Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Besoek aan die wêreld se grootste vismark

’n Besoek aan die wêreld se grootste vismark

’n Besoek aan die wêreld se grootste vismark

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN

GENIET jy die gewoel van ’n mark? Een wat jy moontlik opwindend sal vind en toeriste uit alle wêrelddele lok, is Tsoekidji, die vismark wat net ’n paar minute se stap van Tokio se middestad is. Dit kan spog met die feit dat dit die wêreld se grootste vismark is.

Die beste tyd om dit te besoek, is vroeg in die oggend. Terwyl die res van Tokio nog slaap, word die mark wakker. Vragmotors lewer elke dag tot tweeduisend ton vis af, en dit moet alles vroeg afgelaai word, want teen 3:00 vm. begin die kopers opdaag. Die verkopers skarrel om hulle houers vol vis uit te stal en sit ’n etiket op elke houer wat die lotnommer, die gewig van die vis en die plek waar dit gevang is, aandui. Dit is maklik om die kopers uit te ken. Hulle dra rubberstewels en pette waarop hulle lisensienommer vertoon word. In teenstelling met die drentelende toeriste, beweeg die kopers vinnig rond om na die gehalte van die vis te kyk en te besluit hoeveel om daarop te bie. Die tunakopers dra ’n haak, ’n flits en ’n handdoek. Hierdie items is noodsaaklik om die gehalte van die groot tunas na te gaan, en hulle gebruik die handdoek om hulle hande skoon te vee nadat hulle die vis hanteer het.

Om 5:30 vm. breek pandemonium los. Die gelui van handklokke word uit alle rigtings gehoor wanneer die afslaers die kopers roep om die bieëry te begin. Dit lyk asof daar oral afslaers is. Daar is in werklikheid sewe groothandelaars wat hulle veilings tegelyk hou, maar party het twee of meer afslaers wat verskillende produkte terselfdertyd verkoop. Al hierdie afslaers roep die lotnommers uit in hulle kenmerkende dreunstem, en die geregistreerde kopers bie teen mekaar deur unieke vingerbewegings te maak. Daar word so vinnig gebie dat die prys van elke lot binne sekondes bepaal word. Party kopers bie gelyktydig by twee afslaers. Elke winkel mag net een koper hê, en die kopers moet dus wikkel as hulle by die verskillende afdelings wil uitkom om die vis te kry wat hulle wil hê. Diegene wat ’n groot verskeidenheid vis op groot maat koop om aan verskeie winkels te verkoop, is moontlik die besigste van almal.

Sodra die bod toegeslaan is, is die kopers gretig om elke vis so gou moontlik by sy bestemming te kry. Markbediendes met stootkarretjies en klein vragmotors neem die vis vinnig deur die nou strate weg. Oral is daar ’n gestamp, ’n gestoot en ’n geraas. Vir die toeskouer lyk dit soos ’n groot deurmekaarspul. Maar in werklikheid word dit tot in die fynste besonderhede beheer en georganiseer. Binne ’n paar uur word meer as ’n duisend ton vis verkoop en weggeneem. Van die vis word na klein winkels in ’n ander deel van die mark geneem en sal in die loop van die oggend aan duisende gretige kopers verkoop word.

Soos jy jou kan voorstel, is die Tsoekidji-mark ontsaglik groot. Die sewe reusagtige groothandelaars wat die veilings hou, asook meer as eenduisend kleiner handelaars, is geregistreer om besigheid hier te doen. Dwarsdeur die jaar bedien hulle ten minste 40 000 klante wat die mark daagliks besoek.

Wie is die klante? Hulle is onder meer die grootmaataankopers van groot hotelle, restaurante, afdelingswinkels en supermarkte. Daar is ook die eienaars van kleiner koswinkels, vismarkte in woonbuurte en, o ja, die eienaars van klein maar florerende soesji-winkels. Al hierdie klante ding mee vir die gesogste produkte. Daar word geskat dat hulle elke jaar ongeveer 600 000 ton seekos koop en meer as R36 miljard spandeer.

Tsoekidji is in werklikheid nie net ’n vismark nie. Dit is ’n groothandelsmark waar daar ook vrugte en groente verkoop word. Dit is een van 11 sentrale groothandelsmarkte in Tokio wat onder die toesig van Tokio se munisipaliteit handel dryf. Die geskiedenis van varsproduktemarkte kan tot 1603 teruggevoer word. Om beter higiëne en gehalte te verseker, het hierdie markte in 1877 onder die toesig van die regering gekom. Die Tokio-aardbewing van 1923 het Tokio se markte verwoes en tot die oprigting van die hedendaagse Tsoekidji-mark gelei, waar daar van 1935 af handel gedryf word.

Sedertdien het die mark geweldig gegroei. Waar anders in die wêreld word so ’n groot hoeveelheid en verskeidenheid vis daagliks gekoop en verkoop? Daar word geskat dat tot 450 verskillende soorte vis van oor die hele wêreld hier verkoop word—insluitende salm, kabeljou, seebrasem, makriel, tongvis en haring sowel as seekastaiing, seekomkommer en skulpvis. Party van die kleiner winkels in die mark spesialiseer in net een soort seekos, soos seekat of garnale.

Maar een vis is veral gesog. Dit is die groot tuna, wat met straalvliegtuie ingevlieg word van verafgeleë plekke soos die Middellandse See en Noord-Amerika. Geen ander vis kan met dit vergelyk wat grootte of prys betref nie. Een groot tuna kan duisende rande kos. Honderde vars en bevrore tuna word daagliks hier verkoop. Die kopers sny die tuna op in gerieflike porsies vir die plaaslike handelaars. Die beste, vetterige dele, bekend as toro, wat om die ribbekas gevind word, sal heel moontlik as ’n heerlike bolaag vir soesji gebruik word.

Dit is glad nie verbasend dat die wêreld se grootste vismark in Japan is nie. Die land word deur ’n oseaan en drie seë omring, en die Japannese het al lank gelede hulle liefde vir seekos ontwikkel. Vis is dikwels die hoofbestanddeel van ’n smaaklike Japannese gereg. Elke jaar eet die gemiddelde Japannees ongeveer 70 kilogram vis en seekos, en baie daarvan kom van die Tsoekidji-mark. As jy Tokio ooit besoek, kan jy gerus by die toenemende aantal toeriste aansluit wat die grootste vismark in die wêreld besoek.

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Viskunswerk: From the book L’Art Pour Tous, Encyclopedie de l’Art Industriel et Decoratif, Vol. 31, 1861-1906

[Foto-erkenning op bladsy 17]

James L. Stanfield/NGS Image Collection

[Foto-erkenning op bladsy 17]

© Jeff Rotman/www.JeffRotman.com

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Courtesy of Tokyo Metropolitan Central Wholesale Market