Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Identifiseer ernstige slaapversteurings

Identifiseer ernstige slaapversteurings

Identifiseer ernstige slaapversteurings

PARTYKEER kan ’n mens se simptome tekens van ’n ernstige slaapversteuring wees. Chroniese slaaploosheid, wat meer as ’n maand lank duur, hou dikwels verband met ernstiger probleme, insluitende depressie. Chroniese slaaploosheid kan ook ’n simptoom van ’n ernstige fisiese kwaal wees.

Slaapapnee

Mario was baie slaperig gedurende die dag. Wanneer hy die gesinsmotor bestuur het, moes sy vrou hom die hele tyd dophou omdat hy nou en dan vir ’n oomblik sy bewussyn verloor het, en hy kon selde iets daarvan onthou. Hy het elke aand hard en onreëlmatig gesnork en soms met ’n ruk wakker geword terwyl hy na asem gesnak het. a

Mario het die klassieke simptome van slaapapnee gehad. Apnee beteken letterlik “geen asem nie”. ’n Episode van slaapapnee kan tussen tien sekondes en twee of drie minute duur. Die lyer rol dikwels onrustig in die bed rond terwyl hy na asem snak en raak dan weer aan die slaap. Hierdie proses word honderde kere per nag herhaal. Daar is drie soorte apnee.

Sentrale apnee vind plaas wanneer die brein se asemhalingsbeheersentrum nie die bevel gee om gereeld asem te haal nie. Met obstruktiewe slaapapnee gaan die boonste lugweg aan die agterkant van die keel in werklikheid toe, wat die beweging van lug versper. Gemengde apnee is ’n kombinasie van die twee en word die meeste gediagnoseer. Ongeag aan watter vorm van apnee ’n persoon ly, hy kan uiteindelik voel soos iemand wat elke nag die hele nag lank wakker bly!

Slaapapnee kan baie gevaarlik wees, want lyers kan hulle bewussyn verloor terwyl hulle by die werk of agter die stuurwiel is. Hulle kan hoë bloeddruk en ’n vergrote hart hê, asook in groter gevaar verkeer om ’n beroerte of hartaanval te kry. Dr. William Dement van die Stanford-universiteit skat dat 38 000 Amerikaners elke jaar sterf weens die uitwerking van slaapapnee op die hartvatstelsel.

Hoewel slaapapnee die algemeenste voorkom by mans wat oorgewig en ouer as 40 is, kan mense van enige ouderdom daaraan ly, selfs jong kinders. Dit kan op verskeie maniere behandel word—maar dit moet onder die toesig van ’n mediese slaapspesialis geskied. Die doeltreffendste niechirurgiese behandeling vir obstruktiewe slaapapnee is die gebruik van ’n toestel wat voortdurende positiewe lugwegdruk handhaaf. Die pasiënt dra snags ’n masker oor sy neus, en ’n drukreguleerder (wat deur ’n geneesheer gestel word volgens die pasiënt se behoeftes) voorsien net die regte hoeveelheid lug om apnee te voorkom. As dit nie die toestand regstel nie, is daar verskeie chirurgiese opsies, insluitende die gebruik van laser of radiofrekwensiegolwe om oortollige weefsel uit die keel te verwyder.

Narkolepsie

Nog ’n slaapversteuring wat mediese behandeling vereis, is narkolepsie—’n neurologiese toestand wat gekenmerk word deur ’n onweerstaanbare drang om gedurende die dag te slaap. Buck het byvoorbeeld altyd lomerig gevoel. Hy het soms skielik aan die slaap geraak, selfs gedurende belangrike vergaderinge. Hy het sleutels in sy hand begin hou sodat wanneer dit gebeur die geraas van die sleutels wat die vloer tref, hom wakker sou maak. Toe het hy katapleksie ontwikkel—’n toestand wat hom lam in die bene laat voel en laat neerslaan het wanneer hy opgewonde geraak het. Daarna het hy simptome van slaapverlamming gekry en soms ook gehallusineer net voordat hy aan die slaap geraak het.

