Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Waardes Ek was verbaas oor die stelling in die eerste paragraaf van die tweede artikel van die reeks “Wat het van waardes geword?” (8 Junie 2003). Dit het gesê: “Van die grootste geskenke wat ouers hulle kinders kan gee, is onvoorwaardelike liefde en ’n stel waardes, wat die ouers naleef.” Wanneer kinders en volwassenes optree asof hulle op mekaar se liefde geregtig is, sal waardes altyd agteruitgaan.

K. B., Verenigde State

“Ontwaak!” antwoord: Ons het die frase “onvoorwaardelike liefde” gebruik om te toon dat ouers hulle kinders nie die indruk moet gee dat hulle liefde vir hulle ’n flou of wisselvallige emosie is nie—met ander woorde dat hulle dit te eniger tyd kan weerhou omdat die kind êrens te kort skiet of dat die kind die ouer se liefde moet verdien deur alles perfek te doen.—Efesiërs 6:4; Kolossense 3:21.

Ek het gedink dat die laaste artikel in hierdie reeks besonder goed geskryf is. Die inligting is so eenvoudig, logies en aanmoedigend. Die foto is pragtig. Dankie vir sulke bemoedigende artikels.

M. P., Verenigde State

Water Dankie vir die artikel “’n Lewensbelangrike vloeistof—water” (8 Junie 2003). Hierdie artikel het ’n vetsugspesialis aangehaal wat voorgestel het dat gesonde mense agt tot tien glase water van 250 milliliter per dag moet drink. Maar as iemand hartversaking of verminderde nierwerking het, beveel dokters aan dat pasiënte nie te veel water drink nie.

T. A., Japan

“Ontwaak!” antwoord: Aanbevelings oor hierdie kwessie verskil. Party deskundiges sê dat minder water in sekere gevalle gedrink moet word. Dit sal verstandig wees om jou dokter vir verdere advies te raadpleeg.

Nageboortelike depressie Ek is ’n ma, en ek het ’n dierbare babadogtertjie wat net een jaar oud is. Ek het nog nooit Jehovah se hand so ná aan my gevoel soos toe ek die Ontwaak! oopgemaak en die artikel “Verstaan nageboortelike depressie” (8 Junie 2003) gelees het nie. Ek het nie genoeg woorde om my dankbaarheid vir hierdie artikel uit te spreek nie. Ek waardeer dit werklik om aan ’n organisasie te behoort wat liefdevol na elkeen van sy lede omsien. Baie, baie dankie!

M. G., Spanje

Blokkiesraaisel Dankie vir die Ontwaak! van 8 Junie 2003. Dit het iets waardevols bevat waarna ek altyd uitsien—die blokkiesraaisel! Ek is nagenoeg vier jaar lank een van Jehovah se Getuies, en ek het so te sê al die blokkiesraaisels gedoen wat in daardie tyd gepubliseer is. Dit is ’n uitstekende manier om die Skrif te leer ken. Hou aan met die goeie werk. Ek sien daarna uit om in die toekoms meer van julle blokkiesraaisels te doen!

K. G., Verenigde State

Sintuie Dankie vir die reeks “Jou wonderlike sintuie—Waardeer jy dit?” (8 Maart 2003). Ons sintuie help ons werklik om die lewe en ons omgewing te waardeer. Sulke artikels versterk ons liefde vir God. Dankie dat julle dit publiseer.

J. N., Burundi

Materialisme Ek wil julle graag bedank vir die artikel “Die Bybelse beskouing: Wat is materialisme?” (8 April 2003). Dit is waar dat baie mense vandag daarmee behep is om ryk te wees, en ongelukkig kan hierdie probleem Christene ook raak. Hierdie artikel het my gehelp om te verstaan wat materialisme is en hoe dit vermy kan word. Ek sal nou alles in my vermoë doen om op geestelike dinge te konsentreer en nie op materiële dinge nie. Baie dankie dat julle hierdie leersame artikel gepubliseer het!

Z. K., Rusland