Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Namakwaland se jaarlikse wonderwerk

Namakwaland se jaarlikse wonderwerk

Namakwaland se jaarlikse wonderwerk

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA

Blomme van elke denkbare kleur bedek die oop vlakte sover as die oog kan sien. Besoekers loop dikwels oor van opgewondenheid wanneer Namakwaland se jaarlikse wonderwerk voor hulle oë ontvou. “Met die eerste oogopslag lyk die blomme soos gesmelte lawa wat deur skeure sypel en elke hoekie en gaatjie met helder oranje vul”, sê een reisiger vol verwondering.

Maar wat maak hierdie gedaantewisseling in die lente nou juis so besonders? Namakwaland is ’n uitgestrekte, dor gebied in die noordwestelike deel van Suid-Afrika. Die Oranjerivier, aan die anderkant van die berge in die noorde, is die noordelike grens van hierdie streek. Namakwaland, ’n gebied groter as Switserland (sowat 50 000 vierkante kilometer), strek suidwaarts vir omtrent 200 kilometer, net meer as halfpad Kaapstad toe. Gedurende die grootste deel van die jaar bereik die temperatuur op hierdie barre landskap in die dag hoogtes van 40 grade Celsius en in die nag val dit tot ’n ysige -8 grade Celsius. Met feitlik geen bogrondse water nie en beperkte, brak ondergrondse water lyk Namakwaland dalk na ’n onaanloklike plek—totdat die jaarlikse wonderwerk plaasvind!

Elke jaar, kort ná die reëns van vroeg in Augustus tot in die middel van September, verander die Namakwalandse vlaktes, wat gewoonweg dor is, in ’n uitbundige blommevertoning. Die landskap word ’n kleurtapyt van oranje, geel, pienk, wit, karmosynrooi, blou en pers blomme. Aangesien die skouspel elke jaar net ’n paar weke lank duur, bou die afwagting op terwyl besoekers van oor die hele wêreld hulle voorberei om hulle oë oor hierdie vrolike blommerangskikking te laat wei.

Die geheim van ’n waarlik asemrowende vertoning lê in die regte hoeveelheid reën gevolg deur ’n goeie dosis sonskyn. Dan hou almal duim vas dat die skroeiende oostewind nie opkom nie, want dit sal die lewe en kleur sommer vinnig uit die delikate blommetjies brand.

Namakwaland se wonderwêreld is ook die gevolg van die magdom saadjies wat voortgebring word. Maar baie van die blomme ontkiem nie elke jaar nie—hulle ontsluit net hulle prag onder spesifieke klimaatstoestande. Terwyl party sade ná net een jaar ontkiem, lê ander sade ’n paar seisoene en wag op net die regte toestande voordat dit begin groei. “Party sade”, verduidelik een besoeker, “word beskerm deur ’n veiligheidsmeganisme wat voortydige ontkieming verhoed. Daardie sade loop nie ná net een reënval uit wanneer dit warm is nie, maar ontkiem slegs wanneer dit koel en vogtig is—wat ideale toestande is vir die groei en oorlewing van die blomme in hierdie barre omgewing.”

Elke jaar het sy eie unieke vertoning en sommige jare is skouspelagtiger as ander, maar alles hang af van die fyn balans tussen reën en die afwesigheid van skroeiende winde. Die boek Namaqualand—South African Wild Flower Guide verduidelik: “Omdat elke spesie by verskillende temperature ontkiem en die eerste reëns van April tot Julie (maande met verskillende temperature) kan val, ontkiem verskillende spesies van jaar tot jaar, afhangende van wanneer die eerste reëns val.”

Daar is ’n ongelooflike verskeidenheid blomme—meer as 4 000 spesies, elkeen met sy eie besondere vorm, kleur en ontkiemingsmetode! In sommige gebiede kan tussen 10 en 20 verskillende blomspesies in net een vierkante meter gesien word. Die prag van die toneel laat ’n kunstenaar se palet maar bra eentonig lyk. Selfs die mooiste woorde kan nie Namakwaland se asemrowende prag beskryf nie.

Kunstenaars, digters en skrywers word nogtans deur hierdie ontsagwekkende blommeskouspel geïnspireer. “Op die groot saaidag van die heelal”, het die digter D.J. Opperman geskryf, “het . . . ’n sakkie van die Heer se beste saad per ongeluk gelek, gelek en uitgeval.” ’n Geesdriftige bewonderaar het geskryf: “Dit het kompleet gelyk asof die reënboog sleepvoet deur die woestynland gegaan en oral spatsels kleur afgeskuur het.” Een besoeker het gesê: “Sulke eindelose prag vul ’n mens met waardering vir die oorweldigende vrygewigheid en wysheid van ons Skepper, Jehovah.”

Wat meer is, die prag van Namakwaland se jaarlikse wonderwerk verseker ons dat die Skepper sulke biologiese meganismes kan gebruik om paradystoestande aardwyd te herstel—tot die ewige genot van sy getroue en waarderende knegte (Psalm 37:10, 11, 29). Dan sal die volgende woorde op groot skaal vervul word: “Die woestyn [sal] jubel, en in die wildernis sal blomme bloei.”—Jesaja 35:1, Today’s English Version.

[Prent op bladsy 24, 25]

Die landskap, wat sowat 50 000 vierkante kilometer beslaan, word ’n kleurtapyt van blomme