Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Opvoeding vir die lewe

Opvoeding vir die lewe

Opvoeding vir die lewe

“Die Bybel [is] die allerbeste gids oor die kuns om te lewe.”Thomas Tiplady, 1924.

DIT is nie ’n oordrywing om te sê dat Bybelopvoeding lewens kan verander nie. Dit het betekenis en hoop aan diegene gegee wat sinloosheid en wanhoop geken het. ’n Enkelouer van Namibië het aan die Suid-Afrikaanse takkantoor van Jehovah se Getuies geskryf:

“Ek is 29 jaar oud, en ek het die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk in net twee dae gelees. Dit het my hart diep geraak omdat ek werklik eensaam is. My kêrel is in ’n motorongeluk dood en het my met twee kinders agtergelaat. Ons kry baie swaar. Ek het partykeer gedink dat dit beter sou wees om hulle en dan myself dood te maak. Maar toe ek hierdie boek kry, het ek van plan verander. Help my asseblief met ’n gratis Bybelstudie.”

Die Bybel is ’n gids wat mense kan help om in elke aspek van die lewe suksesvol te wees—in verhoudings met hulle gesin, hulle werksmaats en mense in die gemeenskap (Psalm 19:8; 2 Timoteus 3:16). Dit voorsien betroubare leiding oor hoe ons die goeie kan nastreef en die slegte kan vermy. Dit is ’n boek wat die lewe realisties benader. Wanneer jy dit lees, sal jy vind dat dit vol verslae oor werklike mense is. Jy sal sien wat die lewe van party gelukkig en lonend en die van ander hartseer en ongelukkig gemaak het. Jy sal duidelik kan sien watter dinge die moeite werd is en watter nie.

Opvoeding vir die lewe nou

Die Bybel beklemtoon die belangrikheid van praktiese wysheid. Dit sê: “Wysheid kom eerste. Verwerf wysheid” (Spreuke 4:7, NW). Dit toon ook dat mense dikwels wysheid kortkom, en daarom maan dit: “As een van julle dan wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee mildelik aan almal.”—Jakobus 1:5.

Hoe gee ons Skepper, Jehovah God, wysheid mildelik? Hy doen dit deur middel van sy Woord, die Bybel, wat hy ons aanspoor om te lees. God doen hierdie beroep op ons: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, . . . dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind . . . , want die HERE gee wysheid” (Spreuke 2:1, 2, 5, 6). Wanneer ons die raad in God se Woord toepas en sien hoe prakties dit is, besef ons dat dit werklik God se wysheid weerspieël.

Kyk byvoorbeeld na hoe ’n mens armoede die hoof kan bied. Die Bybel beveel aan dat ons vlytig moet wees en waarsku teen gewoontes wat beperkte middele verkwis. Daarom is verdorwe gewoontes soos die gebruik van tabak en die oormatige gebruik van drank beslis in stryd met Bybelbeginsels.—Spreuke 6:6-11; 10:26; 23:19-21; 2 Korintiërs 7:1.

Wat van die uitwerking wat ons metgeselle op ons lewe kan hê? Die Bybel sê: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Het jy opgelet dat portuurdwang al dikwels daartoe gelei het dat mense—oud en jonk—hulle aan dronkenskap, dwelmmisbruik en onsedelikheid skuldig maak? Ja, as ons met mense omgaan wat sulke dinge beoefen, sal ons soos hulle word, net soos die Bybel sê: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.”—1 Korintiërs 15:33.

Ons almal wil ongetwyfeld gelukkig wees. Maar hoe is dit moontlik? Het jy besef dat die Bybel sê dat dit nie noodwendig dinge is wat ons gelukkig kan maak nie, maar die regte gesindhede en goeie verhoudings, veral ’n goeie verhouding met God? (1 Timoteus 6:6-10). Jesus Christus het in sy beroemde Bergpredikasie gesê dat diegene wat waarlik gelukkig is, “bewus is van hulle geestelike behoefte”, ‘saggeaard’ is, “dors na regverdigheid”, asook ‘barmhartig’, “suiwer van hart” en “vredeliewend” is.—Matteus 5:1-9.

Wanneer jy diep nadink oor die leringe van die Bybel, sal jy besef watter nuttige leiding dit ons in die lewe kan gee. Die Bybel is uniek as ’n bron van raad. Die raad daarin is altyd nuttig—dit is nooit net teoreties nie en is nooit tot ons nadeel nie. Diegene wat die Bybel se raad toepas, vind altyd daarby baat.

Opvoeding vir die lewe

Maar behalwe dat ons nou reeds daarby baat vind, gee die Bybel ons ook hoop vir lewe in die toekoms. Dit vertel dat die aarde heeltemal skoongemaak en in ’n pragtige tuiste verander sal word vir diegene wat God dien. Kyk na hierdie hartverblydende beskrywing van die toekoms: “Kyk! Die tent van God is by die mense, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4; Spreuke 2:21, 22.

Dink net: Geen siek kinders meer nie, geen hongersnood nie, geen gevreesde siektes wat die liggaam van krag beroof nie, geen ondraaglike pyn nie! Trane van frustrasie, teleurstelling en droefheid sal verdwyn, want die toestande wat sulke dinge veroorsaak, sal verander of verwyder word. Aangesien mense wat moedswillig goddeloos is deur God se engelemagte vernietig sal word, sal die diewe, moordenaars, leuenaars en ander wat die lewe onveilig maak nie meer bestaan nie. Mense sal hulle eie huise kan hê en die sekuriteit daarvan kan geniet.—Jesaja 25:8, 9; 33:24; 65:17-25.

Klink dit vir jou goed? Sal jy graag meer oor die toepassing van Bybelbeginsels wil leer sodat jy jouself nou en in die toekoms kan bevoordeel? Indien wel, tree asseblief in verbinding met Jehovah se Getuies, en hulle sal jou en jou gesin met graagte insluit in hulle wêreldwye program van “opvoeding vir die lewe”.