Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

God het ’n naam!

God het ’n naam!

God het ’n naam!

Wat is God se naam? Mense het almal persoonlike name. Baie mense gee selfs vir hulle troeteldiere name! Is dit dan nie redelik dat God ook ’n naam moet hê nie? Die feit dat mense persoonlike name het en gebruik, is ongetwyfeld ’n noodsaaklike deel van die verhoudings en interaksie tussen mense. Moet dit dan anders wees wanneer dit by ons verhouding met God kom? Dit is nogal ironies dat miljoene mense wat bely dat hulle in die God van die Bybel glo, nie sy persoonlike naam gebruik nie. En tog is God se naam al eeue lank bekend. In hierdie reeks artikels sal jy van tye leer toe God se naam algemeen gebruik is. Nog belangriker, jy sal leer wat die Bybel sê omtrent die belangrikheid daarvan om God by name te leer ken.

TEEN die 17de eeu het verskeie Europese lande geld gemunt waarop die naam van God verskyn het. Op ’n Duitse muntstuk van 1634 kon die naam Jehovah duidelik gesien word. Sulke muntstukke het algemeen bekend geword as die Jehovah-munte en was dekades lank in omloop.

Jehovah a is al eeue lank die erkende vertaling vir God se naam. In Hebreeus, ’n taal wat van regs na links gelees word, kom die naam as vier konsonante, יהוה, voor. Hierdie vier Hebreeuse karakters—getranslitereer as JHWH—staan bekend as die Tetragrammaton. God se naam het ook dekades lank in hierdie vorm op Europese muntstukke verskyn.

God se naam kan ook op geboue en monumente sowel as in kunswerke en baie kerkgesange gevind word. Volgens die Duitse Brockhaus-ensiklopedie was dit vroeër vir Protestantse prinse gebruiklik om ’n insignia te dra wat uit ’n versierde son en die Tetragrammaton bestaan het. Die simbool, wat ook op vlae en muntstukke gebruik is, het as die Jehovah-Son-insignia bekend gestaan. Dit is duidelik dat die opreg godsdienstige Europeërs van die 17de en 18de eeu geweet het dat die almagtige God ’n naam het. Nog belangriker is die feit dat hulle nie bang was om dit te gebruik nie.

God se naam was ook nie in Koloniale Amerika ’n verborgenheid nie. Neem die geval van Ethan Allen, ’n soldaat in die Amerikaanse Revolusie. Volgens sy memoires het hy in 1775 geëis dat sy vyande “in die naam van die Groot Jehovah” moes oorgee. Later, tydens Abraham Lincoln se presidentskap, het verskeie adviseurs dikwels van Jehovah melding gemaak in hulle briewe aan hom. Ander Amerikaanse geskiedkundige dokumente wat die naam van God bevat, is in baie biblioteke vir die publiek beskikbaar. Dit is maar net ’n paar voorbeelde van hoe God se naam deur die eeue heen prominent vertoon is.

Wat van vandag? Is God se naam vergete? Nouliks. Verskeie Bybelvertalings bevat God se persoonlike naam in baie verse. As jy ’n bietjie navorsing in ’n biblioteek of in jou eie woordeboeke doen, sal jy waarskynlik sien dat die naam Jehovah algemeen aanvaar word as die ekwivalent van die Tetragrammaton in jou taal. Byvoorbeeld, in die Encyclopedia International word die naam Jehovah duidelik gedefinieer as die “moderne vorm van die Hebreeuse heilige naam van God”. ’n Onlangse uitgawe van The New Encyclopædia Britannica verduidelik dat Jehovah die “Joods-Christelike naam vir God” is.

‘Maar is God se naam vandag vir mense van belang?’ wonder jy dalk. God se naam word steeds in baie openbare plekke in een of ander vorm uitgebeeld. Byvoorbeeld, die naam Jehovah is op die hoeksteen van ’n gebou in die stad New York gegraveer. In dieselfde stad word die Hebreeuse vorm van die naam ook uitgebeeld op ’n kleurvolle mosaïek wat ’n besige ondergrondse spoorwegstasie versier. Maar dit is veilig om te sê dat min van die duisende mense wat al verby hierdie plekke geloop het, enige betekenis aan hierdie inskripsies geheg het.

Is God se naam belangrik vir mense in jou deel van die wêreld? Of verwys die meeste mense na die Skepper as “God”, asof hierdie titel eintlik sy naam is? Jy het dalk al opgelet dat baie mense glad nie eens daaraan dink of God wel ’n naam het nie. Wat van jou? Voel jy gemaklik daarmee om God by sy persoonlike naam, Jehovah, te noem?

[Voetnoot]

a In hierdie reeks artikels verskyn 39 vorme van die naam Jehovah soos dit in meer as 95 tale gebruik word bo-aan die bladsye.

[Venster/Prent op bladsy 4]

’n Koning wat Jehovah se naam bekend gemaak het

In 1852 het ’n groep sendelinge van Hawaii af na die eilande van Mikronesië vertrek. Hulle het ’n bekendstellingsbrief saam met hulle geneem met die amptelike seël van koning Kamehameha III daarop, wat destyds oor die Hawaii-eilande regeer het. Hierdie brief, wat oorspronklik in Hawais geskryf is en aan die verskillende heersers van die eilande van die Stille Oseaan gerig is, het deels gesê: “Daar is ’n paar onderrigters van die allerhoogste God, Jehovah, op pad na julle eilande toe om Sy Woord aan julle bekend te maak tot julle ewige redding. . . . Behandel hierdie goeie onderrigters met agting en wees vriendelik teenoor hulle, en ek smeek julle om na hulle onderrigting te luister. . . . Ek wil julle aanmoedig om julle afgode weg te gooi, die Here Jehovah as julle God aan te neem, Hom te aanbid en lief te hê en Hy sal julle seën en julle red.”

[Prent]

Koning Kamehameha III

[Erkenning]

Hawaii State Archives

[Prent op bladsy 3]

Die Tetragrammaton, wat “vier letters” beteken, verteenwoordig God se persoonlike naam in Hebreeus