Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ek die tyd vind om my huiswerk te doen?

Hoe kan ek die tyd vind om my huiswerk te doen?

Jongmense vra . . . 

Hoe kan ek die tyd vind om my huiswerk te doen?

‘Ek is in matriek en is onder baie druk. . . . Ek het soveel projekte en aanbiedings om te doen dat dit nie eers snaaks is nie. Ek het net nie die tyd om dit te doen nie.’—’n 18-jarige meisie.

VOEL jy oorweldig deur die hoop huiswerk wat jy elke middag huis toe dra? Indien wel, is jy nie die enigste een nie. “Namate skole oor die hele land werk om standaarde te verhoog—en uitslae van gestandaardiseerde eksamens te verbeter—stapel hulle die huiswerk op”, sê ’n persberig uit die Verenigde State. “Hoërskoolleerlinge op party plekke vertel dat hulle elke aand meer as drie uur lank huiswerk doen. Volgens ’n studie deur die Universiteit van Michigan kry jong kinders tot drie keer meer huiswerk as kinders 20 jaar gelede.”

Dit is nie net leerlinge in die Verenigde State wat baie huiswerk kry nie. Byvoorbeeld, terwyl sowat 30 persent van 13-jariges daar sê dat hulle meer as twee uur per dag aan huiswerk bestee, is die syfer in Taiwan en Korea 40 persent en in Frankryk meer as 50 persent. “Partykeer word ek regtig gespanne wanneer my huiswerk ophoop”, kla Katie, ’n Amerikaanse universiteitstudent. Marilyn en Belinda, wat skoolgaan in Marseille, Frankryk, voel dieselfde. “Ons moet dikwels twee of meer ure in die aand aan huiswerk bestee”, sê Marilyn. “Wanneer jy ander verantwoordelikhede het, kan dit moeilik wees om die tyd daarvoor te vind.”

Waar kan ek die tyd vind?

Sou dit nie lekker gewees het as jy ’n paar uur by jou dag kon voeg wanneer jy dit nodig het nie, sodat jy jou huiswerk kan klaarmaak en kan omsien na al die ander dinge wat jy moet doen? Jy kan eintlik iets soortgelyks doen as jy leer uit die Bybelbeginsel wat in Efesiërs 5:15, 16 opgeteken is: “Let dan voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop.” Hoewel die Bybelskrywer nie huiswerk in gedagte gehad het toe hy hierdie woorde geskryf het nie, kan die beginsel in die daaglikse lewe toegepas word. Wanneer jy iets koop, moet jy iets in ruil daarvoor gee. Die punt hier is dat jy iets sal moet opoffer om tyd vir jou huiswerk te vind. Maar wat moet jy opoffer?

“Maak lyste van wat jy eerste moet doen”, sê Jillian, ’n jong meisie. Met ander woorde, stel prioriteite. Christelike vergaderinge en geestelike sake behoort heel bo-aan jou lys te wees. En moenie jou gesinsverantwoordelikhede, takies om die huis en natuurlik huiswerk vergeet nie.

Probeer dan ’n week of wat ’n dagboek hou van hoe jy werklik jou tyd bestee. Jy sal moontlik verbaas wees oor wat jy vind. Hoeveel tyd bestee jy daaraan om TV te kyk? om op die Internet rond te snuffel? om te fliek? om oor die telefoon te gesels? om by vriende te kuier? Hoe vergelyk jou dagboek met jou lys prioriteite? Miskien hoef jy maar net te kyk na hoeveel tyd die TV, die telefoon en die Internet gewoonlik in beslag neem om gebiede te vind waar jy baie meer tyd kan uitkoop!

Die belangrikste dinge moet eerste kom

Dit beteken nie dat jy jou TV moet weggooi of ’n kluisenaar moet word nie. Jy moet dalk die volgende reël volg: “Die belangrikste dinge moet eerste kom.” ’n Bybelvers wat hierop van toepassing is, sê: ‘Maak seker van die belangriker dinge’ (Filippense 1:10). Aangesien jou skoolwerk belangrik is, kan jy byvoorbeeld vir jouself ’n reël maak dat jy nie die TV gaan aanskakel voordat jy jou takies om die huis gedoen, vir Christelike vergaderinge voorberei en jou huiswerk klaargemaak het nie. Dit kan weliswaar teleurstellend wees om jou gunstelingprogram op TV mis te loop. Maar as jy nou eerlik moet wees, hoeveel keer het jy al voor die TV gaan sit met die bedoeling om net jou gunstelingprogram te kyk en uiteindelik die hele aand daar gesit—en niks anders uitgerig nie?

Aan die ander kant moet jy genoeg waarde heg aan die bywoning van Christelike vergaderinge. As jy byvoorbeeld weet dat jy binnekort ’n belangrike toets gaan skryf of ’n taak moet ingee, kan jy probeer om lank genoeg vooruit daaraan te werk sodat dit jou nie van vergaderinge af weghou nie. Jy kan jou situasie selfs met jou onderwysers probeer bespreek en hulle vertel hoeveel jy dit sal waardeer as hulle jou vooruit in kennis kan stel van enige huiswerkopdragte wat jy dalk op ’n vergaderingaand sal moet doen. Party onderwysers sal miskien gewillig wees om jou tegemoet te kom.

