Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Huntington-chorea Ek moes net my opregte dank uitspreek vir die artikel “Huntington-chorea—insig in ’n genetiese tragedie” (22 Maart 2000). Ek het 20 jaar lank my man versorg wat aan hierdie siekte gely het. ’n Artikel soos hierdie, wat met deernis en begrip geskryf is, sal deur baie verwelkom word.

N. G., Nieu-Seeland

Dankie vir die artikel. Julle verduideliking was eenvoudiger as ons dokter s’n. Ongeveer drie jaar gelede is daar vasgestel dat my ma Huntington-chorea [HC] het. Dit maak my baie seer om te sien hoe sy sukkel om te praat, te eet en te loop. Iets wat julle nie genoem het nie, is dat die langtermyngeheue blykbaar langer onaangetas bly as die korttermyngeheue. Dit kan dus nuttig en vertroostend wees om met iemand wat gevorderde HC het oor ou vriende te praat en saam na ou foto’s te kyk.

J. M., Verenigde State

Vier jaar gelede is daar vasgestel dat my man aan Huntington-chorea ly. Ek het ongeveer ’n jaar en ’n half gelede aan die uitgewers van Ontwaak! geskryf en hulp oor hierdie onderwerp gevra. Toe ek hierdie artikel sien, het ek van verligting en vreugde gehuil.

D. B., Verenigde State

Hepatitisbesmetting Dit lyk of daar ’n fout was in “Ons beskou die wêreld” van 22 April 2000 se nuusbrokkie ‘Algemeenste besmetting wat deur bloed oorgedra word’. Julle het gesê dat die hepatitis C-virus [HCV] hoofsaaklik deur seksuele kontak of deur besmette bloed oorgedra word. Seksuele besmetting is eintlik buitengewoon en vind net onder spesifieke omstandighede plaas, soos tydens menstruasie.

C. A., Frankryk

Die kort nuusbrokkie het dalk die verkeerde indruk geskep, aangesien dit lyk of seksuele kontak nie so ’n groot rol speel in die verspreiding van hepatitis C as binneaarse dwelmgebruik nie. Volgens die “Harvard Health Letter” vir Februarie 1996 het die huweliksmaats van HCV-positiewe mense ’n geringe of geen risiko om besmet te word nie. Nietemin het ’n artikel in “The New England Journal of Medicine” van 19 Augustus 1999 aangaande die voorkoms van HCV-besmetting in die Verenigde State van 1988 tot 1994 berig: “Die grootste faktore wat onafhanklik met HCV-besmetting verbind is, was onwettige dwelmgebruik en hoërisiko- seksuele gedrag.” Dit het ook gesê: “Hoewel HCV nie hoofsaaklik deur geslagsomgang versprei nie, . . . word mense wat verskeie seksmaats het aan baie geleenthede blootgestel om die siekte te kry weens die groot getal chroniese besmette persone in die bevolking.”—RED.

Deursteekgier Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Wat van die deursteekgier?” (22 Maart 2000). Ek is 16 jaar oud en het al ’n geruime tyd daaraan gedink om gaatjies deur my vel te laat steek. Hoewel ek verskeie mense se mening hieroor gevra het, was ek nog steeds onseker oor wat om te dink. Die duidelike en leersame artikel het my egter gehelp om te besef dat die deursteekgier beslis nie vir my is nie, selfs al is dit baie gewild.

E. C., Engeland

As ’n voormalige sanger van ’n punkrockgroep het ek julle artikel oor die deursteekgier baie tydig gevind. Hoe ironies is dit tog dat mense individue probeer wees deur die jongste modes te volg!

F. S., Verenigde State

Sedes Ek het gister die reeks artikels “Wat het van sedes geword?” (8 April 2000) gelees. Dit het ’n mens die werklikheid onder die oë laat sien! Hierdie reeks toon presies hoe lelik sonde is. Ek moet eerlik erken dat ek ’n baie onsedelike mens was voordat ek een van Jehovah se Getuies geword het. Ek stry nou nog teen sterk vleeslike begeertes. Maar met Jehovah se liefde en sorg, die bystand van liefdevolle ouer manne, die ondersteuning van my Christenbroers en -susters en artikels soos hierdie, het ek nou die oorhand in die stryd.

J.C.P., Verenigde State