Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waar kan jy die beste opvoeding kry?

Waar kan jy die beste opvoeding kry?

Waar kan jy die beste opvoeding kry?

“Opvoeding is vir die siel wat die beeldhoukuns vir ’n marmerblok is.”—Joseph Addison, 1711.

HET jy ooit skool toe gegaan? Die meeste mense kan ja antwoord—maar nie almal nie. Terwyl ons die 21ste eeu binnegaan, is daar tallose miljoene kinders wat nie basiese skoolopleiding ontvang nie. Hierdie situasie bestaan al lank, met die gevolg dat byna eenmiljard volwassenes vandag ongeletterd is.

En tog is ’n goeie opvoeding ’n basiese behoefte. Baie mense beskou dit nie vandag as ’n onbekombare luuksheid nie, maar as iets waarop kinders sowel as volwassenes ’n reg het. Maar hoe is ’n goeie opvoeding moontlik sonder die nodige hulpbronne? Gestel daar is ’n tekort aan boeke en gekwalifiseerde onderwysers en nie genoeg skole nie.

Ja, waar kan mense ’n goeie opvoeding kry wat individuele deelname aanspoor, hulle kennis van die wêreld om hulle verbreed en hulle geestelike waardes gee wat hulle lewe kan verander? Watter opvoeding beklemtoon heilsame sedelike standaarde, toon hoe ’n mens jou lewensgehalte kan verbeter en bied ’n vaste hoop vir die toekoms? Is so ’n opvoeding werklik aan almal beskikbaar?

Grondslag van die beste opvoeding

So verbasend soos dit mag klink, kan ons met vertroue ja antwoord, dat ’n goeie opvoeding aan almal beskikbaar is. Dit is omdat ’n kragtige opvoedkundige middel bestaan wat as grondslag daarvan kan dien. Dit is ’n eeue oue “handboek” wat, geheel of ten dele, in meer as 2 200 tale van die wêreld beskikbaar is. In werklikheid het almal op aarde toegang daartoe in ’n taal wat hy of sy kan verstaan. Watter boek is dit?

Dit is die Bybel, ’n boek wat al deur baie geprys is as die belangrikste boek wat nog geskryf is. “Almal wat ’n deeglike kennis van die Bybel het, kan waarlik geleerd genoem word”, het die 20ste-eeuse geleerde William Lyon Phelps geskryf. “Geen ander opvoeding of kultuur, ongeag hoe omvattend of verfynd, kan . . . ’n waardige plaasvervanger wees nie.”

Die Bybel is ’n versameling boeke wat oor ’n tydperk van ongeveer 1 600 jaar geskryf is. Phelps het verder oor hierdie belangrike versameling boeke gesê: “Ons is meer aan die Bybel verskuldig vir ons opvattings, ons wysheid, ons filosofie, ons literatuur, ons kuns, ons ideale as aan alle ander boeke saam. . . . Ek dink dat ’n kennis van die Bybel sonder ’n universiteitskursus waardevoller is as ’n universiteitskursus sonder die Bybel.”

Vandag word ’n merkwaardige, Bybelonderrigtingswerk wêreldwyd deur die Christengemeenskap van Jehovah se Getuies gedoen. Hierdie opvoeding leer mense nie net om te lees en skryf nie. Dit bevorder verstandelike en sedelike ontwikkeling. Dit beïnvloed mense se uitkyk op die toekoms op ’n positiewe wyse deur die grondslag vir ’n betroubare hoop te voorsien dat die toekoms baie beter as die verlede sal wees.

Vind meer uit oor hierdie program van opvoeding vir lewe deur die volgende artikel te lees.