Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Yellowstone—smeltkroes van water, rots en vuur

Yellowstone—smeltkroes van water, rots en vuur

Yellowstone—smeltkroes van water, rots en vuur

Deur Ontwaak!-medewerker in die Verenigde State

As ons praat van die wêreld se eerste nasionale park, die wêreld se bekendste en hoogste geisers en Noord-Amerika se grootste bergmeer, dan praat ons van Yellowstone.

EK EN my vrou het gebrand van nuuskierigheid terwyl ons na die noordelike ingang van die Yellowstone- Nasionale Park in Wyoming, VSA, gery het. Van ons kinderjare af het die naam Old Faithful en woorde soos “geiser” en “warmwaterbron” ons belangstelling geprikkel. Sou die werklikheid aan ons verwagtinge voldoen?

By die hoofingang van die park het ons ’n massiewe klipboog gesien. Bo-aan die boog was die woorde gegrif: “Tot voordeel en vir die genot van die volk.” Yellowstone is in 1872 geopen en was die wêreld se eerste nasionale park.

Ons het ons besoek by die Mammoth-warmwaterbron begin, net oorkant die grens van Montana. Hier kon ’n mens sien dat die hitte van die aarde hard aan die werk is. Water het in poele en bekkens gekook en opgeborrel. Kolomme stoom het uit skeure opgestyg. Terrasse van die pienk mineraal wat travertyn genoem word, het soos druppende kerswas gelyk.

Wat is onder Yellowstone aan die kook?

Yellowstone het tot 10 000 geotermiese wonders. Die Kontinentale Waterskeiding * loop deur hierdie hoë plato van die Rotsgebergte. Water vloei weswaarts en ooswaarts, maar ook afwaarts. Ons het uitgevind dat Yellowstone sy wonders met hierdie water verrig wat in die grond in sink. Groot vulkaniese uitbarstings het vroeër op die plato plaasgevind. Duisende jare gelede het een van hierdie uitbarstings ’n reusagtige krater gevorm wat 75 kilometer by 45 kilometer groot is. Die magma, of gesmelte rots, wat nog steeds onder die oppervlak aanwesig is, hou Yellowstone aan die kook.

Uitstallings in die park verduidelik dat oppervlakwater deur poreuse rots afsyfer totdat dit ’n rotslaag net bokant die magma bereik wat uiters warm is. Die hitte stoot die water weer op. Waar dit ’n opening vind, word ’n warmwaterbron gevorm. Wanneer versperrings in die rots die opwaartse vloei van die verhitte water belemmer, bou die druk op, en ’n geiser vorm. Op ander plekke word die vog as stoom uitgespu. Hierdie openinge word fumaroles genoem. Modderpoele borrel waar suur gasse en water die grond in modder en klei verander. Wat ’n skouspelagtige vertoning!

Old Faithful

Toe ons al die geotermiese aktiwiteit om die Mammoth-warmwaterbron sien, het ons aangeneem dat ons naby die bekende geiser Old Faithful is. Eers toe ons ons kaart nagaan, het ons besef dat Old Faithful 80 kilometer suid daarvandaan is. Yellowstone is baie groter as wat ons gedink het; dit beslaan 900 000 hektaar.

Om Old Faithful te bereik, het ons die pad gevolg wat deur die westelike deel van die park kronkel; dit neem toeriste verby vyf geiserbekkens. Ons het gou gewoond geraak aan die reuk van swael en die ontsnappende vog.

Soos die miljoene ander wat Old Faithful voor ons besoek het, wou ons weet wanneer die geiser sou uitbars. Ons het altyd gedink die uitbarstings is so gereeld soos klokslag—presies elke 57 minute. Maar toe ons rondkyk, het ons ’n teken gesien wat sê dat die geiser se volgende uitbarsting om 12:47 nm. verwag word. Dit sou oor meer as ’n uur wees, en dit was maar wanneer hulle verwag het dit sou gebeur! Ons het Rick, een van die park se veldwagters, hieroor gevra.

“Dit is ’n mite dat Old Faithful met presiese tussenposes uitbars”, het hy gesê. “Die tyd tussen uitbarstings het nog altyd gewissel, en met die jare het dit langer geword weens aardbewings en omdat vandale voorwerpe in die mond van die geiser gooi. Vandag is die gemiddelde tussenpose ongeveer 80 minute. Ons personeel kan slegs een uitbarsting op ’n keer voorspel.”