’n Ander nuttige beginsel kan gevind word in die Bybelverslag oor Marta, een van Jesus se vriendinne. Sy was ’n baie besige en vlytige persoon, maar haar prioriteite was nie reg nie. By een geleentheid het sy haarself uitgeput deur wat waarskynlik ’n groot maaltyd was, vir Jesus voor te berei, terwyl haar suster, Maria, na Jesus geluister het in plaas daarvan om haar te help. Toe Marta hieroor gekla het, het Jesus vir haar gesê: “Marta, Marta, jy is besorg en verontrus oor baie dinge. ’n Paar dinge is egter nodig, of net een. Wat Maria betref, sy het die goeie deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”—Lukas 10:41, 42.

Wat is die les wat ons hieruit kan leer? Hou dinge eenvoudig. Hoe kan jy hierdie beginsel in jou situasie toepas? Wel, is jy “besorg en verontrus oor baie dinge”—miskien het jy ’n deeltydse werk en moet jy jou huiswerk êrens in jou rooster inpas? As jy ’n werk het, het jou gesin regtig die geld nodig? Of hou jy net daarvan om ekstra geld te hê om dinge te koop wat jy wil hê maar nie werklik nodig het nie?

In party lande wil jongmense byvoorbeeld graag hulle eie motor koop. Karen Turner, ’n hoërskoolberader, verduidelik dat “geweldige druk vandag op jongmense geplaas word om geld te hê of te verdien, want dit is duur om ’n motor te onderhou”. Maar Turner kom tot die slotsom: “Dit kan jou lewe kompliseer as jy te veel dinge aanpak soos buitemuurse aktiwiteite en werk, benewens jou swaar akademiese las. Dan word die leerling oorlaai.” Waarom jou oorlaai as jy dit nie hoef te doen nie? As jou skoolwerk daaronder ly, kan jy miskien minder ure werk of selfs ophou werk.

‘Koop tyd uit’ by die skool

Buiten om ekstra ure ná skool te probeer vind, dink ook aan hoe jy jou tyd beter kan benut terwyl jy by die skool is. “Ek probeer om soveel huiswerk as moontlik in studieperiodes te doen”, sê Josue. “Op hierdie manier kan ek die onderwyser vra as daar iets is wat ek nie daardie dag in die klas verstaan het nie.”

Iets anders wat jy kan oorweeg, is om die aantal ekstra vakke wat jy het, te verminder. Miskien wil jy ook ophou om aan van die buitemuurse aktiwiteite waarby jy betrokke is, deel te neem. Deur aanpassings op hierdie gebiede te maak, kan jy ekstra tyd vir huiswerk vind.

Benut jou tyd beter

Nou ja, jy het opofferings en aanpassings gemaak en ’n bietjie meer tyd vir huiswerk gewen. Hoe doeltreffend gaan jy daardie tyd gebruik? As jy 50 persent meer huiswerk in dieselfde hoeveelheid tyd kan doen, is dit nie net so goed soos om 50 persent meer tyd te hê nie? Hier is dus ’n paar voorstelle om jou tyd beter te benut.

Beplan. Voordat jy met jou huiswerk begin, dink aan dinge soos die volgende: Watter vakke moet eerste aangepak word? Hoe lank sal dit neem om die opdrag te doen? Wat het jy nodig—boeke, papier, penne, sakrekenaar?

Kry ’n plek om te studeer. Daar moet verkieslik geen afleidings wees nie. ‘As jy ’n lessenaar het, gebruik dit’, sê Elyse, ’n jong meisie. ‘Dit help jou om beter te konsentreer as jy regop sit en nie op jou bed lê nie.’ As jy nie jou eie kamer het nie, sal jou broers en susters miskien gewillig wees om jou ’n bietjie rus en vrede te gun gedurende jou studietye. Of miskien kan jy na ’n park of openbare biblioteek gaan. As jy wel jou eie kamer het, moet jy nie jou pogings belemmer deur die TV aan te skakel of musiek te speel wat jou aandag gaan aftrek terwyl jy probeer studeer nie.

Neem ’n blaaskans. As jou konsentrasie ná ’n ruk afneem, kan ’n kort ruskans jou help om weer op koers te kom.

Moenie uitstel nie! “Ek is ’n chroniese uitsteller”, sê Katie, wat vroeër aangehaal is. “Dit lyk net nie asof ek myself kan kry om ’n taak te begin tot op die laaste oomblik nie.” Vermy uitstellery deur ’n vaste rooster vir jou huiswerk te hê en daarby te bly.

Skoolwerk is belangrik, maar soos Jesus vir Marta gesê het, is geestelike dinge—“die goeie deel”—die belangrikste. Maak seker dat huiswerk nie belangrike bedrywighede soos Bybellees, deelname aan die bediening en die bywoning van Christelike vergaderinge verdring nie. Hierdie dinge sal jou lewe vir ewig verryk!—Psalm 1:1, 2; Hebreërs 10:24, 25.

[Prente op bladsy 15]

As jy te veel ysters in die vuur het, kan dit moeilik wees om tyd vir huiswerk te vind

[Prent op bladsy 15]

Goeie beplanning kan jou help om meer tyd vir jou huiswerk te vind