Narkolepsie begin gewoonlik tussen die ouderdomme van 10 en 30. Lyers ontwikkel soms sogenoemde outomatiese gedrag, waartydens dit lyk of hulle normaal optree maar nie die verloop van lang periodes van tyd onthou nie. Die tragedie van hierdie siekte is dat jare dikwels verbygaan voordat dit gediagnoseer word, terwyl mense dink dat die slagoffer lui, verstandelik vertraag of eienaardig is. Tans word dit as ongeneeslik beskou, maar simptome kan met behulp van medikasie en aanpassings in die lyers se lewenswyse behandel word—met wisselende sukses. b

Ander slaapversteurings

Twee ander versteurings, wat soms saam voorkom, tas die ledemate regstreeks aan en lei tot chroniese slaaploosheid. Die een is “periodieke ledemaatbeweging”-steurnis, waartydens die bene en soms die arms gedurende slaap ruk en krampagtig saamtrek. Neem die voorbeeld van Michael. Toetse het getoon dat episodes van periodieke beenbewegings hom ongeveer 350 keer elke nag wakker gemaak het!

’n Ander versteuring is “rustelose bene”-sindroom, c waarin sensasies diep binne-in die beenspiere en knieë ’n sterk drang by die lyer laat ontstaan om sy bene te beweeg, wat hom gevolglik uit die slaap hou. Hoewel hierdie toestand soms met ’n gebrek aan oefening of swak sirkulasie verbind word, lyk dit of party gevalle met kafeïeninname verband hou. Dit is ook bekend dat alkoholinname die toestand soms vererger.

Bruksisme is ’n versteuring waartydens ’n persoon op sy tande kners of byt terwyl hy slaap. As dit gereeld gebeur, kan dit abnormale slytasie van die tande veroorsaak en die kakebeen baie seer laat word, wat tot ernstige slaaploosheid lei. Afhangende van hoe erg die probleem is, wissel die behandeling van ’n mondoperasie tot die dra van ’n mondskerm in die nag.

Hierdie kort oorsig van net ’n paar van die baie slaapverwante versteurings toon hoe gevaarlik dit kan wees om dit te ignoreer. Die behandeling daarvan is dalk eenvoudig of ingewikkeld, maar dit is dikwels noodsaaklik. As jy of ’n geliefde aan chroniese slaaploosheid lei of tekens toon van enige ernstige slaapversteuring, sal dit dalk verstandig wees om gou professionele hulp te kry. Al neem behandeling nie die probleem heeltemal weg nie, kan dit die risiko’s wat daarby betrokke is, aansienlik verminder en die situasie vir almal makliker maak om te verduur. Wanneer die Bybel se beloftes in die toekoms vervul word, ‘sal geen inwoner sê: “Ek is siek” nie’. Alle siektes sal heeltemal uit die weg geruim word wanneer God ‘alles nuut maak’.—Jesaja 33:24; Openbaring 21:3-5.

[Voetnote]

a Onreëlmatige, swaar apneesnorkery moet nie verwar word met die gewone ligte, ritmiese snorkery van baie mense nie—die grootste nadeel wat dit inhou, is dat dit ander in dieselfde slaapkamer wakker hou.

b Sien die Ontwaak! van 8 April 1991, bladsye 19-21, vir meer inligting oor narkolepsie.

c Sien die Ontwaak! van 22 November 2000 vir verdere inligting oor hierdie versteuring.

[Prent op bladsy 10]

Slaapversteurings moet onder die toesig van ’n geneesheer behandel word

[Prent op bladsy 10]

Snorkery kan ’n simptoom van slaapapnee wees

[Prent op bladsy 11]

Narkolepsie word dikwels met luiheid verwar

[Prent op bladsy 12]

Toestelle wat die lugwegdruk reguleer, kan slaapapnee help verlig