Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoop vir lyers

Hoop vir lyers

Hoop vir lyers

IN DIE verlede was mense geneig om slagoffers van gemoedsversteurings te vermy. Gevolglik het baie van hulle sosiale uitgeworpenes geword. Party het met werksdiskriminasie te kampe gehad. Ander is deur hulle eie gesinslede verstoot. Dikwels het dit die probleem net vererger en verhinder dat die lyers hulp kry.

Maar in onlangse dekades is daar goeie vordering daarin gemaak om ’n beter begrip van kliniese depressie en bipolêre versteuring te kry. Nou is dit ’n welbekende feit dat hierdie toestande behandel kan word. Maar dit is nie altyd maklik om hulp te kry nie. Waarom nie?

Herken die simptome

’n Gemoedsversteuring word nie deur middel van ’n eenvoudige bloedtoets of x-straal gediagnoseer nie. ’n Persoon se gedrag, denke en oordeelsvermoë word eerder oor ’n tydperk waargeneem. Verskeie simptome moet teenwoordig wees voor ’n diagnose gemaak kan word. Die probleem is dat gesinslede en vriende nie altyd besef dat hulle die simptome van ’n gemoedsversteuring waarneem nie. “Selfs wanneer mense saamstem oor hoe iemand se gedrag afwyk van die normale”, skryf dr. David J. Miklowitz, “kan daar uiteenlopende opinies wees oor wat die persoon so laat optree.”

Wat meer is, selfs wanneer gesinslede dink dat die situasie ernstig is, kan dit moeilik wees om die lyer te oortuig dat hy of sy mediese hulp nodig het. Of as jy die een met die probleem is, huiwer jy dalk om hulp te kry. Dr. Mark S. Gold skryf: “Miskien glo jy wat jy dink wanneer jy depressief is—dat jy niks werd is nie en dat dit gevolglik geen nut het om hulp te kry wanneer daar in elk geval geen hoop vir iemand soos jy is nie. Miskien sal jy graag iemand daaroor wil raadpleeg, maar jy dink dat depressie iets is om oor skaam te wees, dat dit alles jou skuld is. . . . Miskien weet jy nie dat jou gevoelens simptome van depressie is nie.” Maar vir diegene wat aan major depressie ly, is mediese hulp noodsaaklik.

Almal voel natuurlik van tyd tot tyd mismoedig, en dit dui nie noodwendig op ’n gemoedsversteuring nie. Maar gestel hierdie gevoelens is erger as gewone neerslagtigheid? En gestel dit hou buitengewoon lank aan—miskien twee weke of meer? Sê nou die depressiewe gemoedstemming verhinder jou om normaal te funksioneer, hetsy by die werk, by die skool of in sosiale situasies. As dit die geval is, sal dit dalk verstandig wees om iemand te raadpleeg wat gekwalifiseerd is om depressie te diagnoseer en te behandel.

As daar ’n biochemiese wanbalans is, sal medikasie moontlik voorgeskryf word. In ander gevalle sal ’n program van berading dalk aanbeveel word om die lyer te help om met sy of haar toestand saam te leef. Soms het ’n kombinasie van albei benaderings goeie resultate opgelewer. a Die belangrike ding is om die eerste stap te neem en hulp te kry. “Heel dikwels is lyers bang en skaam oor hulle toestand”, sê Lenore, ’n bipolêre pasiënt wat in die vorige artikel genoem is. “Maar dit sal regtig jammer wees as jy vermoed dat jy ’n probleem het en nie die hulp kry wat jy so broodnodig het nie.”

Lenore praat uit ondervinding. “Ek was ’n jaar lank feitlik bedlêend”, sê sy. “Maar eendag toe ek ’n bietjie sterker gevoel het, het ek besluit om die dokter te bel en ’n afspraak met hom te maak.” Lenore se toestand is as bipolêre versteuring gediagnoseer en medikasie is voorgeskryf. Dit was ’n keerpunt in haar lewe. “Ek voel normaal wanneer ek my medikasie neem”, sê Lenore, “hoewel ek my voortdurend moet herinner dat al die ou simptome sal terugkeer as ek ophou om dit te neem.”

