Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Roeiers tot die Dood

Roeiers tot die Dood

Roeiers tot die Dood

Deur Ontwaak!-medewerker in Frankryk

ONS kan ons die toneel duidelik voorstel. Skares kyk toe terwyl die Franse koning se nuwe galei die Mediterreense hawe Marseille verlaat. Dit is een van die pragtigste skepe wat nog te water gelaat is. Delikate snywerk sowel as ryk ornamente van goud en pêrels versier die agterstewe. Die mooiste geborduurde materiaal verfraai die dek in koninklike prag. Terwyl die oggendson op hierdie uitspattige toneel skyn, dink party met trots oor koning Lodewyk XIV se reputasie as “die Sonkoning”.

Teen die 17de eeu het galeie slegs ’n beperkte militêre gebruik gehad, en tog het koning Lodewyk XIV besluit om sy galeivloot tot 40 te vergroot—die grootste in die Middellandse See. Kenners skat dat 20 heeltemal voldoende sou gewees het vir sy behoeftes. Wat was die doel van so ’n groot vloot?

Die koning se raadgewer Jean-Baptiste Colbert het verduidelik: “Daar is geen mag wat die grootheid van ’n prins beter weerspieël en hom meer befaamd by buitelanders maak as die galeie nie.” Ja, aansien was die groot dryfveer agter Lodewyk se galeie. Maar wat het daardie aansien gekos?

Dink aan die menselyding. Vierhonderd-en-vyftig roeiers is saamgepak op ’n skip se dek wat minder as 45 meter lank en 9 meter wyd was. Hulle het maande aaneen in hierdie beknopte ruimte gelewe en gewerk. Hulle het swere op hulle vel gekry weens die souterige seelug, en hulle het die letsels van herhaalde slae op hulle liggaam gedra. Die helfte het gesterf in wat Franse geskiedkundiges Frankryk se “grootste bederwer van manne” noem.

Ja, wat prag en praal vir party beteken het, het ellende en die dood vir baie ander beteken. Maar waar het die koning die derduisende roeiers gekry om sy 40 vaartuie te beman?

Waar die roeiers vandaan gekom het

In die Middeleeue was galeiroeiers—of galeotti, soos hulle genoem is—vryburgers en was dit as ’n eerbare werk beskou om ’n roeier te wees. Maar teen die 17de eeu het dinge verander. Party roeiers, wat Turke genoem is, is van die Ottomaanse Ryk gekoop. Die meeste van hulle was Moslems, alhoewel party Ortodokse gelowiges was. Krygsgevangenes is ook gebruik.

“Een van die afkeurenswaardigste en sinneloosste stappe wat geneem is om die bemanning ‘aan te vul’, was ongetwyfeld toe Irokese krygers na die galeie van die Sonkoning gestuur is”, sê Franse geskiedkundiges. Dit was ’n fout om Amerikaanse inboorlinge gevange te neem. In 1689 moes hulle huis toe gestuur word nadat die Irokese nasies die vroeë Franse koloniste gedreig het.

Lodewyk se ambisieuse projekte het egter meer roeiers vereis. Colbert het die oplossing gevind. Hy het magistrate in kennis gestel van die koning se wens dat hulle “soveel misdadigers as moontlik veroordeel en dat selfs diegene wat die doodsvonnis moet kry na die galeie gestuur moet word”. Dit was nie die eerste keer dat misdadigers so gebruik is nie. Gevangenes is sowat twee eeue vroeër in die oorloë teen Italië as galeislawe gebruik. Maar die aantal persone wat gedurende die heerskappy van Lodewyk XIV en sy agterkleinseun Lodewyk XV na die galeie gestuur is, was ongeëwenaard. Tussen 1680 en 1748 is ongeveer 60 000 mans galeistraf opgelê. Wie was hierdie galeislawe?

Wie was die rekrute?

Tot die helfte van diegene wat na die galeie gestuur is, was gewone misdadigers. Van moordenaars tot diewe wat kleinighede gesteel het. Smokkelaars is ook so gestraf en het soms ’n groot deel van die roeiers uitgemaak.

Daarbenewens is sosiale verstotelinge gedwing om op die galeie te werk. In 1666 het die offisier wat in Marseille oor hulle toesig gehou het, geskryf: “Ek sou graag wil sien dat daar besluit word om die luiaards, die pelgrims, . . . die Sigeuners en ander swerwers te neem en galeie met hulle te vul. . . . Dit sal die wêreld van hierdie lastige uitvaagsels bevry.” Onder die voorwendsel dat openbare orde gehandhaaf word, is Sigeuners en armes dus gebruik. En in 1660 is selfs Poolse pelgrims wat ’n heiligdom in Frankryk besoek het met geweld galeiroeiers gemaak!

