Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel se beskouing

Sal diplomasie wêreldvrede meebring?

Sal diplomasie wêreldvrede meebring?

WIL jy graag sien dat alle oorloë tot ’n einde kom? Daar moet tog seker ’n diplomatieke oplossing vir nasionale en internasionale konflikte wees. Baie mense meen dat daar ’n einde aan oorlog gemaak kan word as wêreldleiers eenvoudig saamwerk. Maar jy is waarskynlik teleurgesteld met die resultate van diplomasie. Diplomate bekragtig al eeue lank verdrae, stel resolusies op en hou spitsberade, maar min geskille is vir goed uit die weg geruim.

Die Bybel het baie te sê oor diplomasie en vrede. Dit beantwoord die volgende vrae: Watter faktore verhinder tans dat diplomasie vrede meebring? Moet Christene by diplomasie betrokke raak? Hoe sal ware vrede uiteindelik verkry word?

Wat staan in die pad van vrede?

Verskillende Bybelverslae lig toe hoe vrede bereik kan word as mense bymekaarkom en sake uitpraat. Abigail het Dawid en sy leër byvoorbeeld op bekwame wyse oorreed om hulle nie op haar huisgesin te wreek nie (1 Samuel 25:18-35). Jesus het ’n illustrasie vertel van ’n koning wat niks anders kon doen as om ambassadeurs uit te stuur om vrede te vra nie (Lukas 14:31, 32). Ja, die Bybel erken dat party vorme van diplomasie konflikte kan beëindig. Waarom het vredesonderhandelinge dan dikwels min sukses?

Die Bybel het akkuraat voorspel dat ons tyd vol probleme sou wees. Weens die bose invloed van Satan die Duiwel sal mense “nie bereid [wees] tot enige ooreenkoms nie”, maar hulle sal “wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots” wees (2 Timoteus 3:3, 4; Openbaring 12:12). Jesus het ook voorspel dat die voleinding van die teenswoordige stelsel van dinge deur “oorloë en berigte van oorloë” gekenmerk sou word (Markus 13:7, 8). Wie kan ontken dat dit al hoe algemener geword het? Moet dit ons dan verbaas dat pogings om vrede tussen nasies te bewerkstellig dikwels tevergeefs is?

Dink ook hieraan: Hoewel diplomate dalk hard probeer om botsings te voorkom, is elkeen se hoofdoel om sy eie nasie se belange te bevorder. Dit is waaroor politieke diplomasie eintlik gaan. Moet Christene by sulke sake betrokke raak?

Wêrelddiplomate het, ongeag hulle beweegredes, nie die vermoë of die mag om blywende oplossings te vind nie

Christene en diplomasie

Die Bybel gee hierdie raad: “Moenie julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie” (Psalm 146:3). Dit beteken dat wêrelddiplomate, ongeag hulle beweegredes, nie die vermoë of die mag het om blywende oplossings te vind nie.

Toe Jesus deur Pontius Pilatus verhoor is, het hy gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie” (Johannes 18:36). Vredesinisiatiewe word dikwels deur nasionalistiese haat en politieke selfsug bederf. Daarom raak ware Christene nie betrokke by hierdie wêreld se konflikte en pogings tot diplomasie nie.

Beteken dit dat Christene onverskillig is en nie in wêreldaangeleenthede belangstel nie? Is hulle ongevoelig vir menselyding? Nee. Inteendeel, die Bybel beskryf God se ware aanbidders as mense wat “sug en steun” oor die slegte dinge wat om hulle gebeur (Esegiël 9:4). Christene vertrou eenvoudig op God om vrede te bring soos hy beloof het. Is die einde van oorlog jou idee van vrede? God se Koninkryk sal sonder twyfel ’n einde aan oorloë maak (Psalm 46:8, 9). Maar dit sal ook die algehele veiligheid en welsyn van al die aarde se bewoners verseker (Miga 4:3, 4; Openbaring 21:3, 4). Hierdie voortreflike vrede kan nooit teweeggebring word deur diplomasie of die pogings van menseorganisasies wat hulle vir vrede beywer nie.

Bybelprofesie en die geskiedenis toon duidelik dat dit net tot teleurstelling kan lei as ’n mens op menslike diplomasie vertrou om vrede mee te bring. Diegene wat op Jesus Christus vertrou om vrede te bring en wat God se Koninkryk ondersteun, sal sien hoe hulle begeerte na ware vrede vervul word. Wat meer is, hulle sal dit vir ewig geniet!—Psalm 37:11, 29.