Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Motorherstelwerk en veiligheid

Motorherstelwerk en veiligheid

Motorherstelwerk en veiligheid

Kevin het uit ondervinding geweet hoe om die olie in sy motor te vervang. Hy het geweet hoe om die oliebak se aftapprop te verwyder, die krukkas leeg te tap en die prop terug te sit en vas te draai. Maar eenkeer toe Kevin hard op sy moersleutel gedruk het, het dit van die boutkop afgegly. Kevin se hand het ’n skerp stuk metaal getref, wat sy handpalm so erg gesny het dat hy ’n hele paar steke moes kry.

SOOS Kevin werk baie mense gereeld aan hulle motor—party eenvoudig omdat dit geld spaar. Maar om die grondbeginsels van instandhouding en herstelwerk te leer, kan ook ander voordele inhou. “Eenkeer, gedurende ’n lang rit, het my motor onklaar geraak”, sê Kathy. “Omdat ek geleer het om aan my motor te werk, kon ek dit regmaak en verder ry.”

Miskien wil jy ook graag weet hoe om jou motor in stand te hou en te herstel. Maar hoe kan jy dit veilig doen?

Dink vooruit!

Veiligheid moet voorkeur geniet. a Kevin se besering lig toe hoe maklik jy jou kan beseer wanneer jy in ’n beperkte ruimte werk of wanneer jy krag uitoefen met ’n stuk gereedskap terwyl jy aan jou motor werk. Hoe kan jy beserings vermy? Wanneer jy ’n bout met ’n moersleutel vasdraai, moet jy seker maak dat die sleutel goed oor die bout pas. Vra jou af: ‘Wat sal met my hand gebeur as die moersleutel gly?’ Handskoene of ’n lap wat om jou hand gedraai is, kan ’n mate van beskerming bied. Om groter beheer te hê oor die krag wat jy uitoefen, moet jy, indien moontlik, eerder die moersleutel na jou toe trek as om dit weg te stoot. Wanneer jy ’n stywe bout losmaak, moet jy dit eweneens net ’n kwartdraai op ’n slag probeer draai. Hierdie beginsels van voorsorg en beheer geld te alle tye. Moet dit nooit ter wille van spoed ignoreer nie!

Ongelukke gebeur dikwels wanneer iemand ’n stuk gereedskap vir iets probeer gebruik waarvoor dit nie bedoel is nie. Tom het byvoorbeeld gesukkel om die vonkproppe in sy motor te vervang. Waarom? Sy soksleutel was te kort en het elke keer van die eerste prop afgegly. Uiteindelik het Tom ’n verlengstuk tussen die sok en die ratelsleutel gesit. Hy het toe die ander vyf proppe in dieselfde tyd vervang as wat hy die eerste een vervang het—en hy het dit veilig gedoen! Watter les leer ons hieruit? Dit is noodsaaklik om die regte stuk gereedskap te hê.

Vreemde stowwe kan in jou oë kom terwyl jy onder die motor werk of onder die instrumentpaneel inkyk. Hoe kan dit voorkom word? “Dra oogbeskerming, soos ’n skermbril”, sê Sean, wat al meer as tien jaar lank ’n werktuigkundige is. “In die werkswinkel waar ek werk”, voeg hy by, “is dit verpligtend om sulke veiligheidstoerusting te dra.” Jy moet ook oogbeskerming dra wanneer jy naby gevaarlike vloeistowwe, soos batterysuur, werk.

Wanneer jy onder jou motor werk, moet jy altyd ’n behoorlik ontwerpte stut, ’n motorhyser of ’n versterkte herstelput gebruik. Moet nooit onder ’n voertuig werk wat net deur ’n domkrag gestut word nie. Die eienaarshandboek van party motors wys waar domkragte en stutte geplaas moet word sodat die motor stewig sal staan. Onthou egter dat ’n skielike beweging—soos wanneer jy ’n stywe bout loskry—kan veroorsaak dat die motor beweeg en van die stutte afgly.

Hoe om gevaarlike verrassings te voorkom

Party dele van jou motor kan baie warm word en jou brand as jy daaraan raak. Die water in die verkoeler is byvoorbeeld ’n ruk nadat die enjin afgeskakel is nog warm. Moet dus nie die verkoelerdop afhaal voordat dit genoeg afgekoel het dat jy met jou kaal hande daaraan kan vat nie. Party motors se verkoelerwaaier is elektries aangedrewe en skakel outomaties aan—selfs nadat die enjin afgeskakel is. Om beserings te vermy, moet jy die aarddraad van die battery ontkoppel voordat jy begin werk.

