Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jou vel—’n “Stadsmuur”

Jou vel—’n “Stadsmuur”

Jou vel—’n “Stadsmuur”

Inwoners van eertydse stede het beskermende mure gebou om invallers uit te hou. Die stadsmuur het gedien as ’n verskansing om die vyand te keer sowel as ’n plek van waar die verdedigers die stad kon beskerm. Jou liggaam is ook toegerus met ’n beskermende “muur”—jou vel. Hoe beskerm jou vel jou teen indringers?

Die oppervlak van jou vel wemel van bakterieë en ander mikro-organismes, waarvan party infeksie en siekte kan veroorsaak. Jou vel dien klaarblyklik nie net as ’n passiewe verskansing nie. Dit weer blykbaar ook invallers af deur antimikrobiese proteïene, of peptiede, af te skei wat as verdedigers optree. Party van hulle is altyd aan diens. Ander tree in werking wanneer die vel beskadig word.

Die eerste twee groepe antimikrobiese peptiede wat ontdek is, word defensiene en katelisidiene genoem en tree op as verdedigers wat slaggereed is vir aksie. Albei groepe word deur selle in die boonste laag van die vel afgeskei in reaksie op beserings of ontsteking. Hulle maak indringers dood deur hulle selmembrane vol gate te steek.

In 2001 het ’n span navorsers aan die Universiteit van Tübingen, Duitsland, ’n ander soort kiemwerende proteïen, dermisidien, gevind wat die heeltyd aktief is. Anders as die ander twee groepe, word dermisidien deur gesonde vel, in die sweetkliere, afgeskei. Dit is nog nie bekend hoe hierdie proteïen werk nie. Maar die feit dat sweet help om siekte af te weer, verklaar moontlik waarom mense wat te veel was, vatbaarder is vir velinfeksies en ekseem.

Soos ’n eertydse stadsmuur is ons vel ’n verskansing teen vyandige indringers. Jy sal ongetwyfeld met die psalmis saamstem, wat gesê het: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak.”—Psalm 104:24.