Nog ’n bron van mannekrag was drosters uit die leër wat lewenslange galeistraf opgelê is wanneer hulle gevang is. Weglopers se neus en ore is geskend, hulle wange is met die fleur-de-lis gebrandmerk en hulle kop is geskeer. Gedurende die verskeie oorloë wat Lodewyk XIV tussen 1685 en 1715 gevoer het, is ongeveer 17 000 drosters na die galeie gestuur. Wat het daar op hierdie mans gewag?

Hulle lyding

Die galeiroeiers se lyding het eintlik begin selfs voordat hulle op see gegaan het. Hulle is eers tot ses maande lank in tydelike tronke aangehou voordat hulle saam met honderde ander in kettings geboei en gedwing is om na Marseille te loop. Vir party, soos dié wat van Bretagne of Parys gestuur is, was hierdie gedwonge tog van 800 kilometer ’n nagmerrie wat meer as ’n maand geduur het. Een persoon van daardie tyd het dit “die ergste straf vir die gevangenes” genoem. Baie het op die pad gesterf.

Maar dit was nie net die lengte van die reis of die gebrekkige dieet wat hulle lewe geëis het nie. Wagte het die gevangenes erg mishandel. Slae, gebrek aan kos en te min slaap het ’n swaar tol geëis. Verder het mense wat hulle op pad teëgekom het min simpatie getoon vir die mans wat die Franse landskap gereeld deurkruis het. Toe ’n gevangene plaaslike vroue om water gesmeek het, het hulle hom glo geantwoord: “Loop, loop! Waar jy heengaan, gaan jy baie water hê!”

Die helfte het dit nie oorleef nie

Baie van die veroordeeldes het nog nooit die see gesien nie, om nie eers te praat van galeie nie. Hulle aankoms by die hawe van Marseille was dus ’n skokkende ondervinding. Die gevangenes is op ’n leë galei gejaag en ondersoek, soos een van hulle geskryf het, soos “beeste wat by die mark gekoop is”. Persoonlike besonderhede is opgeteken, en die gevangenes het nommers in die galeistelsel geword. “Dit het ongetwyfeld groot verwarring veroorsaak wanneer iemand ’n galeiroeier geword het en dit was vir hom ’n groot sielkundige en fisiese skok”, sê ’n geskiedkundige. Maar slegter behandeling het op hulle gewag.

In ’n kompartement van 2,3 meter by 1,25 meter het vyf mans wat aan ’n bank vasgeketting is maande aaneen gelewe en geroei. Elke roeier het net ’n spasie van 45 sentimeter gehad waarop hy kon sit. Dit was so beknop dat die mans nie eers hulle arms kon buig terwyl hulle die roeispane getrek het nie, waarvan elk ten minste 12 meter lank was en meer as 130 kilogram geweeg het. Om ure lank te roei, was uitmergelende werk wat die roeiers se spiere geskeur en hulle krag en stamina tot die uiterste beproef het. Dit was “soos om die moeilikste taak in ’n tropiese klimaat te doen”, verduidelik ’n geskiedkundige.

Galeie het laag in die water gelê, en die roeiers was slegs ongeveer een meter bo die waterlyn. Gevolglik was hulle voortdurend nat, hulle het dikwels met hulle voete in die water geroei en hulle vel is deur die souterige lug gevreet. Hulle dieet was gebrekkig. “Gevangenes sou enigiets doen om aan die lewe te bly”, sê ’n geskiedkundige. Dit was amper onmoontlik om te ontsnap. Die prys wat op die hoof van die ontsnaptes gesit is, het gemaak dat plaaslike boere aangesluit het by die soektog na enigiemand wat probeer wegkom het. Slegs 1 uit 100 het weggekom.

Vonnisse is baie selde eerbiedig. ’n Roeier wat ’n vonnis van ’n paar jaar gekry het, sou dus moontlik 25 jaar later nog steeds op ’n galei wees. Ongeveer ’n derde van die mans het binne drie jaar gesterf. Oor die algemeen het die helfte van die roeiers dit nie oorleef nie. Die sterftesyfer was net so hoog vir die roeiers op land as op see. Gedurende die winter van 1709/10 het een derde van hulle weens hongersnood en die uiterste weerstoestande gesterf. Dit is betreurenswaardig dat party bloot weens hulle geloof na die galeie gestuur is.

Veroordeel weens hulle geloof

In 1685 het koning Lodewyk XIV die Edik van Nantes herroep, en Protestantisme is in Frankryk verbied. * Ongeveer 1 500 Protestante is na die galeie gestuur omdat hulle geweier het om hulle tot Katolisisme te bekeer of omdat hulle uit die land probeer vlug het. Daar is in 1545 probeer om “ketters” so te straf, toe 600 Waldense * in een week op bevel van koning Frans I na die galeie gestuur is. Onder Lodewyk XIV, die sogenaamde vroom Christenkoning, het die vervolging nuwe afmetings aangeneem.

