Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Twintigste eeu Veels geluk met die leersame en opvoedkundige werk wat julle doen. As ’n verslaggewer van politieke en militêre sake is ek altyd krities oor die artikels wat ek lees. Maar die reeks “Die 20ste eeu—kritieke jare van verandering” (8 Desember 1999) was uitstekend. Die foto’s op die voorblad het die mees betekenisvolle gebeure van hierdie eeu goed uitgebeeld.

A. P., Angola

Melatonien en depressie Die nuusbrokkie, “’n Lang nag”, in “Ons beskou die wêreld” (8 Maart 2000) het my aandag getrek. Ek werk by ’n instituut waar melatonien nagevors word, en dit lyk of julle nuusbrokkie foutief was. As melatonien seisoensdepressie veroorsaak, is dit eerder ’n oormaat as ’n tekort aan hierdie hormoon wat daarvoor verantwoordelik is.

X. Y., Frankryk

Dit lyk nou asof die presiese verband tussen melatonien en seisoensdepressie—indien enige—nie bevestig kan word nie. Navorsers het onlangs gesê die geskil is dalk nie soseer die melatonienvlak nie, maar hoe ’n tekort aan lig die siklus van melatonienproduksie kan belemmer. Meer navorsing moet klaarblyklik nog gedoen word voordat enige definitiewe gevolgtrekkings gemaak kan word.—RED.

Fout in die kunsvoorstelling? Ek was in die hospitaal en het die tydskrif van 8 Januarie 2000, met die voorbladartikels “Bloedlose geneeskunde en chirurgie—al hoe gewilder”, gelees, toe ’n senior hartspesialis en ’n span studente ingekom het. Hy het gesê dat die EKG-diagram (elektrokardiogram) op die voorblad agterstevoor was.

J. T., Engeland

Die diagram het as ’n kunsvoorstelling verskyn. Dit is vir party gesondheidswerkers gewys voordat dit gepubliseer is; maar ander mediese personeel wat die diagram sedertdien gesien het, stem saam dat dit verkeerd geteken is. Ons vra om verskoning vir die fout.—RED.

Ek hou op rook Ek was tot heel onlangs nog aan sigarette, dagga, alkohol en kokaïen verslaaf. Ek het baie keer op my eie probeer om op te hou, maar sonder sukses. Dit was eers nadat ek die Bybel saam met een van Jehovah se Getuies begin studeer het dat ek begin voel het ek is iets werd. Met Jehovah se hulp het ek sedert Januarie nie weer dwelms gebruik of gerook nie. Die onttrekkingsimptome was ondraaglik. Ek het sedert Januarie nog nie ’n goeie nagrus geniet nie. Die reeks “Hoe jy kan ophou rook” van 22 Maart 2000 het my gehelp om te sien dat my slaapprobleem ’n onttrekkingsimptoom is en dat ek nie besig is om mal te word nie! Baie dankie.

D. M., Verenigde State

Toe ek julle beskrywing van nikotienonttrekking lees, het dit my herinner aan wat ek moes deurmaak. In die begin kon ek aan niks anders as sigarette dink nie. Geleidelik het dae, toe weke en toe maande verbygegaan sonder dat ek eers aan sigarette gedink het. Jehovah het my beslis gehelp nadat ek myself belowe het dat ek nooit weer sal rook nie. Dit was 20 jaar gelede, en ek het nooit weer gerook nie.

D. A., Italië

Motte Baie dankie dat julle die artikel oor die pouoogmot, “Wanneer liefde blind is” (22 Maart 2000), gepubliseer het. Ek het een agter in my erf gekry. Toe ’n ander een by hom aansluit, het ek ’n foto geneem wat oor plaaslike TV uitgesaai is. Ek waardeer regtig die harde werk en navorsing wat daarby betrokke is om die tydskrifte te publiseer.

I. K., Verenigde State

El Nino Ek wil julle bedank vir die leersame artikel “Wat is El Nino?” (22 Maart 2000). Om die waarheid te sê, ek het in 1998 gehoor hoe almal oor El Nino praat, en ek het nie ’n benul gehad waaroor dit gaan nie. Wel, die verduideliking is reg by my deur afgelewer! Julle artikel was kort, maar nogtans baie leersaam.

U. N., Verenigde State