Gefassineer deur vuurwerk
Gefassineer deur vuurwerk
HETSY dit die opening van ’n skou of die Olimpiese Spele is, vuurwerk het sinoniem met feesvierings geword. Ontploffings van lig en kleur word in die Verenigde State gebruik om Onafhanklikheidsdag te vier, in Frankryk om Bastilledag te herdenk en elke Oujaarsaand verlig dit die hemel bo byna al die vername stede van die wêreld.
Maar wanneer het die mens se fassinasie met vuurwerk begin? En wat is alles daarby betrokke om hierdie skitterende vertonings te skep?
’n Oosterse tradisie
Die meeste geskiedkundiges stem saam dat die Chinese in ongeveer die tiende eeu van ons Gewone Jaartelling vuurwerk uitgevind het, toe Oosterse skeikundiges ontdek het dat ’n mengsel van salpeter (kaliumnitraat), swael en houtskool ’n ontplofbare stof voortbring. Westerse ontdekkingsreisigers, soos Marco Polo, of moontlik selfs Arabiese handelaars het hierdie ontplofbare stof na Europa gebring, en teen die 14de eeu het skouspelagtige vuurwerkvertonings Europese gehore betower.
Maar die poeier wat sulke pragtige vertonings moontlik gemaak het, het ook die verloop van die Europese geskiedenis verander. Soldate het die stof wat later as buskruit bekend geword het, gebruik om loodpatrone aan te dryf, kasteelmure op te blaas en politieke magte te vernietig. “Gedurende die Europese Middeleeue”, sê die Encyclopædia Britannica, “het vuurwerk saam met militêre plofstof weswaarts versprei, en in Europa is militêre plofstofdeskundiges ingespan om vuurwerkvertonings tydens oorwinnings- en vredesfeeste te hou.”
Intussen het dit gelyk asof die Chinese hulle nie veel gesteur het aan die vernietigende vermoë van buskruit nie. In die 16de eeu het Matteo Ricci, ’n Italiaanse Jesuïetesendeling in China, geskryf: “Die Chinese is nie bedrewe in die gebruik van gewere en artillerie nie en wend dit nie veel aan in oorlogvoering nie. Maar groot hoeveelhede salpeter word gebruik in die vervaardiging van vuurwerk vir vertonings by openbare spele en op feesdae. Die Chinese put groot genot uit sulke vertonings . . . Hulle is werklik meesters in die vervaardiging van vuurwerk.”
Geheime van die skouspel
Vroeë vuurwerkvervaardigers het ongetwyfeld vaardigheid sowel as moed nodig gehad terwyl hulle vuurwerk vir verskillende soorte effekte ontwikkel het. Hulle het ontdek dat groot buskruitkorrels betreklik stadig brand, terwyl fyn korreltjies met ’n slag ontbrand. Vuurpyle is gemaak deur die eenkant van ’n stuk bamboes of papierbuis te seël en die onderste gedeelte vol groot buskruitkorrels te gooi. Wanneer die buskruit aan die brand gesteek is, het die gasse vinnig uitgesit en is dit aan die oop kant van die buis uitgedryf, wat die projektiel in die lug in opgeskiet het. (Hierdie fundamentele beginsels word vandag gebruik om ruimtevaarders in die ruimte in te stuur.) Die bokant van die vuurpyl is vol fyn buskruit gestop, en as alles goed afgeloop het, sou die projektiel ontplof wanneer dit naby die toppunt van sy baan kom.
Vuurwerktegnologie het deur die eeue heen min verander. Maar daar was ’n paar verbeteringe. Die Oosterlinge het aanvanklik net geweet hoe om vuurwerk te maak wat met wit en goudkleurige vlamme brand. Die Italianers het uitgevind hoe om kleur by te sit. Aan die begin
van die 19de eeu het hulle ’n ontdekking gemaak: wanneer hulle kaliumchloraat by buskruit gevoeg het, het dit genoeg hitte voortgebring om die metale in gas om te sit, wat die vlam gekleur het. Vandag word stronsiumkarbonaat bygevoeg om ’n rooi vlam te kry. ’n Helder wit vlam word deur titaan, aluminium en magnesium voortgebring; blou deur koperverbindings; groen deur bariumnitraat en geel deur ’n mengsel van natriumoksalaat.Rekenaars het nog ’n dimensie aan vuurwerkvertonings gegee. In plaas van die vuurwerk met die hand aan te steek, kan tegnici rekenaars programmeer om die vuurwerk elektronies aan te steek sodat dit op presies die regte oomblik op die ritme van musiek ontplof.
’n Godsdienstige verband
Soos die Jesuïetesendeling Ricci gesê het, was vuurwerk ’n onontbeerlike deel van Chinese godsdiensvierings. Die tydskrif Popular Mechanics verduidelik dat vuurwerk “deur die Chinese uitgevind is om die demone weg te jaag van Nuwejaarsvierings en ander seremoniële geleenthede”. In sy boek Days and Customs of All Faiths sê Howard V. Harper: “Van die vroegste heidense tye af het mense fakkels gedra en groot vure op hulle belangrike godsdienstige geleenthede aangesteek. Dit is dus glad nie verbasend dat hulle die skouspel van vuurwerk se gekleurde en bewegende lig deel van hulle feestelikhede gemaak het nie.”
Kort nadat vuurwerk deur nominale Christenkulture aangeneem is, is vuurwerkvervaardigers hulle eie beskermheilige gegee. The Columbia Encyclopedia sê: “[St. Barbara se] vader het haar na bewering in ’n toring opgesluit en haar toe doodgemaak omdat sy ’n Christen was. Hy is deur weerlig getref en gevolglik het St. Barbara die beskermvrou van die vervaardigers en gebruikers van vuurwapens en vuurwerk geword.”
Geen koste ontsien nie
Hetsy dit vir godsdienstige of sekulêre vierings is, dit lyk asof die publiek ’n onversadigbare begeerte het na groter en beter vuurwerkvertonings. Ricci het ’n Chinese vuurwerkvertoning in die 16de eeu beskryf: “Toe ek in Nankin was, het ek ’n vuurwerkvertoning gesien vir die viering van die eerste maand van die jaar, hulle grootste fees, en ek het bereken dat hulle by hierdie geleentheid genoeg buskruit gebruik het om ’n groot oorlog jare lank te voer.” Aangaande die koste van hierdie vertoning het hy gesê: “Dit lyk asof hulle geen koste ontsien wanneer dit by vuurwerk kom nie.”
Min het in die eeue sedertdien verander. In die jaar 2000, in net een viering wat oor Sydney se Hawebrug gehou is, is 20 ton vuurwerk afgeskiet om ’n miljoen of meer toeskouers te vermaak wat op die hawe se strandgebied byeengekom het. Gedurende dieselfde jaar is R4,7 miljard in die Verenigde State op byna 70 000 ton vuurwerk bestee. Baie kulture word beslis nog deur vuurwerk gefassineer, en daar kan nog steeds gesê word: “Dit lyk asof hulle geen koste ontsien wanneer dit by vuurwerk kom nie.”
[Volbladillustrasie op bladsy 23]