Wanneer jy aan jou motor werk, moet jy enige ringe en juweliersware afhaal, veral as die enjin loop. Metaaljuweliersware haak nie net vas aan onderdele wat uitsteek nie, maar kan ook ’n elektriese kortsluiting veroorsaak en rooiwarm word! Los moue sowel as dasse, serpe en selfs lang hare kan in bewegende dele verstrengel raak.

Selfs wanneer jy dink dat jou werk voltooi is, is daar een laaste reël om te volg. “Gaan altyd jou werk weer na”, sê Dirk, ’n dienskonsultant by ’n besige herstelwinkel. “Eenkeer”, gaan hy voort, “het ’n werktuigkundige vergeet om dit te doen nadat hy aan ’n motor se remme gewerk het. Die remme het geweier, en die motor het in my lessenaar vasgeloop!”

Wat om in noodgevalle te doen

Eendag het Tom opgemerk dat sy motor oorverhit. ’n Pyp het gebars en die water het uit die verkoeler gelek. Met ’n rol versterkte kleefband wat Tom in die motor gehou het, kon hy die pyp tydelik herstel deur die gat toe te plak en ’n mengsel van vriesweermiddel en water in die verkoeler te gooi. Daarna het hy na ’n motoronderdelewinkel gery om ’n nuwe pyp te koop. Tom se ondervinding toon hoe belangrik dit is om voorbereid te wees deur ’n paar onderdele sowel as gereedskap in jou motor te hou.

Terwyl jy bestuur, moet jy op enige vreemde geluide of reuke let. Yvonne het ’n vreemde reuk opgemerk wat uit die enjin van die motor gekom het. Haar man het die enjinkap oopgemaak en gesien hoe die vriesweermiddel uit ’n gaatjie in die boonste deel van die verkoelerpyp spuit. Omdat die probleem opgespoor is voordat die motor oorverhit het, kon Yvonne en haar man na ’n herstelwinkel ry.

Wat moet jy doen as jou motor op die hoofweg onklaar raak? Probeer eerstens om die motor so ver moontlik van die pad af te kry. Passasiers, veral kinders, moet in die motor bly met hulle sitplekgordels vas. As jy buite die motor moet wees, moet jy so ver moontlik van die verkeer af staan. Skakel die noodligte aan. Los die enjinkap oop as ’n teken dat jy probleme met jou motor het. Sit waarskudriehoeke of ander waarskuwingstekens versigtig uit om aankomende motoriste te waarsku.

As jou motor se battery pap is, kan jy die battery met behulp van oorleikabels en ’n ander voertuig aan die gang kry. Maar onthou dat motorbatterye ’n hoogs ontvlambare gas afgee. ’n Vonk kan hierdie gas laat ontvlam en ’n ontploffing veroorsaak wat jou vol bytende suur kan spat. Daarom moet jy vir hulp wag as jy of die persoon wat jou help, nie seker is hoe om die batterye met die oorleikabels te koppel nie.

Soos ons gesien het, is die instandhouding van jou motor ’n ernstige verantwoordelikheid. Hetsy jy aan jou motor werk om na ’n noodgeval om te sien of net gereelde instandhouding doen, onthou altyd: Veiligheidsbewustheid is ’n moet!

[Voetnoot]

a As jy ’n taak vir die eerste keer aanpak, moet jy ’n werkswinkelhandboek vir jou motor probeer kry of ’n ervare vriend vra om jou te help. Indien jou motor gerekenariseerde of ander hipertegnologiese komponente het, sal dit moontlik beter wees om jou voertuig na ’n werktuigkundige te neem wat die nodige toerusting en ondervinding het om die herstelwerk te doen.

[Lokteks op bladsy 21]

Ongelukke gebeur dikwels wanneer iemand ’n stuk gereedskap vir iets probeer gebruik waarvoor dit nie bedoel is nie

[Venster/Prente op bladsy 19]

Wat om in jou motor te hou

Noodwiel en domkrag

Oorleikabels

Waarskudriehoeke of weerkaatsers

Gereedskap en skermbril

Flits

Ekstra olie, water, vriesweermiddel, remvloeistof

Versterkte kleefband

Ekstra sekerings

Sleeptou (Let wel: Op party plekke vereis die wet dat ’n gelisensieerde insleepvoertuig jou motor insleep)

Houer om gereedskap netjies en bottels regop te hou

Jy wil miskien ook ander onderdele in jou motor hou. Maar party motorklubs wat ’n nooddiens voorsien, huiwer om aan ’n motor te werk wat onklaar geraak het as die eienaar self reeds sekere herstelwerk begin doen het. As jy aan ’n motorklub behoort, moet jy uitvind watter soort herstelwerk toegelaat word.