Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom ek die Bybel glo—’n Kernwetenskaplike vertel sy verhaal

Waarom ek die Bybel glo—’n Kernwetenskaplike vertel sy verhaal

Waarom ek die Bybel glo—’n Kernwetenskaplike vertel sy verhaal

SOOS VERTEL DEUR ALTON WILLIAMS

IN 1978 het twee belangrike gebeurtenisse in my lewe plaasgevind. In September het ek my graad as ’n kernfisikus gekry, en in Desember is ek as ’n bedienaar van Jehovah se Getuies georden.

Wanneer mense uitvind dat ek ’n wetenskaplike sowel as ’n Getuie is, wonder hulle dikwels hoe ek my wetenskaplike kennis met my geloof in die Bybel versoen. Ek moet erken dat ek ook jare lank gewonder het of wetenskaplike kennis met geloof in die Bybel verenig kan word. Maar ek het uiteindelik heeltemal daarvan oortuig geraak dat die Bybel met wetenskaplike feite ooreenstem. Hoe het ek tot hierdie slotsom gekom? Laat my asseblief eers vertel hoe ek ’n wetenskaplike geword het.

’n Projek van negentien jaar

Ek is in 1953 in Jackson, Mississippi, VSA, as die derde van 11 kinders gebore. Ons gesin was arm. Ons moes dikwels van die een huis na die ander trek omdat my ouers nie die huur kon betaal nie. Ons het die meeste van ons kos deur ’n voedseltoelaeprogram van die regering ontvang, en die tweedehandse klere wat ons gedra het, is vir ons gegee deur die mense vir wie my ma huise en kantore skoongemaak het.

My ouers het ons dikwels daaraan herinner dat geleerdheid die enigste uitweg uit armoede is. Daarom het ek my op ’n baie vroeë ouderdom voorgeneem om ’n universiteitsgraad te verwerf. Ek het begin skoolgaan toe ek ses was en 19 jaar lank ononderbroke gestudeer. Ek het wetenskap en wiskunde geniet, en toe ek universiteit toe gaan, het ek dus ’n loopbaan as ’n wetenskaplike begin nastreef.

Terwyl ek op universiteit was, het ek ’n jong vrou met die naam Del ontmoet. ’n Wetenskapprofessor het Del na my verwys sodat sy ’n bietjie hulp kon kry met ’n wetenskapkursus wat sy gevolg het. Ons gesprekke het egter gou oor meer as net wetenskap gehandel, en ons het verlief geraak. Ons is op 10 Januarie 1974 getroud—gedurende ’n twee uur lange pouse tussen klasse! Vier jaar later, in 1978, het ek uiteindelik my doktorsgraad gekry.

Ek het bereik wat ek gedink het die sleutel tot sukses is. Ek was ’n wetenskaplike—en nogal ’n kernfisikus! Met my pas verwerfde graad in teoretiese kernfisika kon ek die vrugte van my lang studies begin pluk. Ek wou graag vir my ’n naam maak in die wetenskapswêreld. Boonop kon ek nou ’n werk kies uit al die winsgewende aanbiedinge wat privaat maatskappye sowel as staatsinstellings gemaak het.

Maar ’n paar maande later, op 30 Desember 1978, het ek ’n stap gedoen wat gou ’n selfs groter uitwerking op my lewe en toekoms gehad het as my pas verwerfde graad. Daardie dag het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer en sodoende een van Jehovah se Getuies geword. Hoe het dit gebeur dat ek hierdie stap gedoen het?

’n Boek het my belangstelling gewek

In die laaste helfte van 1977, terwyl ek aan die Universiteit van Massachusetts in Amherst gestudeer het, het twee Getuies aan die deur van ons woonstel geklop. Ek was nie tuis nie, maar my vrou was by die huis met ons kinders, ’n driejarige en ’n pasgebore baba. Del het die Getuies ingenooi. Ná ’n aangename gesprek het sy ingestem dat die Getuies haar een keer per week besoek om ’n Bybelstudie met haar te hou.