Dieselfde geld vir Brandon, wat aan depressie ly. “As ’n tiener”, sê hy, “het ek dit dikwels oorweeg om selfmoord te pleeg omdat ek oorweldigende gevoelens van waardeloosheid gehad het. Dit was eers toe ek in my dertigerjare was dat ek na ’n dokter gegaan het.” Soos Lenore neem Brandon ook medikasie om hom met sy versteuring te help, maar meer is daarby betrokke. “Ter wille van my algemene welsyn”, sê hy, “sorg ek goed vir my verstand en my liggaam. Ek sorg dat ek genoeg rus kry en let op wat ek eet. Ek vul ook my verstand en hart met positiewe gedagtes uit die Bybel.”

Brandon wys egter daarop dat kliniese depressie ’n mediese probleem is—nie ’n geestelike probleem nie. Dit is noodsaaklik dat jy dit besef as jy wil herstel. Brandon vertel: “Eenkeer het ’n welmenende mede-Christen vir my gesê dat ek waarskynlik depressief is omdat ek iets gedoen het om God se heilige gees te bedroef, aangesien Galasiërs 5:22, 23 sê dat vreugde ’n vrug van daardie gees is. Dit het my selfs skuldiger en meer depressief laat voel. Maar nadat ek hulp begin kry het, het die donker wolk wat oor my gehang het, begin lig. Ek het soveel beter gevoel! Ek wens ek het gouer hulp gekry.”

Wen die stryd

Selfs nadat ’n diagnose gemaak is en behandeling begin het, sal ’n gemoedsversteuring waarskynlik nog steeds vir die lyer uitdagings bied. Kelly, wat met major depressie worstel, is dankbaar vir die professionele hulp wat die mediese sy van haar toestand behandel het. Sy het egter ook gevind dat die ondersteuning van ander noodsaaklik is. Aanvanklik was Kelly huiwerig om ander se hulp te vra omdat sy nie as ’n las beskou wou word nie. “Ek moes nie net leer om hulp te vra nie, maar ook om dit te aanvaar”, sê sy. “Dit was eers toe ek my hart uitgestort het dat ek uit die afwaartse spiraal gekom het.”

As een van Jehovah se Getuies gaan Kelly saam met medeaanbidders na vergaderinge by die Koninkryksaal. Maar soms bied selfs hierdie gelukkige geleenthede uitdagings. “Dikwels is die ligte, al die mense om my en die geraas oorweldigend. Dan begin die skuldgevoelens, en die depressie vererger omdat ek voel dat my versteuring ’n weerspieëling van my gebrek aan geestelikheid moet wees.” Hoe verwerk Kelly hierdie situasie? Sy sê: “Ek het geleer dat depressie ’n siekte is waarvan ’n mens werk moet maak. Dit is nie ’n weerspieëling van my liefde vir God of vir my mede-Christene nie. Dit is nie ’n ware weerspieëling van my geestelikheid nie.”

Lucia, wat vroeër in hierdie reeks artikels genoem is, is dankbaar vir die uitstekende mediese hulp wat sy ontvang het. “Sonder die hulp van ’n geestesgesondheidsdeskundige sou ek beslis nie geleer het hoe om die gemoedswisselinge wat deel van hierdie siekte is, te hanteer en te verduur nie”, sê sy. Lucia beklemtoon ook die waarde van rus. “Slaap is ’n belangrike sleutel om manie te behandel”, sê sy. “Hoe minder ek slaap, hoe hoër klim ek. Selfs wanneer ek nie aan die slaap kan raak nie, het ek myself geleer om te lê en rus en nie op te staan nie.”

Sheila, wat ook vroeër genoem is, vind dit nuttig om ’n dagboek te hou waarin sy haar gevoelens kan uitstort. Sy sien ’n merkbare verbetering in haar gemoedstoestand. Daar is nogtans uitdagings. “Wanneer ek moeg is, is ek om die een of ander rede vatbaarder vir negatiewe gedagtes”, sê Sheila. “Maar ek het geleer om dit te onderdruk of ten minste tot ’n redelike mate onder beheer te hou.”

Vertroosting uit God se Woord

Die Bybel is ’n versterkende hulp vir baie mense wat deur “verontrustende gedagtes” geteister word (Psalm 94:17-19, 22). Cherie het byvoorbeeld Psalm 72:12, 13 besonder aanmoedigend gevind. Daar sê die psalmis van God se aangestelde Koning, Jesus Christus: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red.” Cherie is ook bemoedig deur die woorde van die apostel Paulus wat in Romeine 8:38, 39 opgeteken is: “Ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe of engele of regerings of teenswoordige dinge of toekomstige dinge of magte of hoogte of diepte of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde . . . nie.”

