Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Hoop wat my onderskraag

’n Hoop wat my onderskraag

’n Hoop wat my onderskraag

SOOS VERTEL DEUR TATJANA VILEISKA

Ons gelukkige gesin is verpletter toe my ma in ons woonstel doodgeslaan is. My pa het vier maande later selfmoord gepleeg. Daarna wou ek nie meer lewe nie. Waarom lewe ek dan nog om die verhaal te vertel? Laat ek verduidelik.

DONETSK, in die oostelike Oekraïne, is ’n stad van smeltoonde en steenkoolmyne. Die bevolking van meer as ’n miljoen praat Russies en is hardwerkend en vriendelik. Party van hulle glo in astrologie of spiritisme, en baie gebruik die horoskoop om oor die toekoms uit te vind. Ander wend hulle tot towenaars, of koldoens, soos hulle in Russies genoem word. Party van hierdie mense probeer met die dooies in aanraking kom in die hoop dat hulle verligting van siekte sal vind of hulle doen dit net vir die pret.

My pa was ’n skoenmaker. Hoewel hy ’n verklaarde ateïs was, het hy gemeen dat iemand ons hier op die aarde gesit het. Hy het altyd gesê: “Ons is slegs gaste op hierdie planeet.” My ma het elke Paasfees kerk toe gegaan, want soos sy dit gestel het: “As daar ’n God is, as hy wel bestaan, dan moet ons gaan.” Ek is in Mei 1963 gebore. My ouer suster, Loebof, en my jonger broer, Alexandr, was die ander lede van ons gelukkige gesin.

“Wit toorkuns is goed”

Pjotr *, ’n verlangse familielid, het ’n ongeluk gehad terwyl hy in ’n steenkoolmyn gewerk het en het kopbeserings opgedoen wat behandeling in ’n spesiale kliniek vereis het. Hy was bekommerd oor sy gesondheid en het ’n koldoen geraadpleeg. Die towenaar het Pjotr met die geestewêreld in aanraking gebring. Hoewel sy vrou en my ouers vir hom gesê het dat dit dwaas is om by die toorkuns betrokke te raak, het hy gedink dat hy van beter weet. “Ek beoefen wit toorkuns”, het hy gesê. “Swart toorkuns is uit die bose, maar wit toorkuns is goed.”

Pjotr het beweer dat hy vermoëns het wat hom in staat stel om die toekoms te voorspel en mense teen kwaad te beskerm. Pjotr se vrou het hom nietemin verlaat. Gevolglik het Pjotr soms weke lank by ons kom bly. Hy het ’n verskriklike uitwerking op die gesin gehad. In elk geval, my ma en pa het kwaai argumente begin hê. Uiteindelik het hulle uitmekaar gegaan en is hulle geskei. Ek en my broer en suster het saam met my ma na ’n ander woonstel getrek, en Pjotr—wat van haar kant van die familie was—het by ons ingetrek.

Loebof het getrou en het saam met haar man na Uganda, in Afrika, getrek. In Oktober 1984 het Alexandr met vakansie gegaan, en ek het vir ’n week na die dorp Gorlowka gegaan. Toe ek van die huis af vertrek het, het ek my ma net so terloops gegroet. Hoe wens ek tog dat ek meer vir haar gesê het of selfs by die huis gebly het! Ek het my ma nooit weer lewendig gesien nie.

“Jou dierbare ma is dood”

Toe ek van Gorlowka af terugkom, was die woonstel gesluit, en teen die deur was daar ’n teken van die polisie wat toegang verbied het. Dit het my koue rillings gegee. Ek het na ons bure toe gegaan. Olga was te ontsteld om te praat. Haar man, Wladimir, was baie simpatiek en het gesê: “Tanja, ’n verskriklike ding het gebeur. Jou dierbare ma is dood. Pjotr het haar doodgemaak. Toe het hy na ons woonstel gekom, die polisie gebel en homself oorgegee.”

Die polisie het die verskriklike nuus bevestig en my die woonstel se sleutels gegee. Ek het Pjotr gehaat. In my woede het ek die meeste van sy besittings gegryp—insluitende sy boeke oor die toorkuns—dit in ’n kombers gegooi en na ’n nabygeleë veld geneem, waar ek dit verbrand het.