Toe my vrou my van hierdie reëling vertel het, het ek haar dadelik teëgestaan. Ek het nie omgegee dat sy by ’n kerk wou aansluit nie—maar nie Jehovah se Getuies nie! Eintlik het ek nie veel van die Getuies geweet nie, maar ek het ’n vooropgestelde idee gehad dat hulle ’n eienaardige groep is wat die Bybel gebruik om mense te mislei. In ’n poging om my vrou te bevry van wat ek beskou het as die houvas wat die Getuies oor haar gehad het, het ek dus gedink dat ek my wetenskaplike kennis sou gebruik om die geloofwaardigheid van hulle leringe te ondermyn.

Eendag het ek van my navorsingswerk by die universiteit weggebreek en huis toe gegaan om daar te wees vir my vrou se Bybelstudie. Maar ek het later by die huis gekom as wat ek beplan het, en die vrou wat die Bybelstudie gehou het, was op die punt om te vertrek. Sy het my ’n boek gegee met die titel Did Man Get Here by Evolution or by Creation? a Sy het ook vir my vrou gesê dat hulle die volgende week gedurende die Bybelstudie ’n Bybelprofesie sou bespreek wat toon dat 1914 ’n betekenisvolle jaar is. Dit was net die geleentheid wat ek nodig gehad het! Ek het vir die Getuie gesê dat ek by die huis sou wees vir die volgende Bybelbespreking. Ek wou die wiskundige juistheid nagaan van wat sy oor die jaar 1914 sou bespreek.

Daardie aand nog het ek die boek begin lees wat die Getuie by my gelaat het. Om eerlik te wees, die inhoud het my beïndruk. Dit is logies geskryf en het baie wetenskaplike verwysings oor evolusie bevat. Tot my verbasing het ek uitgevind dat die Bybel inligting oor die skepping bevat wat baie juister is as wat ek voorheen besef het. Binne ’n paar dae het ek die boek klaar deurgegaan en moes ek erken dat die Bybel se verduideliking van die skepping nie in stryd is met die bekende wetenskaplike feite oor lewe op die aarde nie.

Vasbeslote om teenstrydighede te vind

Maar ek was nog skepties oor die leringe van die Getuies, en ek het daarna uitgesien om die Bybelprofesie oor die jaar 1914 wiskundig te toets. Ek het gedink dat hierdie benadering ongetwyfeld die Getuie sou bang maak en hopelik my vrou sou help om te sien dat die Getuies se opvattings verkeerd is.

Die volgende week het die Getuie teruggekom, saam met ’n man wat ’n ouer man in die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies was. Die ouer man het die Bybelstudie gehou. Hy het die profesieë oor die verskyning van Jesus as Messias en Koning in hoofstukke 4 en 9 van die Bybelboek Daniël bespreek. Ek was vasbeslote om wiskundige teenstrydighede in die aanbieding te vind, maar ek het niks gevind nie. Inteendeel, ek is weer deur die logika van die inligting in die Bybel beïndruk.

Tot op daardie tydstip het ek gedink dat geloof in God meer op emosie as op rede gegrond is. Hoe verkeerd was ek tog! Ek het die Getuies vir die leersame bespreking bedank en gesê dat ek graag wou aanhou om die weeklikse studie by te woon. Van toe af het ek dus, terwyl ek aan die universiteit gestudeer het, ook saam met my vrou die Bybel met die Getuies gestudeer. Ek en my vrou het ook die vergaderinge van die Getuies by die Koninkryksaal begin bywoon.

