Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Antieke geboue waarop God se naam verskyn

Antieke geboue waarop God se naam verskyn

Antieke geboue waarop God se naam verskyn

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SLOWENIË

Deur die eeue heen is kerke en kloosters oor die hele Europa op heuweltoppe gebou. Die boustyle van hierdie antieke geboue wissel van die Romaanse styl van die Middeleeue—met sy kenmerkende breë mure en swaar, geronde boë—tot die ryk versierde en dramatiese barokstyl van latere eeue. Dit is interessant dat die Tetragrammaton, die vier Hebreeuse letters van God se persoonlike naam, in baie van hierdie geboue gesien kan word.

Neem byvoorbeeld die abdy van Stična, een van die oudste Cisterciënsiese kloosters in Slowenië. Dit is in 1135 gebou, net ongeveer 40 jaar ná die Cisterciënsiese monnike-orde in Frankryk gestig is. Hoewel die abdy al ’n paar keer gerestoureer is, behou dit sy oorspronklike Romaanse styl, nou met barokversierings. Die binnekant is met verskeie skilderye en standbeelde versier. Een syaltaar is versier met die groot goue letters van die Tetragrammaton waarom daar ’n silwerraam is.

Daar is reeds in die tiende eeu vir die eerste keer in geskrewe dokumente van die dorp Slovenj Gradec melding gemaak. ’n Gotiese kerkhospitaal is in 1419 daar gebou. Een hele muur aan die binnekant is gewy aan ’n 15de eeuse fresko wat 27 Bybeltonele uitbeeld. Dit begin met Lasarus se opstanding en eindig met Pinkster. Op ’n ander plek in dieselfde gebou word die naam van God in Hebreeus uitgebeeld in swart karakters teen ’n goue agtergrond.

In die noordwestelike deel van die land is die dorp Radovljica. In die 1400’s was die klein nedersetting deur mure en ’n grag omring, en dit het bestaan uit ’n kasteel, ’n kerk en verskeie ander geboue. Op ’n goue gedenkplaat teen een van die altare in die kerk verskyn die Tetragrammaton.

Naby die klein dorpie Podčetrtek staan ’n antieke klooster wat in die 17de eeu gebou is. Binne die gebou sal ’n oplettende waarnemer die goddelike naam in ’n fresko vind.

Die Tetragrammaton kan in baie ander antieke Sloweense geboue gesien word. Terwyl toeriste dus die vakmanskap en kunstalent van die verlede bewonder, sal hulle dalk sien dat die inwoners van vergange tye met God se naam bekend was.

[Prent op bladsy 31]

Syaltaar van die Stična-klooster

[Prent op bladsy 31]

In Sveti Duh-kerk in Slovenj Gradec

[Erkenning]

Slovenj Gradec - Cerkev Sv. Duha, Slovenija