Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die eerste takkantoor honderd jaar gelede

Die eerste takkantoor honderd jaar gelede

Die eerste takkantoor honderd jaar gelede

Die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap is amptelik op 15 Desember 1884 in Pennsilvanië, VSA, wetlik geregistreer. * Die hoofkwartier van hierdie genootskap is daar gestig. Later, op 23 April 1900, is eiendom vir die eerste takkantoor in Londen, Engeland, aangeskaf. Dit was by Gipsylaan 131, Forest Gate, in Oos-Londen, geleë, soos hier gesien kan word.

TOE hierdie eerste tak honderd jaar gelede gestig is, het Engeland altesaam 138 Bybelstudente gehad, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Twee jaar later, in 1902, is ’n tweede tak, in Duitsland, geopen; en teen 1904 is nog takke in Australië en Switserland gestig.

In 1918, die jaar toe die Eerste Wêreldoorlog geëindig het, was daar wêreldwyd 3 868 Bybelstudente wat deelname aan die predikingswerk gerapporteer het. Die volgende jaar is die vyfde tak van die Wagtoringgenootskap gestig—die tak in Kanada. Daarna, namate die verkondiging van die Bybel se boodskap vooruitgegaan het, is daar in baie lande nuwe takke gestig; ses daarvan in 1921 alleen.

Teen 1931, toe die Bybelstudente die Bybelse naam Jehovah se Getuies aangeneem het, was daar 40 takke regoor die wêreld (Jesaja 43:10-12). Gedurende die volgende drie jaar het dit tot 49 toegeneem! Teen 1938 was daar ’n hoogtepunt van 59 047 Getuies wat in 52 lande getuig het, maar teen daardie tyd het kwaai teenstand hulle Christelike werk in baie plekke begin bedreig.

Toe politieke totalitarisme en diktatorskappe van land na land versprei het en die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 uitgebreek het, is takke van Jehovah se Getuies in een land na die ander gesluit. Teen 1942 het slegs 25 nog gefunksioneer. Maar verbasend genoeg, gedurende daardie oorlog, die vernietigendste in die mensegeskiedenis, het Jehovah se Getuies wêreldwyd bedrywig gebly en een van hulle hoogste groeikoerse in die hedendaagse geskiedenis gehad.

Terwyl die Tweede Wêreldoorlog in 1945 tot ’n einde gekom het—en baie wêrelddele in puin gelê het—is takke van die Getuies heropen en is nuwes gestig. Teen 1946 was daar wêreldwyd 57 takke. En hoeveel bedrywige Getuies was daar? ’n Hoogtepunt van 176 456! Dit is byna drie keer soveel as in 1938!

Hoe die eerste takke uitgebrei het

In 1911 is die eerste tak van die Wagtoringgenootskap, in Londen, Engeland, na Craven Terrace 34 verskuif waar meer kantoor- en woonruimte beskikbaar was. Daarna, op 26 April 1959, is nuwe takfasiliteite in Mill Hill, Londen, toegewy. Later is die woonkwartier vergroot, en uiteindelik (in 1993) is ’n drukkery en administratiewe kompleks van 18 500 vierkante meter daar naby toegewy. Hier word meer as 90 miljoen eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! jaarliks in 23 tale gedruk.

Die uitbreiding van die Genootskap se tweede tak was selfs dramatieser. In 1923 is die Duitse tak na Maagdenburg verskuif. Die Wagtoring van 15 Julie 1923 was die eerste tydskrif wat daar op die Genootskap se eie drukpers gedruk is. Gedurende die daaropvolgende paar jaar is ’n aangrensende eiendom gekoop, geboue bygevoeg en is binderytoerusting en nog ’n pers aangeskaf. In 1933 is die tak deur die Nazi’s gekonfiskeer, die werk van die Getuies verbied en later is tweeduisend van hulle na konsentrasiekampe gestuur.

Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1945 geëindig het, is die eiendom in Maagdenburg, wat destyds ’n deel van Oos-Duitsland was, teruggegee en is die tak heropen. Maar op 30 Augustus 1950 het Kommunistiese polisie die fasiliteite bestorm en die werkers in hegtenis geneem, en die werk van die Getuies in Oos-Duitsland is verbied. Intussen is eiendom in 1947 in Wiesbaden, Wes-Duitsland, gekoop. Gedurende die daaropvolgende dekades is die takkantoorgeboue wat daar opgerig is herhaaldelik vergroot om met die lektuuraanvraag tred te hou.