Alexandr het die nuus gehoor, en hy het Pjotr net soveel gehaat soos ek. Toe is Alexandr vir militêre diens opgeroep en het hy weggetrek. My pa het saam met my in die woonstel ingetrek, en Loebof het van Uganda af gekom en ’n kort rukkie saam met ons gebly. Ons het soms rede gehad om te glo dat bose geesmagte ons lastig val. My pa het ook nare drome gehad. Hy het gevoel dat my ma se dood sy skuld was. “As ek maar net by haar gebly het”, het hy gesê, “sou sy nog gelewe het.” Kort voor lank het my pa baie depressief geword. Binne vier maande ná my ma se dood het hy selfmoord gepleeg.

Ná my pa se begrafnis het Alexandr na die leër en Loebof na Uganda teruggekeer. Ek het ’n nuwe begin probeer maak deur aan die Makejewka-instituut van Bou-ingenieurswese te studeer, wat net 30 minute van die huis af was. Ek het die woonstel versier en opgeknap, in die hoop dat ek sommige van die herinneringe sou vergeet. Maar daar was nog steeds rede om te glo dat die demone ons lastig val.

“O God, as u werklik bestaan”

Alexandr het sy diensplig voltooi en teruggetrek huis toe. Maar ek en hy het argumente begin hê. Hy het getrou, en ek het vir ’n paar maande na Rostof verhuis, ’n Russiese stad langs die kus van die See van Azof, ongeveer 170 kilometer van die huis af. Uiteindelik het ek besluit om ontslae te raak van alles wat aan Pjotr behoort het.

Ek het self so terneergedruk geword dat ek ook beplan het om selfmoord te pleeg. Maar ek het elke keer aan my ma se woorde gedink: “As daar ’n God is, as hy wel bestaan.” Een aand het ek vir die eerste keer gebid. “O God”, het ek gesmeek, “as u werklik bestaan, wys asseblief vir my wat die doel van die lewe is.” ’n Paar dae later het ek ’n brief van Loebof ontvang waarin sy my genooi het om haar in Uganda te besoek. Gevolglik het ek my planne om selfmoord te pleeg, uitgestel.

Verrassings in Uganda

Daar is seker nie baie plekke op aarde wat so anders as die Oekraïne is as Uganda nie. My vliegtuig het in Maart 1989 in Entebbe geland. Toe ek van die vliegtuig afklim, het ek in ’n oond ingeloop. Ek het nog nooit sulke hitte ondervind nie! Dit was nie verbasend nie, aangesien dit my eerste keer buite die Sowjetunie was. Die mense daar het Engels gepraat, ’n taal wat ek nie verstaan het nie.

Ek het in ’n taxi geklim vir die rit van 45 minute na Kampala. Die landskap was so anders as waaraan ek gewoond was dat dit amper gevoel het asof ek op ’n ander planeet was! Maar my glimlaggende taxibestuurder was die vriendelikheid self, en hy het uiteindelik Loebof en haar man, Joseph, se huis gevind. Wat ’n verligting!

Loebof het die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer. Ek het nog nooit van hulle gehoor nie, maar Loebof was gretig om my te vertel. Sy het my in die huis rond gevolg en my alles vertel wat sy geleer het, van Genesis regdeur tot Openbaring. Glo my, dit het my geduld beproef!

Eendag het die Getuies wat met Loebof gestudeer het ons besoek. Een van hulle was Marianne. Sy het nie onmiddellik vir my probeer getuig nie, aangesien ek op daardie stadium in elk geval nie veel Engels kon verstaan nie. Maar haar hartlike, vriendelike oë het vir my gesê dat sy ’n opregte, gelukkige mens is. Sy het vir my ’n prent van die Paradys in die boekie “Kyk, Ek maak alles nuut” gewys. “Kyk na hierdie vrou”, het sy gesê. “Dit is jy, en hierdie ander vrou is ek. Ons is saam in die Paradys met al hierdie ander mense. Is dit nie wonderlik nie?”

Dit het gelyk of ander Getuies in Kampala beurte geneem het om Loebof en Joseph te besoek. Hulle was so vriendelik dat ek vermoed het dat hulle net probeer om my te beïndruk. ’n Paar weke later het ek my eerste vergadering bygewoon, wat die viering van die Here se Aandmaal was (Lukas 22:19). Hoewel ek nie verstaan het wat gesê is nie, is ek weer eens beïndruk deur hoe vriendelik die mense was.