Dit was nou 12:30 nm. Ons het na Old Faithful geloop om sy volgende voorspelde vertoning te sien. Honderde mense het in die toeskouersarea gesit of was op pad soontoe. Old Faithful het ons tien minute laat wag. Maar toe hy uitbars, het hy ’n prag gehad waaraan geen foto reg kan laat geskied nie. Nadat hy sy keel met ’n paar rukkerige uitbarstings skoongemaak het, het hy op dreef gekom. Almal het hande geklap. Die uitbarsting het ongeveer drie minute geduur, en tot ons vreugde was dit besonder hoog. Die water het in crescendo’s opgeskiet en teruggeval en ’n hoogte van ongeveer 40 tot 50 meter bereik. Die sproei het die sonlig weerkaats en in veranderende patrone weggedryf.

Toe dit verby was, het ons weer na die voorportaal van die nabygeleë hotel gegaan. Maar Old Faithful het aangehou om sy teenwoordigheid te laat geld. Gedurende die res van die dag, elke keer wanneer die voorspelde oomblik nader gekom het, het al die gaste alles waarmee hulle besig was laat staan en uitgeloop om daarna te kyk. Ons het verskeie uitbarstings gesien wat besonder lank, hoog en pragtig was, veral een waarin die dansende water ’n silhoeët teen die sonsondergang gevorm het. Ons het gevind dat die ou geiser waarlik getrou was.

“Daar is minder as 500 geisers op die planeet, en ongeveer 300 van hulle is in Yellowstone”, het Rick, die veldwagter, vir ons gesê. “En 160 daarvan is in hierdie een klein vallei, die Boonste Geiserbekken, wat net twee kilometer lank is. Ander geisers kom en gaan—hulle is aktief of rustend—maar Old Faithful is nog steeds hier.” Old Faithful se buurman, Grand, spuit strome water tot 60 meter in die lug op. Steamboat kan water byna 120 meter hoog opskiet, drie keer so hoog as Old Faithful—maar hy kan jare lank onaktief bly. By Norris sproei ’n geiser met die naam Echinus sy bewonderaars van tyd tot tyd met warm water.

Om vir ’n buffel weg te hardloop

Ons het die volgende oggend na ’n toeristebrosjure gekyk. Dit het gesê: “Vuurwarm water kom onder ’n dun, bros kors voor; poele is net onder of bo kookpunt. Elke jaar word besoekers wat in die termiese gebiede van die roete afdwaal ernstig gebrand, en mense het al in die vuurwarm water gesterf.” ’n Ander brosjure het gesê: “Waarskuwing: Baie besoekers is al deur buffels gestoot. Buffels kan 900 kilogram weeg en kan teen 50 kilometer per uur hardloop, drie keer vinniger as wat jy kan hardloop.” Ons het gehoop dat ons nie binnekort vir ’n buffel sal moet weghardloop nie!

In Yellowstone het diere die reg van voorrang op paaie. Wanneer ’n dier gesien word, hou motors skielik stil en verkeersknope ontstaan op onverwagse plekke. Voertuie het net begin beweeg ná ’n verkeersknoop toe ons daar aankom, en toeriste het in hulle motors teruggeklim. Toe ons ’n vrou vra waarna almal gekyk het, het sy gesê: “’n Groot elandbul, maar hy’s nou weg.”

Daarna het ons gekyk hoe ’n paar elke hulle twee week oue kalfies oor ’n stroom probeer kry. Hulle het van die berge af gekom waar hulle oorwinter het en was nou op pad na die laerliggende dele van die park. Die kalfies wou nie beweeg nie—hulle het nie verwag om ’n stroom oor te steek nie. Die koeie het aanhoudend na hulle kalfies geroep, en uiteindelik het die kalfies die stroom oorgesteek.

“My eie geringheid, my hulpeloosheid”

Daarna het ons na die Grand Canyon van Yellowstone gery. Ons het by verskillende uitkykpunte langs die 360 meter hoë rand uit ons motor geklim en soms bietjie skrikkerig afgekyk. In die joernaal van sy ekspedisie in 1870 het Nathaniel Langford gepraat van “my eie geringheid, my hulpeloosheid” terwyl hy na hierdie 32 kilometer lange kloof met sy helder, geelbruin mure—waarvan die Yellowstone-rivier sy naam kry—en twee indrukwekkende watervalle gekyk het. Ons het net so klein en hulpeloos soos hy gevoel.

