Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die stryd teen God se naam

Die stryd teen God se naam

Die stryd teen God se naam

SY NAAM was Hananja ben Teradion. Hy was ’n Joodse geleerde van die tweede eeu G.J. en was daarvoor bekend dat hy openbare vergaderinge gehou het waar hy mense geleer het uit die Sefer Tora, ’n boekrol wat die eerste vyf boeke van die Bybel bevat. Ben Teradion was ook daarvoor bekend dat hy God se persoonlike naam gebruik het en dit aan ander geleer het. As ’n mens in ag neem dat God se naam meer as 1 800 keer in die eerste vyf boeke van die Bybel voorkom, was dit dan hoegenaamd moontlik dat hy ’n onderrigter van die Tora kon wees sonder om God se naam aan ander te leer?

In Ben Teradion se dag was dit egter gevaarlik om ’n Joodse geleerde te wees. Volgens Joodse geskiedkundiges het die Romeinse keiser dit ’n halsmisdaad verklaar om Judaïsme te verkondig of te beoefen. Uiteindelik het die Romeine Ben Teradion in hegtenis geneem. Met sy inhegtenisname het hy ’n afskrif van die Sefer Tora vasgehou. In antwoord op sy aanklaers se aantygings het hy openlik erken dat hy bloot ’n goddelike bevel gehoorsaam om die Bybel aan ander te leer. Hy is nogtans die doodstraf opgelê.

Op die dag van sy teregstelling was Ben Teradion toegedraai in die einste boekrol van die Bybel wat hy met sy inhegtenisname vasgehou het. Toe is hy op ’n brandstapel verbrand. Volgens die Encyclopaedia Judaica is “klossies wol wat in water gedoop is, oor sy hart geplaas sodat hy nie vinnig sou doodgaan nie en dus langer gefolter sou word”. As deel van sy straf is sy vrou ook tereggestel en sy dogter is aan ’n bordeel verkoop.

Hoewel die Romeine verantwoordelik was vir hierdie wrede teregstelling van Ben Teradion, sê die Talmoed a dat “hy op die brandstapel tereggestel is omdat hy die hele Naam uitgespreek het”. Ja, vir die Jode was dit werklik ’n ernstige oortreding om God se persoonlike naam uit te spreek.

Die Derde Gebod

Klaarblyklik het daar gedurende die eerste en tweede eeu G.J. ’n bygeloof onder die Jode ontstaan in verband met die gebruik van God se naam. Die Misjna (’n versameling rabbynse kommentare wat die grondslag van die Talmoed geword het) sê dat “iemand wat die goddelike naam uitspreek soos dit gespel word” geen deel het aan die toekomstige aardse Paradys wat God belowe nie.

Wat was die oorsprong van hierdie verbod? Party beweer dat die Jode God se naam as te heilig beskou het vir onvolmaakte mense om uit te spreek. Uiteindelik is daar selfs gehuiwer om die naam uit te skryf. Volgens een bron het hierdie vrees ontstaan omdat hulle bang was dat die dokument waarop die naam geskryf is dalk later saam met die vullis uitgegooi sou word, waardeur die goddelike naam verontheilig sou word.

Die Encyclopaedia Judaica sê dat “die naam JHWH nie uitgespreek is nie . . . omdat die Derde Gebod misverstaan is”. Die derde van die Tien Gebooie wat God aan die Israeliete gegee het, sê: “Jy mag die naam van Jehovah jou God nie op onwaardige wyse gebruik nie, want Jehovah sal die een wat sy naam op onwaardige wyse gebruik, nie ongestraf laat bly nie” (Eksodus 20:7). Gevolglik is God se verbod teen die ongepaste gebruik van sy naam verdraai en het dit ’n bygeloof geword.

Vandag is daar ongetwyfeld niemand wat sal beweer dat God ’n mens op ’n brandstapel sal laat verbrand as jy die goddelike naam uitspreek nie! Tog is daar nog steeds Joodse bygelowe in verband met God se persoonlike naam. Baie verwys nog na die Tetragrammaton as die “Onuitspreeklike Naam”. In party kringe word alle verwysings na God doelbewus verkeerd uitgespreek sodat die tradisie nie verbreek word nie. Byvoorbeeld, Jah, of Yah, ’n afkorting van God se persoonlike naam, word as Kah uitgespreek. Halleluja word as Halleluka uitgespreek. Party skryf nie eers die woord “God” uit nie en vervang een of meer van die letters met ’n strepie. Wanneer hulle byvoorbeeld die woord “God” wil skryf, skryf hulle “G-d”.