Binne ’n paar maande het ek talle nuwe Bybelwaarhede geleer en gou aan die vereistes voldoen om saam met die Getuies aan die bediening van deur tot deur deel te neem. Ek het dit gedoen al was ek in die laaste stadium van my studies om my doktorsgraad aan die universiteit te verwerf, wat baie van my tyd in beslag geneem het. Ek het my proefskrif in die somer van 1978 voltooi en na die staat Alabama verhuis, waar ek aan die Landbou- en Werktuigkunde-universiteit van Alabama in Huntsville fisikaklasse begin gee het. Ons het gou met die Getuies in ons nuwe omgewing in verbinding getree en ons Bybelstudie met ’n ouer man en sy vrou hervat. ’n Paar maande later is ek en my vrou op dieselfde dag gedoop.

Bedrywig as ’n wetenskaplike en ’n bedienaar

Dit is vir my moontlik om ’n wetenskaplike en ’n Getuie van Jehovah te wees. In 1983 het ek as ’n astrofisikus begin werk by die George C. Marshall-ruimtevaartsentrum van NASA (Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie), wat ook in Huntsville is. b Ek was betrokke by die eksperimentele sowel as die teoretiese aspekte van ’n X-straalteleskoop. (In 1999 is daardie teleskoop—die Chandra-X-straal-sterrewag—deur die pendeltuig Columbia suksesvol in sy wentelbaan geplaas.) Ek het dit geniet om aan hierdie projek te werk en om X-strale wat deur verskillende sterre en sterrestelsels uitgestraal word, te ontleed in ’n poging om die fisiese heelal beter te verstaan.

My werk het my dubbele genot verskaf, want ek het nie net aan ’n moeilike wetenskaplike probleem gewerk nie, maar my waardering vir die krag en wysheid van die Skepper het ook toegeneem. Trouens, Jehovah se woorde deur die eertydse profeet Jesaja het vir my besondere betekenis gekry. Die Skepper sê: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem. Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie” (Jesaja 40:26). Hoe meer ek my ‘oë in die hoogte opgeslaan’ het om na die ontsaglikheid, die ingewikkeldheid en die prag van die heelal te kyk, hoe meer het ek die werk van die intelligente Ontwerper waardeer wat dit alles tot stand gebring en die wette ingestel het wat dit alles aan die gang hou.

Gedurende daardie tyd het ek besig gebly deur nuwe inligting in wetenskaptydskrifte te publiseer op grond van my navorsing in X-straal-astrofisika. Maar ek was ook bedrywig in die Christengemeente. Ek het as ’n ouer man gedien en sowat 20 uur per maand aan die openbare predikingswerk bestee. Intussen het my vrou die Bybelopvoedkundige werk voltyds gedoen.

Nadat ek ongeveer vier jaar by NASA gewerk het, het ek al hoe meer gevoel dat ek meer van my tyd moet gebruik om ander te help om die wonderlike waarhede in die Bybel te leer. Maar hoe kon ek dit doen? Nadat ek my begeerte met my vrou bespreek het en tot Jehovah oor die saak gebid het, het ek besef dat ek ’n paar belangrike besluite moes neem.

Groot besluite

Ek het na my onmiddellike hoof by NASA gegaan en vir hom gesê dat ek my werkweek van vyf dae na vier dae wil verander. Ek sou natuurlik ’n kleiner salaris aanvaar. Ek het aan hom verduidelik dat ek die ander drie dae van die week in my bediening wil gebruik. Hy het ingestem, hoewel daar nog nooit van so ’n reëling vir wetenskaplikes by NASA gehoor is nie. Maar hy het vir my gesê dat ek met sý hoof sal moet praat. Ek het dit gedoen en was aangenaam verras toe hierdie hooggeplaaste amptenaar ook my versoek toegestaan het. In September 1987 het ek dus my loopbaan as ’n voltydse bedienaar begin en sowat 90 uur per maand aan die predikingswerk van deur tot deur en aan ander aspekte van die bediening bestee.

