Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer katte wild word

Wanneer katte wild word

Wanneer katte wild word

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

DIE roofdier sluip versigtig vorentoe, sy kop laag teen die grond, sy blik stip gerig op sy prooi. Hy bondel sy bene onder sy liggaam en gaan staan doodstil. Sy spiere bewe onder sy geelbruin pels. Dan, soos ’n pyl uit ’n boog, bespring hy sy verskrikte prooi. Die kat slaan sy kloue in sy slagoffer en pen hom teen die grond vas.

Hierdie stryd om lewe en dood speel hom nie in Afrika af nie, maar in Australië. Die ratse dier is nie ’n groot leeu nie, maar ’n klein lid van die katfamilie wat ’n wilde kat genoem word. In Australië is daar ongeveer 12 miljoen wilde katte in die tropiese oerwoude van die noordelike kaap, die yskoue hoogtes van die suidelike alpe en die skroeiende woestyne van die sentrale vlaktes.

Wat is ’n wilde kat?

Australië se wilde katte lyk soos huiskatte omdat hulle voorouers huiskatte was. Hulle pelse is dieselfde kleure—swart, wit, grys, gemmerkleurig—en het dieselfde patrone—wat kolle, soliede kleure of strepe insluit. Wilde katte ontwikkel egter ’n meer gespierde nek en skouers as huiskatte. Mannetjies weeg tussen drie en ses kilogram en die wyfies tussen twee en vier kilogram. Terwyl huiskatte meestal van mense afhanklik is, is wilde katte heeltemal selfversorgend en skugter vir mense.

Die voorouers van hierdie wilde katte het saam met die eerste Europese setlaars na Australië gekom, en gedurende die 19de eeu het katte oor die hele vasteland versprei. Baie katte het ontsnap en wild geword. Ander is gedurende die 1880’s doelbewus vrygelaat om die konynplaag te bekamp wat die weiding verwoes het. Die katte het hulle gou by hulle nuwe tuiste aangepas en een van die talrykste van al die diere geword wat na Australië gebring is. Vandag is daar wilde katte oral in Australië, asook op baie van die klein buite-eilande.

Uiters aanpasbare indringers

Wilde katte teel geweldig vinnig aan. ’n Wyfie sal geboorte gee aan ’n werpsel van tot sewe katjies voor sy ’n jaar oud is. Daarna sal sy tot drie werpsels per jaar hê, en elke werpsel sal uit vier tot sewe katjies bestaan. En sy sal gedurende haar hele lewe van sewe of agt jaar vrugbaar bly. As sy net drie vroulike en drie manlike kleintjies elke jaar kry en haar dogters dieselfde doen, het een wilde kat die potensiaal om in sewe jaar etlike duisende nakomelinge voort te bring.

Maar meer as getalle is nodig om in Australië se ongure klimaat te oorleef. Die katte jag dikwels in die aand, wanneer dit koel is, of vroeg in die oggend. Hulle vermy die hitte van die dag deur in hol boomstamme of in konyngate te slaap. Daarbenewens het wilde katte selfs die onherbergsaamste woestyne hulle tuiste gemaak omdat hulle nie water hoef te drink om te oorleef nie—hulle kan al die vogtigheid wat hulle nodig het, van hulle lewendige prooi se vleis kry.

Wilde katte het ook ’n aanpasbare dieet. Hoewel hulle konyn verkies, sê die Nieu-Suid-Wallis- Nasionale Parke en Natuurdiens: “Die katte maak jag op meer as 100 inheemse Australiese voëlspesies, 50 soogdier- en buideldierspesies, 50 reptielspesies en talle paddas en ongewerwelde diere.” En hulle het ’n gesonde aptyt. ’n Mannetjie sal elke dag tussen 5 en 8 persent van sy liggaamsgewig eet. As ’n wyfie kleintjies grootmaak, sal sy daagliks tot 20 persent van haar liggaamsgewig verorber. Op een afgesonderde eiland het net 375 wilde katte in slegs een jaar 56 000 konyne en 58 000 seevoëls geëet.

Die meeste van Australië se inheemse diere is maklike prooi vir ’n wilde kat. Volgens die omgewingstydskrif Ecos word wilde katte, weens hulle lewenswyse as jagters, verantwoordelik gehou vir “die beperkte welslae van programme om bedreigde soogdiere in die woestyngebiede van Australië te hervestig”.

Troeteldier of plaag?

Katte is al sedert die tyd van antieke Egipte gewilde troeteldiere. In Australië besit 37 persent van alle huishoudings ten minste een kat. Baie van hierdie katte is nie gesteriliseer nie, en ongewenste katjies word soms in nabygeleë bosse weggegooi, waar hulle tot volwassenheid groei, aanteel en die bevolking wilde katte verder vergroot.

Om te voorkom dat ’n geliefde troeteldier ’n omgewingsplaag word, beveel die Nasionale Parke en Natuurdiens in Australië die volgende aan: Hou jou kat by die huis, veral snags. Gee hom genoeg kos. Identifiseer jou kat met behulp van ’n halsbandjie, ’n naamplaatjie of ’n mikroskyfinplanting. Hang drie groot klokkies om jou kat se nek om wilde diere te waarsku. Laat jou kat steriliseer. Bou ’n katbestande heining om jou kat in die werf te hou.

Dit kos tyd en geld om al hierdie wenke toe te pas. Maar vir Australiese katliefhebbers is dit moontlik ’n klein opoffering.

[Prent op bladsy 20]

Een van Australië se 12 miljoen wilde katte

[Erkenning]

Joel Winter/NSW National Parks and Wildlife Service, Australia

[Foto-erkenning op bladsy 21]

With permission of The Department of Natural Resources and Mines