Omdat daar nie meer plek vir uitbreiding in Wiesbaden beskikbaar was nie, is daar in 1979 sowat 30 hektaar grond naby Selters gekoop. Ná ongeveer vyf jaar van konstruksie is ’n groot tak op 21 April 1984 toegewy. Dit is sedertdien uitgebrei sodat dit ver oor die duisend takkantoorwerkers kan huisves. Elke maand word oor die 16 miljoen tydskrifte in meer as 30 tale op die groot rubberdrukperse in Selters gedruk; en in ’n onlangse jaar is meer as 18 miljoen boeke, insluitende Bybels, deur die bindery gebind.

Ander groot takke wat drukwerk doen

’n Tak is in 1927 vir die eerste keer in Kobe, Japan, gestig, maar kwaai vervolging van die Getuies gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hulle werk beperk. Maar kort ná die oorlog is die tak weer in Tokio geopen. Toe daar nie meer ruimte vir uitbreiding beskikbaar was nie, is ’n nuwe tak in Noemazoe gebou. Dit is in 1973 toegewy. Toe hierdie fasiliteite spoedig te klein geword het, is groot nuwe fasiliteite in Ebina gebou, wat in 1982 toegewy is. Vergrote fasiliteite op hierdie terrein, wat 900 werkers kan huisves, is onlangs voltooi. In 1999 is daar in Japannees alleen meer as 94 miljoen eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! sowel as miljoene boeke gedruk.

Die uitbreiding van takfasiliteite het ’n soortgelyke patroon in die een land na die ander gevolg. ’n Tak is in 1929 in Mexikostad, Mexiko, gestig. Daarna, toe die aantal Getuies 60 000 bereik het, is ’n ruim nuwe fasiliteit buite die stad gebou. Dit is in 1974 toegewy, en aanbouings is in 1985 en 1989 voltooi. Nou is hulle amper klaar met ’n groot drukkery en ’n bykomende woonkwartier. Dit sal die tak in Mexiko in staat stel om 1 200 werkers te huisves. Die tak voorsien alreeds tydskrifte en boeke aan meer as 500 000 Getuies en miljoene ander mense in Mexiko sowel as mense in naburige lande.

In 1923 is ’n tak in Rio de Janeiro, Brasilië, georganiseer, en later is pragtige nuwe fasiliteite daar gebou. Maar omdat Sao Paulo die sake- en vervoersentrum van Brasilië is, is ’n nuwe tak in 1968 in hierdie stad gebou. Teen die middel-1970’s was daar ongeveer 100 000 Getuies in Brasilië. Maar omdat verdere uitbreiding in Sao Paulo onmoontlik was, is ’n stuk grond van 115 hektaar in Cesário Lange, ongeveer 150 kilometer buite Sao Paulo, gekoop. Op 21 Maart 1981 is die takfasiliteite by hierdie nuwe kompleks toegewy. Weens uitbreiding by hierdie tak kan dit ongeveer 1 200 mense huisves. Tydskrifte en boeke word in Brasilië vir groot dele van Suid-Amerika sowel as ander wêrelddele gedruk.

Nog ’n groot tak wat drukwerk doen, is vroeg in die 1990’s naby Bogota, Colombia, voltooi. Daar word Die Wagtoring en Ontwaak! gedruk vir verspreiding regdeur noordwestelike Suid-Amerika.

Ander takke wat jaarliks miljoene tydskrif druk, is in Argentinië, Australië, die Filippyne, Finland, Italië, Kanada, Korea, Nigerië, Spanje en Suid-Afrika. Die tak in Italië bind ook elke jaar miljoene boeke, insluitende Bybels, in baie tale. Baie van die jaarlikse produksie, wat oor die 40 miljoen boeke en meer as eenmiljard tydskrifte insluit, word natuurlik nog by die hoofkwartier van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap in Brooklyn, New York, sowel as by sy drukkery in die noorde van New York gedoen.

Dit is werklik merkwaardig dat die aantal takkantore wat in die behoeftes van Jehovah se Getuies in 234 lande voorsien van een takkantoor honderd jaar gelede tot 109 vandag toegeneem het. En om te dink dat ongeveer 13 000 toegewyde Christenvrywilligers daar werk! Die werk wat hulle doen, tesame met dié van die nagenoeg 5 500 vrywilligers wat by die Genootskap se hoofkwartier werk, is beslis noodsaaklik vir die vervulling van Jesus Christus se profesie dat ‘hierdie goeie nuus van God se Koninkryk in die hele bewoonde aarde verkondig sal word voordat die einde kom’.—Matteus 24:14.

[Voetnoot]

^ par. 2 Dit is destyds Zion’s Watch Tower Tract Society genoem.

[Prent op bladsy 17]

Tom Hart, wat blykbaar die eerste Bybelstudent in Engeland was

[Prente op bladsy 18]

Tak in Londen by Craven Terrace 34 (regs in foto)

[Prente op bladsy 18]

Fasiliteite wat tans in Londen gebruik word