Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe jy God by name kan leer ken

Hoe jy God by name kan leer ken

Hoe jy God by name kan leer ken

’N KOERANTRUBRIEKSKRYWER het die volgende brief van ’n leser ontvang: “Ek worstel al my hele lewe lank met hierdie vraag en ek hoop dat jy dit kan beantwoord. Wat is God se naam? Die Jode sê dat sy regte naam al eeue gelede verlore gegaan het. Die Christene noem Hom Jesus. Die Moslems noem Hom Allah. . . . Wat is dit nou eintlik?” Die koerant het die vraag en hierdie antwoord gepubliseer: “Volgens eertydse Hebreeuse leringe is God almagtig, en daarom kan Hy nie deur ’n enkele naam verteenwoordig word nie. Maar ek verseker jou dat Hy (of Sy) sal reageer op enige eerbiedige naam waarmee jy vorendag kom.”

So ’n onverskillige gesindheid teenoor God se naam is nie vandag ongewoon nie. Hoewel baie wat in die Bybel glo, godsdienstig is, is die geskil in verband met God se naam nie iets waaroor hulle baie dink nie. Maar hoe voel God daaroor? Is dit vir hom so ’n onbeduidende saak?

Nie onbeduidend nie

Dink aan die feit dat die Bybel God se persoonlike naam, Jehovah, duisende kere gebruik. In die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif kom die goddelike naam 7 210 keer voor! a Dit was God self wat die Bybelskrywers geïnspireer het om sy naam so dikwels te gebruik. Een van hierdie skrywers, die psalmis Asaf, het geskryf: “U, wie se naam Jehovah is, u alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde” (Psalm 83:18). Dawid het ook in ’n psalm geskryf: “Ons sal melding maak van die naam van Jehovah ons God.”—Psalm 20:7.

Die Bybel toon dat Jehovah God ons hart ondersoek om vas te stel hoe ons oor sy naam voel. Die psalmis het gesê: “As ons die naam van ons God vergeet het, . . . sal God dit nie uitvind nie? Want hy ken die geheime van die hart” (Psalm 44:20, 21). Die profeet Jesaja het geskryf: “Dank Jehovah! Roep sy naam aan. Maak onder die volke sy handelinge bekend. Meld dat sy naam hoog verhewe is.”—Jesaja 12:4.

God self het gesê: “Hulle sal moet weet dat my naam Jehovah is” (Jeremia 16:21). Op ’n ander geleentheid het hy gesê: “Ek sal beslis my groot naam heilig, wat onder die nasies ontheilig is, . . . en die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is” (Esegiël 36:23). Party van hierdie stellings verwys na ’n tyd wanneer Jehovah se toorn sal ontvlam teenoor diegene wat nie sy naam eerbiedig nie. Die geskil in verband met sy persoonlike naam is nie vir God ’n onbeduidende saak nie.

Jehovah God is nie ver van jou af nie

Hoe kan jy God by name leer ken? Wat beteken dit om God by name te ken? Die Bybel antwoord: “Dié wat u naam ken, sal op u vertrou” (Psalm 9:10). Dit is duidelik dat dit meer behels om God by name te ken as om net te weet wat sy naam is. Jy moet op hom vertrou. Dit beteken dat jy moet uitvind watter soort God hy is en sy eienskappe en gedagtes moet leer ken. Dit sal jou aanspoor om op hom te vertrou.

Jy kan slegs insig verkry oor watter soort God Jehovah is, as jy die Bybel noukeurig lees en bestudeer. Hy belowe om diegene te beskerm wat hom en sy naam liefhet. God sê van iemand wat dit doen: “Omdat hy sy geneentheid op my gerig het, sal ek ook aan hom ontkoming verskaf. Ek sal hom beskerm omdat hy my naam leer ken het. Hy sal my aanroep, en ek sal hom antwoord. Ek sal met hom wees in benoudheid. Ek sal hom red en hom verheerlik. Met lengte van dae sal ek hom versadig, en ek sal hom redding deur my laat sien.”—Psalm 91:14-16.

Wat ’n wonderlike verhouding het Jehovah God tog met diegene wat hom by name ken! Jy kan ook so ’n verhouding met hom geniet. Moet nooit in jou hartgrondige gebede huiwer om hom op sy naam te noem nie. Hy sal jou verhoor, want die Bybel sê: ‘Hy is nie ver van elkeen van ons af nie.’—Handelinge 17:27.

[Voetnoot]

a Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, uitgegee deur Jehovah se Getuies, is ’n Bybelvertaling wat hedendaagse spreektaal gebruik en nie die verouderde taal van ou vertalings nie. Die vernaamste kenmerk van hierdie vertaling is die herstelling van die goddelike naam in sy regmatige plek in die Bybelteks. Tot op hede is meer as 122 miljoen eksemplare, in sy geheel of gedeeltelik, in 45 tale gedruk.

[Venster/Prent op bladsy 11]

God ken jou by name

God het vir Moses gesê: “Ek ken jou by name” (Eksodus 33:12). Die welbekende verslag van die brandende bos bevestig dit. Die Bybel sê dat God “vanuit die doringbos na hom geroep en gesê [het]: ‘Moses! Moses!’” (Eksodus 3:4). Dit is net een voorbeeld van die verskeie kere wat God mense op hulle persoonlike naam aangespreek het. Dit is duidelik dat die Skepper van die heelal in ons as individue belangstel.

Die Bybel sê dat God elkeen van die duisendmiljoene sterre by name ken (Jesaja 40:26). Hoeveel te meer gee hy nie vir die mense om wat hom aanbid nie! Die apostel Paulus het geskryf: “Jehovah ken dié wat aan hom behoort” (2 Timoteus 2:19). Dit impliseer meer as om bloot name te memoriseer. God het intieme kennis van sy aanbidders. Gevolglik moet ons God ook by name ken en ’n intieme kennis van sy eienskappe opdoen.

Die laaste boek van die Bybel beskryf ’n figuurlike boek waarin God die name van al dié neerskryf wat hom deur die geskiedenis heen aanbid het. Hierdie boek word “die boekrol van die lewe” genoem, want Jehovah God sal ewige lewe gee aan diegene wie se name daarin geskryf staan (Openbaring 17:8). Dit is ’n blink vooruitsig vir diegene wat God by name ken.

[Venster/Prent op bladsy 12]

Hulle het God se naam bekend gemaak

● Moses se lied net voordat Israel die Beloofde Land binnegegaan het: “Ek sal die naam van Jehovah bekend maak.”Deuteronomium 32:3.

● Dawid se woorde aan die reus Goliat: “Ek kom na jou toe met die naam van Jehovah van die leërs.”1 Samuel 17:45.

● Job se woorde nadat hy al sy besittings verloor het en al sy kinders skielik dood is: “Laat die naam van Jehovah voortdurend geloof word.”Job 1:21.

● Die apostel Petrus haal die Hebreeuse Geskrifte in ’n toespraak aan: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.”Handelinge 2:21.

● Die profeet Jesaja: “Dank Jehovah! Roep sy naam aan. . . . Meld dat sy naam hoog verhewe is.”Jesaja 12:4.

● Jesus Christus leer sy dissipels bid: “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word.’”Matteus 6:9, 10.

● Jesus Christus bid tot God: “Ek het u naam openbaar gemaak.”Johannes 17:6.

● God praat met sy volk: “Ek is Jehovah. Dit is my naam; en aan niemand anders sal ek my heerlikheid gee nie.”Jesaja 42:8.