Verdere pogings om die naam weg te steek

Judaïsme is geensins die enigste godsdiens wat die gebruik van God se naam vermy nie. Beskou byvoorbeeld die geval van Hieronimus, ’n Katolieke priester en die sekretaris van pous Damasus I. In die jaar 405 G.J. het Hieronimus sy vertaling van die hele Bybel in Latyns voltooi, wat bekend geword het as die Latynse Vulgaat. Hieronimus het nie God se naam in sy vertaling ingesluit nie. Hy het eerder die gebruik van sy tyd gevolg en die goddelike naam met die woorde “Here” en “God” vervang. Die Latynse Vulgaat het die eerste goedgekeurde Katolieke Bybelvertaling en die grondslag van talle ander vertalings in verskillende tale geword.

Die Douay Version, ’n Katolieke vertaling van 1610, was byvoorbeeld grotendeels die Latynse Vulgaat wat in Engels vertaal is. Dit is dus nie verbasend dat hierdie Bybel glad nie God se persoonlike naam bevat het nie. Maar die Douay Version was nie net nog ’n Bybelvertaling nie. Dit was tot die 1940’s die enigste goedgekeurde Bybel vir Engelssprekende Katolieke. Ja, God se naam was honderde jare lank verborge vir miljoene toegewyde Katolieke.

Dink ook byvoorbeeld aan die King James Version. In 1604 het die koning van Engeland, Jakobus I, ’n groep geleerdes die opdrag gegee om die Bybel in Engels te vertaal. Sowat sewe jaar later het hulle die King James Version, ook bekend as die Authorized Version, vrygestel.

In hierdie geval het die vertalers ook besluit om die goddelike naam te vermy en dit net in ’n paar verse gebruik. In die meeste gevalle is God se naam met die woord “HERE” of “GOD” vervang om die Tetragrammaton te verteenwoordig. Hierdie vertaling het die Standaardbybel vir miljoene geword. Die World Book Encyclopedia sê dat “geen belangrike Engelse vertalings van die Bybel gedurende die meer as 200 jaar ná die vrystelling van die King James Version verskyn het nie. Gedurende hierdie tyd was die King James Version die wydverspreidste vertaling wat in die Engelssprekende wêreld gebruik is.”

Die bogenoemde is net drie van die talle Bybelvertalings wat oor die laaste eeue uitgegee is waarin God se naam uitgelaat of op die agtergrond geskuif is. Dit is geen wonder nie dat die oorgrote meerderheid verklaarde Christene vandag huiwer om die goddelike naam te gebruik of dit glad nie eens ken nie. Oor die jare heen het sommige Bybelvertalers weliswaar God se persoonlike naam in hulle vertalings ingesluit. Maar die meeste van hulle is in onlangse tye gedruk en het ’n onbeduidende uitwerking op die algemene gesindhede teenoor God se naam gehad.

’n Gebruik in stryd met God se wil

Die algemene versuim om God se naam te gebruik, is geheel en al gegrond op menslike tradisie en nie op Bybelleringe nie. “Niks in die Tora verbied ’n mens om God se Naam uit te spreek nie. Trouens, dit is duidelik uit die skrif dat dit die gebruik was om God se Naam uit te spreek”, verduidelik die Joodse navorser Tracey R. Rich, samesteller van die Internetwebwerf Judaism 101. Ja, in Bybeltye het God se aanbidders sy naam gebruik.

As ons God se naam ken en gebruik, bring dit ons beslis nader aan die goedgekeurde manier van aanbidding, die manier waarop hy in Bybeltye aanbid is. Dit kan die eerste stap wees om ’n persoonlike verhouding met hom op te bou, wat baie beter is as om net sy naam te ken. Jehovah God nooi ons eintlik om so ’n verhouding met hom te hê. Hy het die hartlike uitnodiging geïnspireer: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Maar jy vra dalk: ‘Hoe kan ’n blote mens sulke intiemheid met die almagtige God geniet?’ Die volgende artikel verduidelik hoe jy ’n verhouding met Jehovah kan opbou.

[Voetnoot]

a Die Talmoed is ’n versameling van eertydse Joodse tradisies en word beskou as een van die heiligste en invloedrykste geskrewe werke van die Joodse godsdiens.

