Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dit reën al weer!

Dit reën al weer!

Dit reën al weer!

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN IERLAND

“Ag nee! Dit reën al weer!”

Het jy al ooit so iets gesê? Gestel jy het in die hartjie van die somer op ’n uitstappie gegaan na ’n skilderagtige plek op Ierland se Atlantiese kus. Jy het dalk gehoop dat dit ’n warm, sonnige dag sou wees om die pragtige natuurskoon te geniet—in plaas daarvan moes jy stormsterk winde en gietende reën trotseer. Gedurende sulke tye is dit maklik om te vergeet dat ons dankbaar moet wees vir die reën. Daarsonder sou ons en ook die pragtige natuurskoon nie hier gewees het nie!

Dit lyk asof daar ’n onuitputlike voorraad reënwater is, want dit reën altyd weer. Hoe is dit moontlik? As gevolg van ’n merkwaardige herwinningstelsel. Selfs ’n baie kort bespreking van die drie belangrikste stadiums van hierdie lewensonderhoudende kringloop—naamlik verdamping, kondensasie en neerslag—toon vir ons dat dit nie ’n toevallige proses is nie. Een bron verduidelik dat dit ’n proses met ’n ingewikkelde ontwerp is wat “vaste, onveranderlike wette volg”.

Verdamping

Ongeveer 97 persent van die aarde se water is in die oseane. Die res is meestal in gletsers opgesluit of word in mere en waterhoudende grondlae geberg. Seewater is natuurlik nie drinkbaar nie. Die woorde van die benoude seevaarder in die gedig “The Rime of the Ancient Mariner” is beslis waar wat die oseane betref, want daar is ‘water, water, net waar jy kyk, maar nie ’n enkele druppel te drinke nie’. a

Voordat seewater drinkbaar word, gaan dit op ’n lang, ingewikkelde reis. Eerstens verdamp dit en word dit ’n gas—waterdamp. Elke jaar trek hitte van die son sowat 400 000 kubieke kilometer water van die land en see in die atmosfeer op. ’n Man van die ou tyd, Elihu, het God die eer gegee vir hierdie proses en gesê: “Hy trek waterdruppels van die see op en distilleer reën uit die mis wat hy gemaak het.”—Job 36:27, The New English Bible.

Die atmosfeer self is “’n stelsel van amper ongelooflike kompleksiteit” wat meer as 400 kilometer in die ruimte in strek. Ons water word herwin in die 10 tot 20 kilometer wat die naaste aan die aarde is. Hierdie laag, wat die troposfeer genoem word, is volgens die boek Our Fragile Water Planet “die deel wat in kontak is met die aardoppervlak, waar wolke, reën, sneeu, orkane en tornado’s voorkom”.

Hoe warmer die lug is, hoe meer water kan dit dra. Dit is waarom jou wasgoed vinniger droog word op ’n warm, winderige dag. Die atmosfeer in tropiese gebiede hou die meeste water. ‘Maar hoe’, wonder jy dalk, ‘word al hierdie water na ander plekke verskuif waar dit nodig is?’ Met behulp van die kragtige windstelsels om die aardbol. Hulle ontstaan weens die manier waarop die aarde om sy as draai en omdat sekere dele van die aardoppervlak warmer word as ander, wat die atmosfeer gedurig aan die beweeg hou.

Ons immerbewegende atmosfeer bevat groot lugmassas—yslike eilande lug wat min of meer dieselfde temperatuur het. Hoe groot is hulle? Hulle kan ’n gebied van tot etlike miljoene vierkante kilometers beslaan. Warmer lugmassas vorm in die trope, en kouer lugmassas kom uit die poolstreke. Hierdie lugmassas dien as reusagtige atmosferiese waterdraers.

Die beweging van waterdamp in die atmosfeer getuig ook van meesterlike ontwerp. Dit verplaas hitte van baie warm gebiede, soos die trope, na gebiede waar dit nodig is. Anders sal party dele van die aarde net al hoe warmer en warmer word.

Kondensasie

Hoewel waterdamp lewensbelangrike funksies in die atmosfeer verrig, sal dit natuurlik nie van veel nut wees om die grond nat te maak as dit net daar bo bly nie. Die atmosfeer bo die Saharawoestyn bevat byvoorbeeld baie vog, maar die streek bly droog. Hoe keer atmosferiese vog terug aarde toe? Eerstens kondenseer dit; met ander woorde, dit verander weer na ’n vloeistof.

Jy het heel moontlik al gesien hoe waterdamp in ’n badkamer kondenseer wanneer die warm lug van ’n stort op ’n kouer venster of spieël neerslaan. Iets soortgelyks gebeur wanneer ’n lugmassa afkoel namate dit styg en hoogtes bereik waar dit kouer is. Wat veroorsaak dat lug styg? Dit kan gebeur wanneer ’n warm lugmassa deur ’n digter, kouer een opgestoot word. Partykeer word lug deur berge opwaarts gedwing. Op ander tye, veral in tropiese streke, kan konveksiestrome dit hoër dra.

‘Maar’, vra jy miskien, ‘waarop kondenseer hierdie waterdamp in die atmosfeer?’ Die atmosfeer is vol mikroskopiese deeltjies—soos rook, stof en seesout. Terwyl ’n lugmassa afkoel, kondenseer waterdamp op hierdie klein kerne. Piepklein waterdruppeltjies word dan sigbaar in die vorm van wolke.