‘Lees dit van voor tot agter’

Marianne het my ’n Russiese Bybel gegee—die eerste wat ek besit het. “Lees die Bybel van voor tot agter”, het sy my aangespoor. “Selfs al verstaan jy nie alles nie, lees dit net!”

Marianne se geskenk het my diep geraak, en ek het besluit om haar raad te volg. ‘Wat help dit in elk geval’, het ek gedink, ‘om ’n Bybel te hê as ek dit nie gaan lees nie?’

Toe ek na die Oekraïne terugkeer, het ek my Bybel saamgeneem. Gedurende die volgende paar maande het ek in Moskou, Rusland, gewerk en my vrye tyd gebruik om deur die Bybel te begin lees. Teen die tyd dat ek nege maande later na Uganda teruggekeer het, het ek dit al halfpad deurgelees. Ná my terugkeer na Kampala het Marianne my ’n wonderlike hoop vir die toekoms uit die Bybel gewys. ’n Paradys! ’n Opstanding! Ek kan my ma en pa weer sien! Wat ek geleer het, het ek besef, was die antwoord op die gebed wat ek in Donetsk gedoen het.—Handelinge 24:15; Openbaring 21:3-5.

Toe ons bose geeste bespreek het, het ek met gespanne aandag geluister. Die Bybel het bevestig wat ek lank vermoed het. Daar bestaan nie so iets soos goeie of onskadelike toorkuns nie. Dit hou alles groot gevaar in. Ek het geen groter bewys daarvan nodig gehad as wat in ons gesin gebeur het nie. Toe ek Pjotr se besittings verbrand het, het ek onwetend die regte ding gedoen. Vroeë Christene het ook die voorwerpe wat hulle in toorkuns gebruik het, verbrand toe hulle Jehovah begin dien het.—Deuteronomium 18:9-12; Handelinge 19:19.

Hoe beter ek die Bybel verstaan het, hoe meer oortuig het ek geword dat ek die waarheid gevind het. Ek het opgehou rook, en in Desember 1990 is ek gedoop as ’n simbool van my toewyding aan Jehovah. Loebof is net drie maande voor my gedoop; en Joseph is in 1993 gedoop.

Terug na Donetsk

In 1991 het ek na Donetsk teruggekeer. Daardie selfde jaar is Jehovah se Getuies in die Oekraïne wetlike erkenning gegee, wat beteken het dat ons vryelik byeen kon kom en openlik kon getuig. Ons het gesprekke op straat begin met enigiemand wat tyd gehad het om na ons te luister. Ons het gou uitgevind dat baie mense nuuskierig was oor God se Koninkryk, selfs in ’n land waar baie mense gesê het hulle ateïste is.

In die vroeë 1990’s het ons ’n tekort aan Bybellektuur gehad, daarom het ons ’n leenbiblioteek in Donetsk se strate begin. Ons het ’n stalletjie in die stad se hoofplein opgestel waar ons ons boeke en boekies uitgestal het. Dit was nie lank voordat vriendelike, nuuskierige mense ons begin vrae vra het nie. Diegene wat lektuur wou hê, het dit geleen, en ons het hulle ook ’n tuisbybelstudie aangebied.

In 1992 het ek ’n pionier geword, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, en in September 1993 is ek genooi om aan te sluit by ’n span vertalers by die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Selters, Duitsland. In September 1998 het ons na Pole getrek terwyl ons gewag het dat ons nuwe takfasiliteite in Lviv, in die Oekraïne, voltooi word.

Die groei onder Jehovah se volk in die Oekraïne was verbasend. In 1991 het Donetsk een gemeente met 110 Getuies gehad, maar nou het dit 24 gemeentes met meer as 3 000 Getuies! Toe ek Donetsk in 1997 besoek het, het ek nie net aangename ondervindinge gehad nie, maar ook ’n ondervinding wat my ontstel het.

“Pjotr is op soek na jou”

Gedurende my besoek aan Donetsk het Juliya, ’n Getuie wat ons gesin geken het, my geskok toe sy gesê het: “Pjotr is op soek na jou. Hy wil met jou praat.”