[Venster op bladsy 6]

Halleluja

Waaraan dink jy as jy die woord “Halleluja” hoor? Miskien herinner dit jou aan Händel se “Messias”, ’n musikale meesterstuk uit die 1700’s wat die dramatiese Hallelujakoor insluit. Of dalk dink jy aan die bekende Amerikaanse patriotiese lied: “The Battle Hymn of the Republic”, ook bekend as “Glory, Hallelujah”. Jy het ongetwyfeld al die woord “Halleluja” êrens gehoor. Miskien gebruik jy dit selfs van tyd tot tyd. Maar weet jy wat dit beteken?

Halleluja—Die Afrikaanse transliterasie van die Hebreeuse uitdrukking ha·lelu-Yahʹ beteken “loof Jah”.

Jah—’n Verkorte poëtiese vorm van God se naam, Jehovah. Dit kom meer as 50 keer in die Bybel voor, dikwels as deel van die uitdrukking “Halleluja”.

[Venster op bladsy 7]

God se naam in jou naam?

Baie Bybelname is vandag nog steeds gewild. In sommige gevalle sluit die oorspronklike Hebreeuse betekenis van hierdie name eintlik God se persoonlike naam in. Hier is ’n paar voorbeelde van sulke name en hulle betekenis. Miskien is jou naam een van hulle.

Johanna—“Jehovah was genadig”

Joël—“Jehovah is God”

Johannes—“Jehovah het guns betoon”

Jonatan—“Jehovah het gegee”

Josef—“Mag Jah byvoeg” b

Josua—“Jehovah is redding”

[Voetnoot]

b “Jah” is ’n verkorte vorm van “Jehovah”.

[Venster op bladsy 8]

Bybelse benamings vir God

Die Hebreeuse teks van die Heilige Skrif gebruik verskeie benamings vir God, soos die Almagtige, Skepper, Vader en Here. Nogtans kom sy persoonlike naam baie meer kere voor as al die ander benamings saam. Dit is duidelik dat dit God se wil is dat ons sy naam moet gebruik. Beskou die volgende lys benamings soos dit in die Hebreeuse Geskrifte voorkom. c

Jehovah—6 973 keer

God—2 605 keer

die Almagtige—48 keer

Here—40 keer

Maker—25 keer

Skepper—7 keer

Vader—7 keer

Oue van dae—3 keer

Grootse Onderrigter—2 keer

[Voetnoot]

c Die benaderde aantal kere wat dit voorkom in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster op bladsy 9]

’n God wat dinge laat gebeur

Geleerdes stem nie heeltemal saam oor wat God se naam, Jehovah, beteken nie. Maar ná uitgebreide navorsing oor die onderwerp glo baie dat die naam ’n vorm van die Hebreeuse werkwoord ha·wahʹ (word) is, wat “Hy laat word” beteken.

Gevolglik word die verslag in Eksodus 3:14 waar Moses God gevra het wat sy naam is, in die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif d so vertaal: “Hierop het God vir Moses gesê: ‘Ek sal word wat ek sal word.’ En hy het bygevoeg: ‘Só moet jy vir die kinders van Israel sê: “Ek sal word het my na julle toe gestuur.”’”

Daardie vertaling is gepas, aangesien God in staat is om homself te laat word wat ook al nodig is. Niks kan hom keer om enige rol te vervul wat nodig is om sy wil uit te voer nie. Sy voornemens en beloftes word altyd waar. God het bowenal die Skepper geword, die een met onbeperkte vermoë om dinge te laat gebeur. Hy het die fisiese heelal in aansyn gebring. Hy het ook ’n menigte geesskepsele geskep. Hy is waarlik ’n God wat dinge laat gebeur!

[Voetnoot]

d Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 5]

’n Reliëf wat die teregstelling van Hananja ben Teradion uitbeeld

[Prente op bladsy 8, 9]

Plekke waar die naam van God prominent vertoon word

1. ’n Kerk in Lomborg, Denemarke, 17de eeu

2. Gebrandskilderde glasvenster, Bern-katedraal, Switserland

3. Dooie See-rolle, in vroeë Hebreeuse skrif, Israel, ca. 30-50 G.J.

[Erkenning]

Shrine of the Book, Israel Museum, Jerusalem

4. Sweedse muntstuk, 1600

[Erkenning]

Kungl. Myntkabinettet, Sveriges Ekonomiska Museum

5. Duitse gebedeboek, 1770

[Erkenning]

From the book Die Lust der Heiligen an Jehova. Oder: Gebaet-Buch, 1770

6. Klipinskripsie, Beiere, Duitsland

7. Die Moabitiese Steen, Parys, Frankryk, 830 v.G.J.

[Erkenning]

Musée du Louvre, Paris

8. Skildery teen kerkkoepel, Olten, Switserland