en dinge buite hulle beheer belemmer word. Mense kan ’n deel van die oplossing vir die probleme van kinders voorsien, maar dit is duidelik dat hulle nie die finale oplossing kan voorsien nie.

’n Regering van God om die finale oplossing te voorsien

Die skrywer John Ruskin, wat in die vorige artikel gemeld is, het vas geglo dat “’n Staat se eerste plig is om toe te sien dat elke kind wat daarin gebore word toereikende behuising, klere, voedsel en opvoeding ontvang, totdat hy die ouderdom bereik het waar hy onderskeidingsvermoë aan die dag kan lê”. Maar om dit te verwesenlik, het Ruskin erken, moet “die Regering die soort gesag oor mense hê soos waaraan ons nou nie eers kan droom nie”.

Slegs ’n regering wat God se steun het, kan die heilsame gesag hê waarvan Ruskin gepraat het. En ons is presies so ’n regering belowe—die regering wat Jesus in Matteus 6:9, 10 gemeld het. Wanneer hierdie regering van God eers algehele beheer oor die aarde se aangeleenthede oorgeneem het, sal dit gesag oor alle volke uitoefen—dit sal behuising, klere, voedsel en opvoeding aan al sy onderdane, insluitende kinders, voorsien (Jesaja 65:17-25). Maar hierdie volmaakte regering sal selfs meer doen.

God se Koninkryk sal mense tot volmaaktheid herstel, wat hulle in staat sal stel om kinders in volmaaktheid groot te maak (Job 33:24-26). Kinders sal grootgemaak word in die gees van vrede en universele broederskap, die ideaal wat in die VN se Verklaring van die Regte van die Kind uiteengesit word (Psalm 46:9, 10). Daar sal nooit weer ’n behoefte aan ’n Internasionale Jaar van die Kind of aan ’n Konvensie oor die Regte van die Kind wees nie.

Vir Christus Jesus, die Koning van hierdie hemelse regering, sal dit ’n eenvoudige taak wees om ouers en gestremde kinders volmaakte gesondheid te gee. Die wonderdadige genesings wat hy verrig het terwyl hy op aarde was, is ’n waarborg hiervan (Lukas 6:17-19; Johannes 5:3-9; 9:1-7). Hy sal selfs afgestorwe kinders en ouers kan opwek!—Matteus 9:18-25.

Hoe bly is ons tog om te weet dat God se tyd om ten behoewe van die aarde se kinders op te tree naby is!

[Venster/Prente op bladsy 12]

Hulp vir jongmense

Jehovah se Getuies wil jongmense baie graag help om probleme te vermy sowel as hulle leer hoe om onvermydelike probleme op die beste manier die hoof te bied. Gevolglik het hulle deur die jare heen ’n aantal hulpmiddels uitgegee wat bedoel is om in die behoeftes van jongmense—van kleuters tot tienderjariges—te voorsien. Hierdie publikasies sluit die boeke in: My boek met Bybelverhale en Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk sowel as ’n video Young People Ask—How Can I Make Real Friends? Jy kan dit kry by Jehovah se Getuies in jou omgewing of deur aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf.

Wat hulle eie kinders betref, Jehovah se Getuies wys vir hulle dat hulle welkom en geliefd is deur gereeld die kinders se probleme met hulle te bespreek. Ouers gebruik dikwels die uitstekende materiaal in die bogenoemde studiehulpe as ’n grondslag vir ’n progressiewe, gereelde program om jongmense op te lei. Miskien sal jy graag ’n soortgelyke program met jou kinders wil volg.