Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die Duisendsterhotel”

“Die Duisendsterhotel”

“Die Duisendsterhotel”

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK

DAAR is baie mense soos ek wat graag ’n nag in ’n viersterhotel vir ’n aand in die woestyn sal verruil, waar jy met verwondering na die sterrehemel kan kyk. Dit is hoe ek gevoel het nadat ek na die pragtige suide van Tunisië in Noord-Afrika gereis het. Daar het ek die geriewe geniet van die sogenaamde duisendsterhotel—die woestyntent van ’n nomadiese herder.

Deur die mens se geskiedenis heen het miljoene mense van plekke so ver uitmekaar soos die Asiatiese grasvlaktes, die Sahara en Noord-Amerika in sulke “duisendsterhotelle” gewoon. Hoewel baie stamme in die afgelope eeu noodgedwonge hulle tentlewe moes opgee, swerf daar nog duisende nomades in die woestyne rond. Hulle legendariese gasvryheid maak ’n dag in hulle geselskap onvergeetlik.

“Huise van hare”

Ek en my gids ry in ’n ou Land Rover deur die woestyn om een van hierdie nomadiese kampe—of douars, soos dit in Noord-Afrika genoem word—te besoek. Nadat ons ’n paar herders die pad gevra het, sien ons uiteindelik die silhoeët van verskeie donkerbruin tente in die verte. Wanneer ons uit die motor klim, word ons deur die diep stilte van die woestyn getref. Die Bedoeïene sê dat hierdie stilte die verstand helder maak. Ons gasheer verwelkom ons hartlik en nooi ons in sy tent in. Dit is ongeveer 12 meter lank, 5 meter breed en 2 meter hoog. Ons gaan die deel van die tent binne wat hoofsaaklik vir mans en gaste bedoel is en gaan sit op pragtige matte. Die ander deel van die tent is bedoel vir die gesin en om in te kook en word deur ’n gordyn afgeskort wanneer gaste onthaal word. Terwyl ons gesels, bring ons vriendelike gasvrou vir ons tradisionele kruisementtee, en die dogters, wat in die kombuisdeel van die tent gebly het, knie deeg om meelkoeke te maak. Hierdie heerlike meelkoeke word in ’n erdekastrol oor ’n oop vuur gaargemaak.

Tydens ons gesprek vra ek ons gasheer hoe die dak en mure gemaak word. Hy vertel ons met graagte. Die panele wat gebruik word, bestaan in werklikheid nie uit net een stuk materiaal nie, maar uit verskeie stroke wat ongeveer 15 meter lank en 50 sentimeter wyd is en aanmekaargewerk word. Sommige van die groter tente het 12 of 13 stroke. Hoe word hierdie stroke materiaal gemaak?

Gedurende die sonnige middag sien ek hoe een van ons gasheer se dogters op die sand voor die tent sit en met ’n spoel in haar hand dierehare behendig tot dik garing spin. Hierdie garing word met ’n horisontale weefstoel tot lang stroke materiaal geweef. Deur dit los te weef, word goeie ventilasie verseker. Maar wanneer dit reën, swel die garingdraadjies sodat die weefsel stywer word en sodoende die materiaal waterdig maak. Die Arabiese naam vir ’n tent, bait esj-sjaar, wat “huis van hare” beteken, is ongetwyfeld gepas.

Instandhouding

Hoe lank hou ’n tent? Die nomades kyk goed na hulle woestyntuistes. Ons gasheer sê vir my dat die vroue in sy huisgesin elke jaar minstens een strook materiaal weef. Gewoonlik word die mees verslete strook elke jaar met ’n nuwe strook vervang. ’n Paneel van agt stroke sal dus binne agt jaar heeltemal hernieu word. In sommige plekke word die stroke losgetorring en omgedraai sodat die minder verslete kant na buite wys.

Hoe word die tent gestut? Die middel van die tent word deur vier pale van appelkooshout opgehou, hoewel ander houtsoorte soms gebruik word. Die twee middelste pale is ongeveer 2,5 meter lank. Een punt van elke paal word in die grond ingeslaan, terwyl die ander punt in ’n versierde hardehoutnokpaal pas, wat 45 tot 60 sentimeter lank is. Die nokpaal is effens gekrom en laat die boonste deel van die tent soos ’n kameel se bult lyk. Die sye en agterkant van die tent word deur etlike kleiner pale gestut. Ons gaan buitentoe om te sien hoe die tent vasgemaak is. Ons sien dat ankertoue, wat van bokhaar gemaak is, gebruik word om die panele in die grond te anker.

Agter die tent is daar ’n breë heining van droë bosse wat beskerming teen wilde diere bied. Naby die tent is die gesin se esel aan ’n pen vasgemaak. ’n Bietjie verder, in ’n ronde kamp, is daar ’n trop skape en bokke wat goed versorg word deur ons gasheer se dogters.

’n Eenvoudige lewenstyl

Teen dié tyd is die meelkoeke gereed, en nadat hulle in ’n olyfolie met ’n vrugtesmaak gedoop is, is hulle ’n heerlike versnapering. Ek kyk om my rond en word getref deur die eenvoud van die nomades se lewenstyl. ’n Houtkis en ’n paar geweefde sakke, matte en komberse is hulle enigste meubels. My gasheer se dogters wys my met trots die eenvoudige toerusting waarmee hulle wol kam en spin. Maar buiten dit het hulle baie min materiële besittings. Dit herinner my aan die wyse gesegde van die digter-herder Dawid, wat ’n ruk lank in tente gewoon het: “’n Mens hoop dinge op en weet nie wie dit sal insamel nie.”—Psalm 39:6.

Baie nomades—wat waarskynlik deur hulle omgewing geïnspireer word—is digters, en hulle hou daarvan om aan digkunswedstryde deel te neem. Hulle is ook baie lief vir stories en spreuke. Ek haal ’n paar spreuke uit die Heilige Skrif aan, wat vol is van die volmaakte wysheid van “die Een wat die hemel uitspan soos ’n fyn gaas, wat dit uitsprei soos ’n tent om in te woon” (Jesaja 40:22). Die tyd het aangebreek om afskeid te neem van ons gashere. Ek bedank hulle hartlik vir hulle gasvryheid en wonder wanneer ek weer die geleentheid sal hê om tyd in een van hierdie lieflike “duisendsterhotelle” deur te bring.

[Prent op bladsy 26]

Meelkoeke word oor ’n oop vuur gaargemaak

[Foto-erkennings op bladsy 26]

Musée du Sahara à Douz, avec l’aimable autorisation de l’Agence de mise en valeur du patrimoine et de promotion culturelle de Tunisie; kamele: ZEFA/ROBERTSTOCK.COM