Later het ’n departementshoof by die Landbou- en Werktuigkunde-universiteit van Alabama in Hunstville my geskakel. Hy het my ’n pos as dosent in die fisika-afdeling aangebied. Ek het gesê dat ek net die werk sou aanvaar as dit my in staat sou stel om die meeste van my tyd in die bediening te gebruik. Maar ek het hom verseker dat my bedrywighede in die bediening nie sou afbreuk doen aan die gehalte van my werk wanneer ek klas gee nie. Hy het ingestem. Ek gee vandag nog by daardie universiteit klas en dien ook as ’n voltydse bedienaar. Ek het selfs tyd gehad om Spaans te leer. Op die oomblik dien ek en my vrou in ’n Spaanssprekende gemeente van Jehovah se Getuies in Huntsville.

Wetenskap en geloof

In al die jare wat ek wetenskaplike navorsing gedoen het, het ek nog nooit op ’n teenstrydigheid tussen ’n bewese wetenskaplike feit en ’n Bybellering afgekom nie. Skynbare teenstrydighede is dikwels die gevolg van ’n gebrek aan kennis—óf oor wat die wetenskap leer óf oor wat die Bybel werklik sê. Party wetenskaplikes en ander dink byvoorbeeld verkeerdelik dat die Bybel leer dat plante, diere en mense almal binne ses letterlike dae van 24 uur op die aarde ontstaan het. Dit sou in stryd met bekende wetenskaplike feite wees. Maar dit is nie wat die Bybel leer nie. Dit toon eerder dat die “skeppingsdae” oor duisende jare strek. c

Verwarring ontstaan ook weens die wanopvatting dat geloof in God bloot ’n emosionele ondervinding is. Maar dit is nie waar nie, want geloof in God en die Bybel is gegrond op feite wat bewys kan word. Die Bybel omskryf dit as volg: “Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys [of “oortuigende getuienis”, voetnoot in NW] van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). Ja, geloof is op bewyse gegrond. Honderde profesieë is al in die verlede en in ons tyd vervul. Selfs as ons die wetenskaplike metode toepas wat alle wetenskaplikes gebruik om ’n wetenskaplike teorie te staaf, kan ons dus volkome vertroue hê dat Bybelprofesieë oor toekomstige gebeure vervul sal word.

Een van hierdie profesieë sluit die belofte in dat ons binnekort paradystoestande op die aarde sal kan geniet. Die verwoestende gevolge van die ouderdom, siekte, die dood, oorloë en ongeregtigheid sal nie meer daar wees nie (Openbaring 21:3, 4). Dan sal ons tyd hê om die wonderlike skeppingswerke van Jehovah God deeglik te ondersoek en te bestudeer, asook al die wette wat hy ingestel het om hierdie ontsagwekkende fisiese heelal te beheer.

Ek is dankbaar teenoor Jehovah God dat hy my gehelp het om die sleutel tot ware geluk—die wonderlike waarhede in sy Woord, die Bybel—te vind. Dit is my bede dat nog baie ander, wat wetenskaplikes insluit, hierdie kosbare sleutel sal vind.

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

b NASA is ’n Amerikaanse staatsorganisasie wat onafhanklik van ander staatsinstellings werk.

c Sien hoofstuk 6, “’n Ou skeppingsverslag—Kan jy dit vertrou?”, in die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 20]

Ek het gedink dat geloof in God meer op emosie as op rede gegrond is

[Lokteks op bladsy 22]

Ek het nog nooit op ’n teenstrydigheid tussen ’n bewese wetenskaplike feit en ’n Bybellering afgekom nie

[Prent op bladsy 21]

Ek onderhou my gesin deur deeltyds klas te gee

[Prent op bladsy 23]

NASA se Chandra-X-straal-sterrewag in sy wentelbaan en ’n X-straalbeeld van ’n dubbelstergravitasiekolk

[Erkennings]

NASA Photo

NASA/CfA/J. McClintock et al.

[Prent op bladsy 23]

Ek en my vrou geniet die voltydse bediening