Ons beskou die wêreld
Ons beskou die wêreld
Aapstreke
Sommige het beweer dat ’n oneindige aantal ape wat na hartelus op ’n oneindige aantal tikmasjiene kan sit en tik, uiteindelik die volledige werke van Shakespeare sou kon skryf. Navorsers by die Plymouth-universiteit in Engeland het dus ’n rekenaar vir ’n maand aan ses ape gegee. Die ape “kon nie ’n enkele woord voortbring nie”, berig The New York Times. Die ses ape by die Paignton-dieretuin in die suidweste van Engeland het “net vyf getikte bladsye opgelewer”, wat grotendeels ’n klomp s’e was. Aan die einde van die dokument het die ape ’n paar j’s, a’s, l’e en m’e getik. Hulle het ook die toetsbord as hulle gemeenskaplike toilet gebruik.
Bedreigde koningvlinders
Op 13 Januarie 2002 het ’n hewige storm in die berge van Mexiko gewoed waar koningvlinders gewoonlik in denne- en sparbome oorwinter. Die temperatuur het gedaal, en die kombinasie van vog en koue het die dood van ongeveer 500 miljoen vlinders veroorsaak, wat in hope tot een meter hoog onder die bome gelê het. “In een verskriklike dag was 70 tot 80 persent van al die koningvlinders wat in die lente na die oostelike deel van die Verenigde State sou terugkeer, dood”, sê die internasionale uitgawe van The Miami Herald. Maar nou is daar nog ’n bedreiging. Ten spyte van die feit dat die Mexikaanse regering die Biosfeerreservaat vir Koningvlinders gestig het, word die vlinders se habitat deur onwettige houtkappery vernietig. Ongeveer 44 persent van die reservaat is alreeds hierdeur geraak. Hoewel hierdie geharde diertjies ’n migrasie van 4 000 kilometer oorleef, sal net die tyd leer of hulle die geleidelike inkorting van hulle wintertuiste kan oorleef.
Sukkelende boere
Volgens een verslag het “die groen revolusie wat die opbrengste van plase in baie wêrelddele vermeerder het, nadelige gevolge gehad: miljoene van die wêreld se armste boere in Afrika het armer geword”, sê die tydskrif New Scientist. Hoe so? Graan- en ryssoorte wat ’n hoë opbrengs lewer, is van die laat 1950’s af ingebring om ’n verwagte hongersnood weens die wêreld se bevolkingsaanwas te voorkom. Hierdie graansoorte het egter ’n surplus graan opgelewer wat die pryse laat daal het. “Boere wat dit kon bekostig om hierdie nuwe graansoorte te plant, het vir die laer pryse vergoed met groter oeste, maar dié wat nie kon nie, het ’n verlies gely”, sê New Scientist. Daarbenewens het die nuwe graansoorte nie goed geaard in Afrika nie omdat hulle vir verbouing in Asië en Latyns-Amerika bedoel was.
Gevaar! Lomerige bestuurders
“Bestuurders wat moeg of slaperig is, is ’n wydverspreide en ernstige probleem in ons gemeenskap”, toon ’n studie waaroor die Medical Journal of Australia (MJA) berig gelewer het. Volgens navorsers “is daar in studies bevind dat meer as 20% van padongelukke aan slaperige bestuurders te wyte is”. Die berig oor die studie in MJA sê: “Die tipiese slaapverwante ongeluk behels ’n motoris wat alleen in die aand of gedurende die middagslapietyd teen ’n hoë spoed bestuur. Soos met die ander oorsake van motorongelukke, is slaapverwante ongelukke algemener onder mans jonger as 30.” Mense wat aan ’n algemene slaapversteuring bekend as obstruktiewe slaapapnee (OSA) ly, loop die gevaar om agter die wiel aan die slaap te raak. Die tydskrif sê dat “ongeveer 25% van middeljarige mans” aan OSA ly. Mense met OSA is dalk onbewus van hoe na hulle aan slaap is terwyl hulle bestuur.
Gletsers wat smelt
Toe laat moesonreëns veroorsaak het dat die watervlakke van opgaardamme in sommige dele van die Pandjab in Indië laag was, het die water in die Bhakra-dam op die Sutlejrivier amper dubbel die vorige jaar se vlak bereik. Waarom? Die tydskrif Down to Earth sê dat die vernaamste tak van die Sutlej deur ’n gebied met 89 gletsers vloei. “Met moesons wat wegbly, smelt gletsers vinniger. Omdat daar nie wolke is nie, is die sonlig wat op die gletsers skyn, baie skerper. Dít, tesame met baie hoë temperature, lei tot die vinnige smelting”, verduidelik gletserdeskundige Syed Iqbal Hasnain van die Jawaharlal Nehru-universiteit. Deskundiges meen dat die smelting kan veroorsaak dat gletsermere oorstroom. Bowendien sal kleiner gletsers kleiner watervoorrade in die toekoms beteken, wat energieproduksie en die landbou nadelig kan raak.
Hulle wil goed lyk
In die Australiese staat Nieu-Suid-Wallis word “2 850 nuwe gevalle van velkanker elke jaar gediagnoseer, en 340 mense sterf weens velkanker”, berig The Sydney Morning Herald. ’n Studie deur die Kankervereniging van Victoria het aan die lig gebring dat ’n kwart van Australië se bevolking wil bruin brand sodat hulle goed kan lyk—’n vermeerdering van 10 persent in drie jaar. Die koerant sê voorts: “Dit is kommerwekkend dat meer as 60 persent van tieners, volgens navorsers, doelbewus probeer bruin brand en ’n derde van die mense sê dat dit hulle gesonder laat voel.” Supermarkverkope van party sonbruinmiddels het in die afgelope jaar met 18 persent gestyg, terwyl die verkope van sonskermmiddels nie gestyg het nie. Dr. Robin Marks van die Australasiese Kollege van Dermatologie sê dat party mense glo dit is veilig om geleidelik bruin te brand. Maar “velkankerdeskundiges sê dat dit ’n groot wanopvatting is om te dink dat dit veilig is om enigsins bruin te brand, selfs al is dit geleidelik en sonder om seer te brand”, sê die koerant. Dr. Marks waarsku: “’n Sonbrand is soos ’n eelt—dit wys dat daar iets fout is.”
Japannese taal in krisis
’n Stortvloed vreemde woorde stroom Japan binne en verwar veral die ouer Japannese oor hulle moedertaal, berig The Japan Times. Vreemde uitdrukkings, meestal Engelse woorde, maak nou 10 persent van die inskrywings in sommige woordeboeke uit. “[Japannees] is besig om onverstaanbaar te word”, kla ’n 60-jarige vrou. “Soms voel dit asof ek ’n vertaler nodig het om my eie taal te verstaan.” Jongmense, politici, die media en mense in die sport-, mode- en hipertegnologiese bedrywe is gretig om vreemde woorde te aanvaar, omdat dit “’n nuwigheid en opwindend is”. Hierdie nuwe woorde word egter in katakana geskryf, ’n skrif wat hoofsaaklik vir vreemde woorde gebruik word. Gevolglik bly hierdie uitdrukkings “glo baie lank ‘vreemd’”, sê die koerant. Volgens The New York Times raak sommige Japannese “woedend oor die gedagte dat volledige sinne in moderne Japannees saamgeflans kan word deur niks anders as Westerse woorde te gebruik nie, met die uitsondering van ’n Japannese werkwoord of woorddeel hier en daar”. Een van die gevolge vir die gemeenskap is dat die kommunikasiegaping in sommige huisgesinne al hoe groter word.