Hierdie water val egter nie dadelik aarde toe nie. Waarom nie? Water is immers 800 keer digter as lug. Die antwoord is dat elke individuele wolkdruppeltjie so klein en lig is dat dit in die lugstrome kan dryf. Elihu, wat vroeër gemeld is, het hom oor hierdie fassinerende deel van die waterkringloop verwonder toe hy gepraat het van hoe “die wolke bo in die lug sweef, ’n wonderlike werk van [die Skepper se] volmaakte vakmanskap” (Job 37:16, New English Bible). Is dit nie ’n verbasende gedagte dat die klein, donsige wolk wat in die lug bo jou sweef, heel moontlik van 100 tot 1 000 ton vog bevat nie?

Neerslag

Baie wolke bring nooit reën of, om presies te wees, neerslag voort nie. Dit is redelik maklik om te verduidelik hoe water in die atmosfeer kom en hoe wolke in die lug sweef. “Wat wel moeilik is om te verduidelik,” sê een skrywer, “is hoe die water [weer] afkom.”—The Challenge of the Atmosphere.

“’n Miljoen of meer wolkdruppels” is dalk nodig om een klein reëndruppel te vorm. Dit lyk nie of enigiemand ’n heeltemal bevredigende verduideliking het van hoe hierdie piepklein swewende wolkdruppeltjies omskep word in die sowat eenmiljard ton water wat elke minuut van elke dag na die aarde toe val nie. Smelt die klein wolkdruppeltjies eenvoudig saam om groter reëndruppels te vorm? Partykeer is dit wat gebeur. Dit verklaar waarskynlik hoe reëndruppels op plekke soos die trope vorm. Maar dit kan nie eers begin om “die raaisel van hoe reëndruppels vorm” op plekke soos die Atlantiese kus van Ierland te verklaar nie.

Hier smelt die wolkdruppeltjies nie bloot saam nie. Deur meganismes wat nie heeltemal verstaan word nie, vorm dit klein yskristalle. Dit bondel saam om “een van die natuur se mooiste meesterstukke” te word—die sneeuvlokkie. Namate sneeuvlokkies groter en swaarder word, val dit deur die stygende lugstrome na die aarde toe. As dit koud genoeg is, val dit as sneeu—miljarde sneeuvlokkies in ’n gemiddelde sneeubui. Maar as dit deur ’n laag warm lug val, smelt die sneeuvlokkies en word dit reëndruppels. Sneeu is dus nie gevriesde reën nie. In werklikheid begin die meeste reën, ten minste in gematigde streke, as sneeu, wat dan smelt terwyl dit aarde toe val.

Ná ’n reis wat heel waarskynlik duisende kilometers lank was en gekompliseerde prosesse behels het wat nog nie ten volle verstaan word nie, keer die reën dus terug. Ja, dit sal dalk van tyd tot tyd met jou planne en aktiwiteite inmeng. Maar hierdie merkwaardige kringloop lei daartoe dat ons ’n onuitputlike watervoorraad het. Ja, reën is waarlik ’n seën. Miskien sal jy die reën ’n bietjie meer waardeer wanneer jy hierdie gawe van God weer teen jou gesig voel.

[Voetnoot]

a Geskryf deur die Engelse digter Samuel Taylor Coleridge.

[Venster/Diagram op bladsy 14]

Hoe haelstene gevorm word

“Hael”, sê die boek Weather, “is die unieke produk van groot, onstuimige donderwolke.” Wanneer wolkdruppeltjies op klein kerne in donderwolke kondenseer, word hulle partykeer in sterk stygwinde gevang, wat hulle na die hoër vriesvlak van die wolk opneem. In hierdie ysige temperature kondenseer ander druppeltjies op die ontwikkelende reëndruppel en vries dit oombliklik. Hierdie proses word oor en oor herhaal terwyl die gevriesde reëndruppel op en af beweeg, wat dit in en uit die vriesvlak neem. Elke keer vorm ’n nuwe laag ys om die gevriesde reëndruppel, wat dit al hoe swaarder maak en lae soos dié van ’n ui gee. Uiteindelik word dit so swaar dat die stygwinde in die wolk dit nie meer daar kan hou nie en val dit aarde toe as die soliede, ysige haelsteen wat ons ken. “By geleentheid”, sê Atmosphere, Weather and Climate, “kan haelstene baie groot word en tot 0,76 kg elk weeg.”

[Diagram]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

vriesvlak

↑ hael

stygwind .........................

↓ daalwind

[Venster/Prente op bladsy 15]

Het jy geweet?

Daar is gemiddeld net genoeg water in die aarde se atmosfeer vir ongeveer tien dae se reënval.

Een donderstorm in die somer kan soveel energie vrystel soos ’n dosyn van die bomme wat tydens die Tweede Wêreldoorlog op Hirosjima geval het. Sowat 45 000 reënstorms vind elke dag wêreldwyd plaas.

Die atmosfeer word nie hoofsaaklik deur direkte hitte van die son verhit nie. Die meeste van hierdie hitte-energie beweeg dwarsdeur die atmosfeer. Die atmosfeer word verhit deur die energie wat van die verhitte aardoppervlak af teruggekaats word.

Water is die enigste oorvloedige stof op aarde wat gelyktydig op dieselfde plek in drie verskillende vorme voorkom—vaste stof, vloeistof en gas.

Mis is eenvoudig ’n wolk wat naby die aardoppervlak vorm.

[Diagram/Prent op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Oseane bevat 97 persent van die aarde se water

Hitte van die son verdamp die water

Waterdamp kondenseer en vorm wolke

Wolke stel vog vry deur middel van neerslag

Reëndruppels en sneeuvlokkies