Elaine, ’n bipolêre pasiënt, vind dat haar verhouding met God soos ’n anker is. Sy put groot vertroosting uit die woorde van die psalmis: “’n Gebroke en verbryselde hart, o God, sal u nie verag nie” (Psalm 51:17). “Dit is waarlik vertroostend om te weet dat ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, verstaan”, sê sy. “Ek is versterk deur nader aan hom te kom in gebed, veral gedurende tye van groot angs of nood.”

Dit is duidelik dat die lewe met ’n gemoedsversteuring unieke uitdagings bied. Maar Cherie en Elaine het gevind dat biddende vertroue op God tesame met die gepaste behandeling hulle in staat gestel het om hulle lot in die lewe te verbeter. Maar hoe kan gesinslede en vriende diegene help wat aan bipolêre versteuring of depressie ly?

[Voetnoot]

a Ontwaak! staan nie enige spesifieke benadering voor nie. Christene moet seker maak dat enige behandeling wat hulle oorweeg, nie in stryd met Bybelbeginsels is nie.

[Lokteks op bladsy 10]

“Nadat ek hulp begin kry het, het die donker wolk wat oor my gehang het, begin lig. Ek het soveel beter gevoel!”—BRANDON

[Venster op bladsy 9]

’n Eggenoot se waarnemings

“Voor Lucia siek geword het, het sy baie mense se lewe geraak deur haar skerp insig. Selfs vandag nog kan ’n mens sien dat mense wat my vrou besoek wanneer sy kalm is, deur haar hartlikheid aangetrek word. Wat die meeste mense nie besef nie, is dat Lucia se gemoedstemming tussen die uiterstes van depressie en manie wissel. Dit is as gevolg van bipolêre versteuring, die siekte waarmee sy al die laaste vier jaar worstel.

“Gedurende die maniese fase is dit nie ongewoon vir Lucia om tot een-, twee- of selfs drie-uur in die oggend wakker te bly nie, terwyl allerhande skeppende idees deur haar gedagtes flits. Sy loop eenvoudig oor van energie. Sy sal op die kleinste dingetjies oorreageer en geld impulsief spandeer. Sy sal haar in die gevaarlikste situasies begewe omdat sy voel dat sy onoorwinlik is, dat daar geen gevaar is nie—nie sedelik, fisies of andersins nie. Iets wat met hierdie impulsiewe gedrag verband hou, is die risiko van selfmoord. Die manie word altyd gevolg deur depressie, waarvan die intensiteit gewoonlik in verhouding is tot die manie wat dit voorafgegaan het.

“Vir my het die lewe dramaties verander. Selfs met Lucia se behandeling verskil wat ons vandag kan doen, met wat ons dalk gister kon doen of wat ons moontlik môre sal kan doen. Dit verander saam met ons omstandighede. Ek moes eenvoudig net meer aanpasbaar word as wat ek ooit gedink het vir my moontlik sou wees.”—Mario.

[Venster/Prent op bladsy 11]

Wanneer medikasie voorgeskryf word

Party dink dat dit ’n teken van swakheid is om medikasie te neem. Maar dink so daaraan: ’n Diabeet moet ’n program van behandeling volg, wat dalk insulieninspuitings insluit. Is dit ’n teken van mislukking? Glad nie! Dit is eenvoudig ’n manier om die liggaam se voedingstowwe in ewewig te hou sodat die lyer gesond kan bly.

Dit kom op ongeveer dieselfde neer wanneer jy medikasie vir depressie en bipolêre versteuring neem. Hoewel baie mense gehelp is deur ’n program van berading wat hulle in staat gestel het om hulle siekte te verstaan, is ’n waarskuwing gepas. Wanneer daar ’n chemiese wanbalans betrokke is, kan die siekte nie eenvoudig met logika weggeredeneer word nie. Steven, ’n bipolêre pasiënt, vertel: “Die dokter wat my behandel het, het dit so toegelig: Jy kan iemand al die bestuurslesse in die wêreld gee, maar as jy hom ’n motor sonder ’n stuurwiel of remme gee, sal daardie lesse nie veel werd wees nie. Net so sal dit moontlik nie die gewenste uitwerking hê as ’n depressielyer net kognitiewe berading ontvang nie. ’n Waardevolle eerste stap is om die chemiese wanbalans in die brein reg te stel.”

[Prent op bladsy 10]

Die Bybel is ’n versterkende hulp vir baie mense wat deur negatiewe gedagtes geteister word