Die volgende dag het ons ooswaarts gery. Die park se landskap het weer verander. Hier het dit hoogliggende woudgebied geword, en die pad het die Kontinentale Waterskeiding twee keer gekruis. Ons het nog buffels en ander groot diere gesien, en die buffels het dikwels in ’n tipiese buffelhouding gestaan. Ongelukkig het ons nie bere—Yellowstone se ander groot toeristeaantreklikheid—gesien nie. Wat het van hulle geword?

Deur die jare heen het die noue kontak tussen mense en bere daartoe gelei dat sommige toeriste beseer of doodgemaak is. Die situasie was ook nie goed vir die bere nie. In die vroeë 1970’s het die Nasionale Parkdiens gevolglik die vullishope gesluit en sodoende die bere gedwing om nie op mense staat te maak vir kos nie. Dit het gemaak dat die bere weer na die woud teruggekeer het. Die program was suksesvol. Die bere is nou op ’n natuurlike dieet, en hulle is gesonder. Maar hulle kom toeriste nog op sekere plekke teë, soos by Fishing Bridge, waar die mens en die beer gaan om te eet, te slaap en vis te vang.

Ons het Fishing Bridge ons laaste bestemming gemaak. Dit was daar waar die park ons sy laaste groot verrassing gegee het. Toe ons oor die Yellowstone-meer—die grootste bergmeer in Noord-Amerika—na die sneeubedekte Tetons kyk, het ons vir ’n oomblik gedink dat ons in die noorde van Italië was; die meer en die omgewing het dieselfde Alpynse prag gehad. Maar daar was geen bere nie.

Dit was tyd om Yellowstone te verlaat. Ons oë en ons gees is ryklik beloon. Die werklikheid het ons verwagtinge oortref.

[Voetnoot]

^ par. 8 Die Kontinentale Waterskeiding is ’n hoë gebied wat deur Noord- en Suid-Amerika loop. Die rivierstelsels aan weerskante daarvan loop in teenoorgestelde rigtings—na die Stille Oseaan en die Atlantiese Oseaan, die Golf van Mexiko en die Noordelike Yssee.

[Venster/Prent op bladsy 17]

Die brande van 1988

In laat Julie en Augustus 1988 het klein brande in Yellowstone vinnig in agt vernietigende brande verander wat buite beheer geraak het. Droogte was een rede, aangesien die somer van 1988 die droogste in Yellowstone se opgetekende geskiedenis was. Sterk winde was die ander rede. Die winde het tot 80 kilometer per uur bereik en die brande tot 20 kilometer ver per dag aangedryf. Dit het gloeiende kole verder voor die brand uit gewaai as wat brandweermanne al ooit gesien het. Hierdie gloeiende kole het nuwe brande begin.

Toe die brandbestrydingspoging, wat $120 miljoen (R830 miljoen) gekos het, sy klimaks bereik het, was byna 10 000 vrywilligers en weermagsbrandweermanne en meer as 100 brandweerwaens daarby betrokke. Helikopters en tenkvliegtuie het ongeveer 5 000 000 liter brandvertraer en 40 000 000 liter water afgegooi. Hierdie pogings was tevergeefs en die brande het vinnig deur die park versprei. ’n Aantal gemeenskappe het die verwoesting naelskraap vrygespring. Dag ná dag het ’n dik rookkombers in die lug gehang. Teen laat somer het die park soos ’n oorlogsgebied gelyk. Eers teen die middel van September, nadat 600 000 hektaar afgebrand het, het koel lug, herfsstorms en ligte sneeu die brande geblus.

Die brande het nie juis die dierebevolking aangetas nie, en die aantal toeriste wat die park besoek, het sedertdien ook stadig maar seker toegeneem. Toe die rook opgeklaar het, het die herfsplantegroei kleur gegee aan die oopgebrande velde, en in die lente was daar ’n ryk tapyt van veldblomme waar hulle nog nooit vantevore gesien is nie. In die jare ná die brande het nuwe bome opgekom en die gebiede bedek wat afgebrand het.

[Prente op bladsy 15]

Old Faithful

Lower-waterval

[Erkenning]

NPS Photo

[Prent op bladsy 16, 17]

Firehole-rivier

[Prent op bladsy 17]

Morning Glory-poel

[Erkenning]

NPS Photo