Waarom is Protestante na die galeie gestuur? ’n Amptenaar van die koning het die rede gegee: “Geweld is die enigste manier waarop ons die ketters terug sal bring.” ’n Geskiedkundige voeg by: “Die koning het gehoop dat die meeste veroordeelde Protestante die godsdiens waarvoor hulle soveel opofferings gemaak het onmiddellik sou verloën wanneer hulle die ‘galeilug’ inasem.” Maar die meeste het geweier om hulle geloof te verloën en sodoende vrygelaat te word. Gevolglik is hulle dikwels op aanstigting van die skip se Katolieke kapelane aan wrede openbare slae onderwerp. Party het gesterf; ander het die res van hulle lewe die littekens gedra.

Ondanks hierdie wrede behandeling het Protestante ander ywerig van hulle geloof vertel. As gevolg hiervan het party, onder andere ten minste een Katolieke kapelaan, Protestante geword. Dié wat as die gevaarlikste beskou is, die geleerde Protestante, is van die skepe af geneem en in kerkers gegooi om te sterf. Dit het egter nie die Protestantse galeiroeiers daarvan weerhou om mekaar te help nie, en hulle het selfs lees-en-skryf-klasse vir hulle medegelowiges gereël wat nie kon lees nie.

Die veroordeeldes het nie vergeet waarom hulle vervolg is nie. “Hoe meer ek ly, hoe groter is my liefde vir die waarheid wat my laat ly”, het die Protestant Pierre Serres geskryf. Baie lande was geskok toe hulle van Frankryk se godsdiensvervolging hoor. In 1713 het koningin Anna van Engeland met welslae aangedring dat baie veroordeeldes vrygelaat word. Dit is ironies dat Protestante wat voorheen verbied is om Frankryk te verlaat nou uit die land gesit is.

Einde van die galeie

Uiteindelik het die galeie in onbruik geraak, slagoffers van veranderinge in skeepvaart en ’n tekort aan geld. Koning Lodewyk XIV se finansiële probleme het besnoeiings tot gevolg gehad. Teen 1720 het slegs 15 skepe oorgebly, en hulle gebruik is grootliks beperk. Galeiroeiers het ’n groot deel van die tyd in Marseille gebly, waar hulle by die stad se ekonomie ingeskakel het deur in nabygeleë seepfabrieke te werk of die klere wat hulle gebrei het te verkoop. In 1748 is ’n wet uiteindelik aangeneem wat in werklikheid die doodsklok vir die galeie gelui het.

Die Franse het nie van die galeie vergeet nie. Wanneer Franse voor ontberinge te staan kom, sal hulle dikwels sê: “Quelle galère!” of letterlik in Afrikaans: “Wat ’n galei!” Baie van wat ons oor die lewe op die galeie weet, is te danke aan persoonlike verslae wat deur Protestantse roeiers geskryf is. Hulle het ondanks skaamtelose godsdiensvooroordeel ’n gemeenskap gevorm wat onderlinge steun en morele bystand gebied het. Volharding en hoop was belangrik vir hulle oorlewing, en hulle het geweier om hulle geloof prys te gee.

Dit is interessant dat geskiedkundiges, selfs wanneer ’n mens die godsdiensonverdraagsaamheid van die tyd in ag neem, hulle verbasing uitgespreek het oor die feit dat regters bereid was om “sonder enige gewetenswroeging wette toe te pas wat eerlike, lojale onderdane en die laagste misdadigers oor dieselfde kam geskeer het”.

Die herinnering aan die galeislawe is inderdaad nog steeds ’n kragtige getuienis van die verskriklike ongeregtighede wat die mens sy medemens aangedoen het. Ja, “die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). Gelukkig is die tyd naby wanneer God se aangestelde Heerser, Jesus Christus, “die behoeftige [sal] red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie”.—Psalm 72:12-14.

[Voetnote]

^ par. 25 Sien Die Wagtoring van 15 Augustus 1998, bladsye 25-9.

^ par. 25 Sien Die Wagtoring van 15 Oktober 1981, bladsye 11-15.

[Prent op bladsy 13]

Hulle het onder haglike toestande geroei

[Erkenning]

© Musée de la Marine, Paris

[Prent op bladsy 15]

Die byskrif in Frans bo die prent sê: “Gewisse en eerlike maniere om ketters na die Katolieke geloof terug te bring.” Die prent dateer uit 1686

[Foto-erkenning op bladsy 12]

Bladsye 2, 12 en 15: © Cliché Bibliothèque nationale de France, Paris