Daardie aand by die huis het ek gehuil en tot Jehovah gebid. Wat wou Pjotr van my hê? Ek het geweet dat hy ’n paar jaar lank opgesluit was weens sy misdaad. Ek het hom gehaat vir wat hy gedoen het, en ek het gevoel dat hy nie verdien het om oor Jehovah se nuwe wêreld te leer nie. Ek het vir ’n paar dae oor die saak gebid en toe besef dat ek nie kan besluit wie waardig is om die ewige lewe te ontvang nie. Ek het Jesus Christus se belofte aan die misdadiger onthou wat langs hom aan ’n paal gehang het—dat die misdadiger saam met hom in die Paradys sal wees.—Lukas 23:42, 43.

Met dit in gedagte het ek besluit om Pjotr te besoek en vir hom oor die Messiaanse Koninkryk en God se nuwe stelsel van dinge te getuig. Ek het saam met twee Christenbroers na die adres gegaan wat Juliya my gegee het. Daar het ek, vir die eerste keer ná my ma se dood, vir Pjotr van aangesig tot aangesig gesien.

Die atmosfeer was gespanne. Ek het aan Pjotr verduidelik dat ek ’n Getuie van Jehovah geword het en dat die Bybel my gehelp het om te verstaan waarom ons almal in hierdie stelsel probleme, soms selfs persoonlike tragedies, ondervind. Ek het ook vir Pjotr gesê hoe verskriklik dit vir ons was om ons ma en toe ons pa te verloor.

Pjotr het verduidelik dat ’n stem vir hom gesê het om my ma dood te maak, en hy het toe in besonderhede beskryf wat daardie dag gebeur het. Terwyl ek na sy verskriklike verhaal geluister het, het ek ’n gevoel van afsku, maar terselfdertyd ook ’n gevoel van jammerte gehad, want hy het senuweeagtig gelyk, soos ’n dier wat gejag word. Nadat Pjotr klaar gepraat het, het ek hom ’n paar van die wonderlike beloftes in die Bybel probeer wys. Hy het gesê dat hy in Jesus glo, daarom het ek gevra:

“Het jy ’n Bybel?”

“Nog nie. Maar ek het een bestel”, het hy geantwoord.

“Miskien weet jy alreeds dat die persoonlike naam van die ware God volgens die Bybel Jehovah is.”—Psalm 83:18NW.

Toe Pjotr hierdie naam hoor, het hy ontsteld geword. “Moenie met my oor daardie naam praat nie”, het hy gesê. “Ek kan daardie naam nie verdra nie.” Ons het hoegenaamd niks bereik in ons pogings om Pjotr oor die wonderlike beloftes van God te vertel nie.

Een gedagte was baie duidelik vir my toe ons daar weg is: As ek Jehovah nie leer ken het nie, sou ek miskien soos my ma vermoor gewees het, sou ek miskien soos my pa selfmoord gepleeg het of sou ek miskien soos Pjotr gemanipuleer gewees het om verskriklike dinge te doen. Hoe innig dankbaar is ek tog dat ek die ware God, Jehovah, leer ken het!

Kyk na die toekoms, nie die verlede nie

Hierdie nare ondervindinge het hulle merk op my emosies gelaat. Selfs nou veroorsaak die herinneringe my soms pyn en angs. Maar toe ek Jehovah en sy voornemens leer ken het, het die genesingsproses begin. Bybelwaarheid het my geleer om op die toekoms te konsentreer, nie op die verlede nie. En wat ’n toekoms stel Jehovah tog vir sy knegte in die vooruitsig!

Hierdie toekoms sluit die opstanding van die dooies op ’n aardse paradys in. Watter vreugde sal ek tog ondervind wanneer ek my ouers terugverwelkom! My pa was in werklikheid reg toe hy gesê het: “Ons is slegs gaste op hierdie planeet.” En my ma was beslis reg toe sy geglo het dat God werklik bestaan. My grootste begeerte is om my ma en pa Bybelwaarhede te leer wanneer hulle in God se nuwe stelsel van dinge opgewek word.

[Voetnoot]

^ par. 7 Die naam is verander.

[Lokteks op bladsy 24]

Vir die eerste keer ná my ma se dood het ek van aangesig tot aangesig met haar moordenaar gekom

[Prent op bladsy 23]

Omhels deur Marianne en Heinz Wertholz, sendelinge wat in Uganda met my gestudeer het

[Prent op bladsy 23]

My doop in Kampala

[Prent op bladsy 24]

Ek is ’n lid van die Oekraïense vertaalspan in Pole